Eerste plaaslike opera op die planke

Maak debuut vandag en môre
Die projek het die potensiaal om 'n nuwe hoofstuk in Namibiese klassieke musiek te skep, asook om dit te bewaar en verder te ontwikkel.
Namibië se eerste opera maak sy debuut vandag en môre by die Nasionale Teater (NTN) in die hoofstad.

In dié opera getiteld Chief Hijangua wat in Otjiherero en Duits opgevoer word, sal jong Namibiese sangers van die Vox Vitae-koor, sowel as internasionale musikante van Duitsland en Suid-Afrika, te sien wees.

Chief Hijangua – gekomponeer en gedirigeer deur Vox Vitae Singers se stigter, Eslon Hindundu – is gebaseer op ’n verhaal wat deur mondelinge tradisie oor geslagte heen in Namibië oorleef het.

Die intrige handel oor Hijangua, ’n Namibiese prins, se tragiese en dramatiese reis. Die hartgebrokene verlaat sy stam en ontmoet ’n jong Duitse meisie wat hom red en later op hom verlief raak. Die meisie se gemeenskap keur egter nie hul verhouding goed nie.

Hijangua word uitgewerp en aangesê om terug te keer na sy vaderland. Sy terugkeer na sy stam word egter gevlek deur ellende, meer hartseer, drama en dood. Die span wat die opera saamgestel het, is geïnspireer deur Namibië se koloniale geskiedenis en tradisionele volksverhale.

Met ’n rolverdeling van meer as 100 mense sal Sakiwe Mksoana, Henrike Henoch, Natasha Ndjiharine, Monde Masimini, Rheinaldt Tshepo Moagi, Galilei Njembo en Yonwaba Mbo van die rolle in die opera vertolk.

“Hierdie projek het die potensiaal om ’n nuwe hoofstuk in Namibiese klassieke musiek te skep, asook om dit te bewaar en verder te ontwikkel,” het Hindundu gesê.

“Ons het die vooruitsig gestel om daarmee die liefde vir musiek in die harte van die Namibiese gemeenskap te laat herleef en die reis wat Namibiërs vir die huidige en toekomstige geslagte geneem het, te bewaar en daaroor te besin.”

Bank Windhoek – die hoofborg van die produksie – se hoof van korporatiewe maatskaplike beleggings, borgskappe en geleenthede, me. Bronwyn Moody, het gesê hulle glo in en ondersteun die ontwikkeling van die kunste.

“Om ’n Namibiese opera te komponeer en te hê, kan baie musikante inspireer en baie nasies bymekaarbring. Om die opvoering van die eerste Namibiese opera te ondersteun is dus ’n groot voorreg. Dit bewaar die skat van klassieke Namibiese volksmusiek,” het sy gesê.

“Ons moedig die hele Namibië aan om die eerste Namibiese opera in lewende lywe te ervaar.”

Die Chief Hijangua-opera is ontwikkel met die hulp van ’n internasionale span kunstenaars rondom Hindundu. Hy word ondersteun deur die Duitse regisseur Kim Mira Meyer en die Duitse skrywer Nikolaus Frei.

Die opera bestaan uit drie fases. Ná die première in Windhoek word ’n optrede in München, Duitsland, ook vir 2023 beplan. Kaartjies is by Pick n Pay-winkels beskikbaar en via Webtickets en kos N$100 vir studente, N$250 vir die publiek en N$500 vir BBP’s.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer