Debuutroman wat aangryp

Kristien Kruger
“Ek wil graag my deel doen om ons taal lekker te maak. Ek het nie my boek geskryf met hoë woorde of snaakse sinne nie. Ek het dit geskryf sodat almal dit kan lees.”

So beskryf die 30-jarige skrywer Anescka Thomas, haar debuutroman, Die Hoeke van ’n Wind, wat onlangs bekend gestel is.

“Ek wou graag iets skryf wat ek self sal wil lees. Groot dele van die boek is ook gebaseer op ervaringe in my eie lewe. Ek het meer die gevoelens wat ek ervaar het, eerder as net ’n woord-vir-woord-gebeurtenis daarin probeer sit. My hart lê oopgevou en bloeiend tussen daardie blaaie!”

Die boek handel oor ’n 18-jarige meisie wat pas met skool klaargemaak het. Die begin van haar grootmenslewe word egter onverwags gekniehalter en sy moet na haar drie jonger sussies begin omsien.

“Van die een skok na die volgende beland die vier sussies op ’n plaas buite Windhoek met ’n hele klomp onopgeloste familiegeheime. Sal Mia ooit agter die waarheid kom? Sy het soveel vrae. Sal sy liefde vind? Sal sy genoeg wees vir haar sussies? Sal die pyn ooit beter word? Sal daar ’n normale dag in haar lewe wees?” lui die lokteks agter op Anescka se roman.

Anescka vertel haar graad 1-onderwyser het destyds aan haar ouers gesê sy is ’n “droomkind” wie se kop altyd in die wolke was.

“Ek dink nie dit het al ooit verander nie en met daardie ingesteldheid pak ek die skryfproses aan.”

ANESCKA DIE SKRYWER

Anescka het op ’n klein dorpie in Suid-Afrika, Jan Kempdorp, grootgeword. Tydens haar radiografie-studies in Bloemfontein het sy haar trouman ontmoet – ’n Namibiër!

“Dit is hoe ek hier beland het! Dit was maar swaar aan die begin, maar tog het my man se groot familie my met ope arms verwelkom.”

Wanneer Anescka nie skryf nie, werk sy as radiografis en mammograaf in Windhoek, maar sy vind rustigheid op die plaas waar sy saam met haar man boer.

“Ek onthou dat ek as kind ’n paar keer probeer skryf het, maar onmiddellik weer belangstelling verloor het. Ek dink dit was omdat ek nooit gedink het ek sal goed genoeg wees nie.

Eers nadat ek getroud is en gemaklik by my nuwe werk was, het ek weer tyd gekry vir lekker lees en stories uitdink. Dit is toe dat ek stories begin skryf het oor my liefste troeteldier, Mossie my Pug.”

Ná Anescka die verhale van haar hondjie op papier vasgevang het, het sy besluit dit is tyd vir ernstiger stories en sy het aan haar roman begin skryf.

“Natuurlik het ek inspirasie uit ander skrywers geput. Skrywers soos Karin Slaughter, Mo Hayder, en as dit meer oor liefde gaan, het ek ’n boek van Susan Elizabeth Phillips gelees.”

Anescka is ’n kreatiewe siel wat graag haar passies met haar besige lewe wil integreer. Buiten vir skryf, geniet sy ook pottebakkery, teken, hekelwerk en die skep van kunswerke.

Anescka maak ook gebruik van die skuilnaam ‘Anescka Die Skrywer’.

“Ek noem myself so, want dit is al hoe ek genoeg selfvertroue het om aan te gaan. Dit is nie maklik om jouself bloot te stel aan die publiek en oop te wees vir kritiek nie. Tog wil ek dit so graag met mense deel. Daarom is dit net makliker om onder ’n tipe skuilnaam te werk.”

BEKENDSTELLING EN VERKOPE

Die Hoeke van ’n Wind is op 26 Januarie bekend gestel en Anescka is verbaas oor hoe goed die boek ontvang is.

“Volgens my standaarde verkoop die boek fantasties. Natuurlik het ek verwagtinge en ’n ‘gameplan’, maar dit gooi ek amper elke dag by die venster uit en sit in dankbaarheid vir almal om my. Elke share, like en KOOP is amazing!”

Sy het ook besluit om haar boek self te publiseer – ’n roete wat haar vreesbevange gemaak het. Sy kon haar eie kop volg en met die hulp van haar redigeerder kon hulle ’n boek met “baie hart en gevoel” saamstel.

“Dit was ’n lang proses met baie kinkels, maar ek is so dankbaar vir elke stukkie daarvan.”

Anescka kan op [email protected] gekontak word as jy haar debuutroman op jou boekrak wil hê.

Sy wil aspirant-skrywers motiveer om hul stemme te gebruik, sê Anescka.

“Jou stem maak saak.”

Al wat jy nodig het, is ’n storie, pen, papier en uithouvermoë.

“Daar is mense wat dink ons taal is besig om uit te sterf. Ek het dit op ’n manier gebruik as motivering om te wys dit is nie so nie. Hier is bitter baie Afrikaanse mense wat nes ek lief is vir stories.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!