Glaucio reik na die sterre

Namibië se ontluikende operaster, Glaucio Ngaca, het onlangs uit Hannover in Duitsland teruggekeer, waar hy meesterklasse bygewoon het en aan klassieke konserte deelgeneem het. Terwyl hy daar was, het hy ook ‘n aantal oudisies bygewoon en is gekies om deel te neem aan ‘n maandlange opleidingsprogram wat deur die Lyric Opera Studio Weimar (LOSW) in dié geskiedkundige Duitse stad aangebied sal word.

Die kursus vind vanaf 27 Junie tot 24 Julie plaas en kulmineer in die vertolking van ‘n rol in ’n opera wat volledig opgevoer sal word – in Glaucio se geval die rolle van “Sarastro” en “Der Sprecher” in Mozart se opera, Die Zauberflöte.

Om dié kursus by te woon sal egter nie goedkoop wees nie. Dus, om terug na Duitsland te keer en om die klasgeld te betaal, het hy 'n GoFundMe-geldinsameling begin.

Die LOSW se opleidingsprogram is ontwerp vir opkomende professionele musikante wat ‘n loopbaan in Europa oorweeg, met ‘n fokus op die Duitse teaterbedryf. Die program help sangers ontwikkel deur intensiewe daaglikse Duitse taal- en voordrag-afrigting, opleiding in sang, beweging, die repetisieproses en rolstudie, sowel as meesterklasse, individuele lesse en toneelkunsonderrig.

Fooie beloop 4 450 euro vir klasse, verblyf en twee maaltye, vyf dae per week. Reiskoste en ander daaglikse uitgawes is egter nie ingesluit nie.

LOSW se streng, maandlange program is uniek aan opera-opleiding aangesien dit sangers ‘n realistiese siening gee van wat dit vat om die Duitse teaterwêreld te betree. Elke sessie het slegs plek vir 28 deelnemers, wat beteken elke student geniet ‘n hoë mate van individuele aandag.

Daarbenewens bied die program omvattende loopbaanvoorbereiding aan deelnemers, wat ewe veel aandag aan praktiese onderrig, verhoogopleiding, individuele afrigting en loopbaanbestuur gee.

Glaucio is sedert 2015 ‘n student aan die Namibiese Kollege van die Kunste (Cota), waar hy studeer vir ‘n lisensiaat in sanguitvoering, wat gelykstaande is aan ‘n honneursgraad.

Volgens Cota-rektor, Angelika Schröder, het Glaucio ekstra oefentyd ingesit om sy tegniese vaardighede te slyp.

“Hy het ook aan talle Cota-uitvoerings deelgeneem, insluitend die Barokfees, die Concertofees en die Christmas Memories-konsert.”

Sy het bygevoeg hy het reeds verskeie werke oor Afrika-musiek buite Cota gekomponeer, werk aan sy lisensiaat in musiekteorie en is tans besig om ‘n opera te skep.

“Hy is sonder twyfel ‘n talentvolle jong man met ‘n blik toekoms,” het sy gesê.

Vir meer inligting, kan Glaucio by [email protected] gekontak word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!