Hannes van Wyk kom kuier in Namibië

Sielskos vir die hele gesin
In sy praatjie laat val akteur en Kwêla-aanbieder die kollig op die vroue wat sy lewe aangeraak het, of wat hom aangryp en inspireer.
Sy spontaneïteit, spitsvondigheid en sjarme maak van Hannes van Wyk ‘n baie gewilde en geliefde persoon en by damesbyeenkomste kan jy nie vir ‘n beter en meer inspirerende spreker vra nie.

Netwerk, met die ondersteuning van Nammed Mediese Fonds, bring dié gewilde aanbieder en akteur na Namibië vir sy motiveringspraatjie, Sielskos, wat hy op 7 Oktober in Windhoek en op 8 Oktober in Walvisbaai sal aanbied.

Hannes word onder andere beskryf as sjarmant, stylvol, veelsydig, snaaks en passievol. Die Kwêla-aanbieder kuier weekliks in kykers se sitkamers en is vir jare al ‘n bekende gesig op televisie en die verhoog. Daarom is dit nie vreemd dat dit voel of jy hom goed ken en sommige sê selfs dat al het hulle hom nog nie ontmoet nie, voel hy soos ‘n goeie vriend.

Hy het bekendheid verwerf as Krynauw in Egoli: Plek van Goud en daarna het hy rolle in reekse en flieks ingeryg soos in die destydse gewilde Torings en Manakwalanders. Dan was daar ook reekse soos Vallei van Sluiers, 7de Laan, Bolandmoorde en Die Bijl. Onlangse reekse sluit in Boekklub, Waterfront en DanZ. Hy het ook al in meer as 40 verhoogproduksies gespeel, waaronder “Sê groete vir ma”, wat by elke groot kunstefees in Suid-Afrika voor uitverkoopte sale opgevoer is – beslis ‘n hoogtepunt in Hannes se loopbaan.

Pleks daarvan om ‘n nalatenskap as briljante akteur te laat, is dit vir Hannes belangriker om as ’n goeie mens onthou te word.

“Mense moet my onthou omdat ek omgee en omdat ek net myself was.”

In Sielskos laat val hy die kollig op die vroue wat sy lewe aangeraak het, of wat hom aangryp en inspireer. Dit is ‘n gesprek vol deernis, humor en wysheid wat enige vrou se hart sal verbly. Hy raak aan mense se harte en emosies, maar sorg ook vir lekker lag en humor. Dit is ’n praatjie vir elke lid van die gesin en elkeen wat ‘n ma het, gehad het of sélf ‘n ma is, mans en vroue, moet hierdie boodskap hoor.

Vroue wat die praatjie bygewoon het se reaksie was: “Fantasties”, “Presies wat ons vrouens wil hoor”, “Ai, hoekom was my man en kinders nie hier nie?”, “Hoekom het ons hom nie al lankal genooi nie?”

In Windhoek gesels die immergewilde en pittige Sanet Prinsloo saam oor “regte” kos, terwyl Hannes praat oor dít wat die siele voed.

Elizma Theron, bestuurder van Netwerk, sê hulle probeer al vir twee jaar om vir Hannes in Namibië te kry. Reëlings was reeds ver gevorderd vir ‘n besoek, tot die pandemie dié planne in die wiele gery het.

“Ons is dus verheug om hom uiteindelik hier te ontvang en sien baie uit na sy vertonings! Ons nooi almal om saam te kuier met die man wat reeds vir almal soos ‘n ou vriend voel.”

Verversings is by die N$250-kaartjie ingesluit en is by www.webtickets.com.na of Pick ‘n Pay-winkels beskikbaar. Nammed-lede kry ‘n spesiale 10%-afslag op hul kaartjies – ledekaarte moet by ingang gewys word.

Hannes se vertonings in Namibië word geborg deur Nammed, Checkers Namibia, Belvedere Boutique Hotel en Flamingo Villas Boutique Hotel. Enige navrae kan gerig word aan [email protected].

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!