Dis die mooi rok, dis die rooi rok

Namibië se Linda betower modewêreld
Linda Venter het reeds in haar eerste jaar as 'n mode-omtwerpstudent naam gemaak toe sy 'n gesogte toekenning gewen het en haar rokke twee keer op koerante se voorblaaie verskyn het.
Elvira Hattingh
“Ek sien myself oor vyf jaar van nou terug op my tuisbodem, Namibië, besig om ’n opkomende plaaslike mode-ateljee te bestuur.”

So gesels Linda Venter, ’n Namibiese meisie wat tans as ’n eerstejaar aan die North West School of Design (NWSD) op Klerksdorp studeer.

Twee van haar rok-ontwerpe by die onlangse Platinum Modefees het voorbladnuus in Suid-Afrikaanse media gehaal, met een ontwerp wat ’n gesogte prys verower het.

“Ek is aangenaam verras oor die positiewe belangstelling wat ek tot dusver vir my ontwerpe ontvang het. Baie dankie vir die geleentheid om met my landsmense te kan deel waarmee ek besig is!” het sy gister in ’n onderhoud met Republikein gesê.

Venter het die Showstopper of the Year-toekenning onder die eerstejaars gewen vir ’n pers rok wat die doodsonde “trots” uitbeeld. Die tema was “Die sewe doodsondes”, met elke kleur wat ’n ander sonde verteenwoordig het.

“Ons moes avant garde-uitrustings ontwerp met ’n korset as ’n basis, ’n bykomstige romp of broek asook ’n selfgemaakte kopstuk. Ek het die toekenning vir die beste algehele puntetelling onder my eerstejaarsgroep gewen,” het Venter verduideik.

ROOI ROK

Dit was egter veral die rooi rok wat aandag getrek het.

“Die rooi rok was vir die spesiale kategorie Principal’s Surprise – tydens die NWSD se Platinum Modefees – ontwerp.

“Hierdie is die enigste ontwerp wat nie voor die vertoning deur enige iemand behalwe die ontwerper self en die model gesien mag word nie. Dit sluit die hoof van die modeskool in en vandaar ook die kategorie se naam,” sê Venter.

Sy het die rok ontwerp onder leiding van die NWSD-alumnus Kobus Rautenbach, “wat ingestaan het as my mentor en soms motiveringspreker!” sê sy.

Venter se ontwerpe is op die voorblad van beide die Klerksdorp Record asook die Klerksdorp Record Midweek gepubliseer.

“Indien my vyfjaarplan meer soos ’n tienjaarplan lyk, sal ek met graagte vir ’n paar jaar mode-ontwerp vir studente op tersiêre vlak by ’n modeskool wil aanbied,” vertel sy oor haar toekomsplanne.

NAGRAADSE STUDIES

Venter sê sy was tot in graad vyf by die Oranjemund Private School (OPS), waarna sy haar hoërskoolloopbaan en matriekjaar in 2015 by Tsumeb Gimnasium voltooi het.

Sy het haarself aanvanklik as ’n verpleegkundestudent by die Noord-Wes Universiteit (NWU) op Potchefstroom ingeskryf, maar aan die einde van haar eerste jaar besluit om haar studierigting na ’n BSc-graad in verbruikerswetenskappe te verander.

Hier is sy blootgestel aan naaldwerk en mode-ontwerp op intreevlak. “Ek het toe ná die voltooiing van my BSc-graad, en met my ouers se ondersteuning, besluit om verder te spesialiseer in ’n driejaardiploma in mode-ontwerp by die North West School of Design op Klerksdorp,” het Venter vertel.

Haar raad aan jong mense is om hul passie te volg.

“Moenie, soos ek het, jou net vasstaar in die realiteite van ons land se arbeidsmark wanneer jy jou loopbaankeuses maak nie.

“As jy ’n passie vir iets soos mode-ontwerp het, gaan studeer dit! Of begin vir jouself nuwe vaardighede aanleer!

“Ek het ná skool vir jare na my roeping in ’n meer ‘lewensvatbare’ loopbaanrigting gesoek, omdat ek bang was ek sou mode studeer en nêrens daarmee kon kom nie. Hoe meer moeite en entoesiasme jy in enige onderneming insit, hoe groter is die kanse dat jy ’n positiewe opbrengs gaan hê!

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!