Gevierde kunstenaar word 95

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die lewensverhaal van een van Namibië se voorste kunstenaars wat uit hout die mooiste beelde en panele kon kerf, lees soos ’n storieboek.

Die mooi, blonde nooi uit Duitsland wat saam met haar ma haar geboorteplek in Döbeln in die voormalige Oos-Duitsland agtergelaat het om op ’n plaas naby Gobabis te kom bly.

Ruth Wolter het jare later na Suid-Afrika verhuis waar sy volgende Vrydag haar 95ste verjaardag vier. Hoewel sy volgens haar seun Martin wat saam met haar woon, nie meer haar kuns beoefen nie, is haar nalatenskap as kunstenaar steeds in van private versamelings tot panele in die voormalige kabinetsgebou te sien.

“(Haar kuns) was harde, fisieke werk en sy het geen kragaangedrewe masjiene hiervoor gebruik nie en alles met die hand gedoen,“ vertel Martin uit Suid-Afrika.

Volgens hom is hy en Ruth steeds baie lief vir Namibië en het hulle wonderlike herinneringe aan die land waar sy ma ook sy stiefpa, Herman Steyn, ontmoet het. Steyn is verlede jaar dood.

Ruth se eerste kennismaking met Afrika was die stories van een van haar ooms wat gereeld die huidige Namibië besoek het. Sy vind ’n penvriendin wat op ’n plaas naby Gobabis woon en die briefwisseling wat weer lei tot ’n brief van ’n plaasboer naby die dorp met wie sy begin korrespondeer.

Hy sou haar later nooi om Duitsland vir sy plaas te verruil en betaal ook hul reiskostes vir ’n vlug na London, ’n bootreis van drie weke van Southhampton na Kaapstad, ’n treinrit van drie dae van Kaapstad na Windhoek en ’n dag per trein na Gobabis.

In 1950 begin die 22-jarige Ruth ’n nuwe lewe op die plaas waar sy na die lewende hawe omsien en haar loopbaan as houtkerwer begin. Dis ook in hierdie tyd wat sy haar tweede man, Herman, by ’n skoolgeleentheid ontmoet. Hul paadjies skei egter omdat hy reeds verloof was. Ruth erf later die plaas en haar unieke kunswerke pryk in die versamelings van banke, versekeringsmaatskappy en staatsinstellings.

Sy en haar gesin verhuis in 1977 na Suid-Afrika waar haar kunswerke nou deel is van private versamelings en op die mure van skole en wynkelders pryk.

Ná haar man se dood kronkel haar lewenspad weer tot by Herman wat sy 27 jaar gelede tydens haar tyd in Namibië ontmoet het. Ruth en Herman was tot en met sy afsterwe verlede jaar getroud.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!