Esperansa wil Namibië trots maak

Michael Kayunde
Een van Namibië se opkomende sterre in die modelwêreld, Esperansa Martins, maak gereed om haar talente weer eens na die internasionale verhoog te neem.

Ná haar sukses by die Miss Petite-kompetisie in Mei vanjaar in Maleisië, berei Esperansa nou voor vir die internasionale Miss Asia Pacific-kompetisie in Manila in die Filippyne. Dié kompetisie vind vanaf eerskomende Saterdag tot 8 Oktober plaas.

“Die Miss Petite Global in Maleisië het my blootgestel aan die internasionale modelwêreld, wat gewys het hoe skoonheidskompetisies anders benader word as waaraan ons tuis gewoond is,” het sy verduidelik.

“Ek het besluit om hierdie pad te volg, want ek moet iets groter bereik. Mens stop nooit by jou eerste poging nie en Miss Petite Global was my eerste kompetisie ooit.”

Esperansa het die Afrika-titel in Maleisië verwerf en meen dit was ’n deurslaggewende oomblik in haar loopbaan wat haar na nuwe hoogtes geneem het.

“Om die Afrika-titel te wen het my selfvertroue gegee. Ek het sedertdien ’n paar jong meisies geleer hoe om modelwerk te doen en ook met hulle te deel wat ek geleer het.

“Met ’n bevolking van net sowat drie miljoen Namibiërs, herinner dit my dat ek nie alleen is nie. Ek het ’n nasie wat na my opkyk en ek moet daardie verantwoordelikheid ten volle aanvaar.”

BORGSKAPPE

Hoewel finansiële uitdagings Esperansa in die gesig staar en sy tans besig is om geld in te samel om haar uitgawes vir die kompetisie te kan dek, is sy vasbeslote om hierdie globale platform te gebruik om Namibië trots te maak.

Sy meen dat die ondersteuning van borge nie net haar loopbaan sal bevorder nie, maar ook toekomstige generasies van Namibiërs sal inspireer.

Volgens haar sal sy dankbaar wees vir enige finansiële bystand om te gebruik vir haar reise en ander uitgawes rakende die komende kompetisie.

Esperansa sien uit na die Miss Asia Pacific-kompetisie en bly op haar doelwitte gefokus.

“Hierdie geleentheid gaan nie net oor blootstelling nie. Ek sien potensiële geleenthede om geskiedenis te maak.

“Ek het soveel moeite gedoen en ek glo ek kan een van die mees erkende Namibiese internasionale modelle word, wat my geliefde land met trots verteenwoordig.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer