Heil die leser, heil die boek

’n Heildronk op Krit
Kahlil Gibran het gesê boeke kombineer ons behoefte aan rede en hartstog. Vir byna 45 jaar word 'n kritiese gesprek, gepas genoem Krit, deur 'n groep passievolle lesers met hartstog vir boeke gevoer. Susan Alexander, een van die getrouste Kritters, vertel hoe 'n slypskool na 'n gesprek verander het.
Henriette Lamprecht
Susan Alexander –

Ek vra myself dikwels af: wat is die maatstaf om as ’n suksesvolle organisasie bestempel te word?

En ek is seker daar is verskeie kriteria wat mens kan lys; maar vir my is een daarvan – dat so ’n organisasie die toets van die tyd deurstaan het.

Volgende jaar bestaan Krit 45 jaar! Soos iemand ’n ruk gelede vir my gesê het: “Toe was ek nog nie eens gebore nie!”

In 1981 ontstaan daar by Die Windhoekse Onderwyskollege ’n skryflaboratorium na die voorbeeld van DJ Opperman se laboratorium op Stellenbosch, om jong skrywers met hul tekste te help.

Aan die stuur van hierdie werkwinkel of slypskool is befaamde skrywer, digter en akademikus: George Weideman.

Ia van Zyl, Departementshoof by die Afrikaanse Departement, dra die fakkel verder en die werkwinkelkonsep verander na ’n gesprek; ’n kritiese gesprek, oor resente Afrikaanse tekste.

Vanaf hierdie tyd belewe ons die insette van formidabele figure soos George Weideman, Chris Lombard, Ia van Zyl, Hannes Horne wat praat oor Pieter Fourie se drama, Die koggelaar.

Daardie tyd was die digter, Marius Crous, nog in Windhoek en hy bespreek Nadine Gordimer se boek: My son’s story. Piet van Rooyen lei boekgesprekke in. En ook my oudste en getrouste Kritters bespreek boeke en doen dit steeds: Emma Kirchner, Ingrid van Graan en Leona Compion. Nicoline saam met Jan Woest doen etlike onvergeetlike boekgesprekke oor onder meer Etienne van Heerden se werke.

Ons Duitse kollega en vriendin, Marianne Zappen-Thomson met haar besondere liefde vir die politiek, geskiedenis en Afrikaans, bespreek onder meer Antjie Krog se Begging to be black, Brink se Anderkant die stilte en meer onlangs die werke van Zirk van den Berg. Omdat sy baie geïnteresseerd is in die proses wat ’n werk deurgaan wanneer dit vertaal word, bespreek sy meer as

een van Deon Meyer se werke – die oorspronklike tekste, maar ook wat gebeur wanneer hierdie opwindende, eg Suid-Afrikaanse speurdramas in Duits vertaal word. Sy het hegte kontak met die skrywer gemaak oor die jare.

Ons is bevoorreg om die afgelope jare jong bloed in ons geledere te verwelkom, o.a. Annika van der Linde, dosent in Afrikaans by Unam. Omdat sy in haar PhD-studies werk met Breyten Breytenbach, het sy onder meer al van sy gedigte en filosofie met die Kritgroep gedeel.

Ons bespreek nou en dan ook ’n Engelse boek. Ons het onder meer al minstens twee maal van J.M. Coetzee se boeke bespreek: Waiting for the Barbarians en meer onlangs, Disgrace waarmee Coetzee die Nobelprys vir Letterkunde verwerf het. Russell Fowler wat ’n passievolle Coetzee-aanhanger is, lei hierdie gesprek vir ons in.



VOLGENDE GELEENTHEID

Met ons volgende Kritgeleentheid die 18de Maart, bespreek Ingrid van Graan The House of Doors deur Tan Twan Eng.

Behalwe die gesprek oor boeke, kry Krit ’n hupstootjie toe Bank Windhoek so van 2010 af, as deel van hulle kultuurondersteuningsplan onder die leiding van Aldo Behrens, aanbied om Kritgeleenthede te borg. Hierdie borgskap stel ons in staat om nie net baie feestelike byeenkomste te hou nie, maar om ook skrywers te kry wat ons met hulle teenwoordigheid vereer.

Op hierdie manier het ons in 2011 vir Irma Joubert by ons gehad. Ons het vir Marita van der Vyver gekry. En ons sal nooit die besoeke van Antjie Krog en Andre P Brink vergeet nie!

George Weideman stuur 40 jaar gelede – toe ons ons 20-jarige bestaan vier – sy gelukwensings aan Krit en sluit af met die vers:

Vir die kritiese leser



Van vele woorde en aan boeke maak

– Is al gesê – kom g’n einde nie,

net soms verdriet en partymaal wraak;

wyse woorde, ja, want skrywers is nou maar eenmaal egosentries, hipokondries en liggeraak



In Ia van Zyl se gelukwensings vir dieselfde geleentheid skryf sy oor die heerlike ervarings by Krit-aande.

“Daar was dikwels verskil van mening – soos hopelik vandag ook nog – wat tot lewendige

gesprekke gelei het.”

Sy verwys na deurlugtige gespreksgenote soos Hans du Plessis, Charles Malan en George Weideman. ’n Oudkollega by die Engelse departement, Jan Smuts, skryf van sy ervaringe van Krit “where the talks and conversation and food and wine mixed so pleasantly.”

Ons kry gelukwensings van Daniel Hugo, Hannes Horne en Marius Crous.

Christo Lombard stel by hierdie geleentheid ’n heildronk in en verwys onder meer na Kahlil Gibran wat sê: Boeke kombineer ons behoefte aan rede en hartstog. Mag die vroue (EN mans) vir ten minste nog twintig jaar voortbou op die trotse rekord van Krit. Krit help hulle om groot dinge, wesenlike dinge aan die gang te hou en om die dinge te kombineer, te integreer, te praktiseer, nl. vriendskap, stories, geluk, verstand, hartstog, skoonheid en die goddelike.



VIER FEES OP GLYNBERG

Toe Krit 40 jaar bestaan, vier ons fees – op Glynberg – waar ons ook ons 20ste bestaansjaar gevier het. ’n Groot aantal van die gaste is stigterslede, maar daar is ook boekliefhebbers wat oor die jare by ons aangesluit het.

Ek sê in my afsluitingswoorde by hierdie geleentheid: If you care for a thing enough, it takes on a life of its own. . . And isn’t the whole point of things – beautiful things –that they connect you to some larger beauty? . . . if a painting really works down in your heart and changes the way you see, and think, and feel, you don’t think, ‘oh, I love this picture because it’s universal.’ ‘I love this painting because it speaks to all mankind.’

You see one painting, I see another, the art book puts it at another remove still, the lady buying the greeting card at the museum gift shop sees something else entire, and that’s not even to mention the people separated from us by time – four hundred years before us, four hundred years after we’re gone – it’ll never strike anybody the same way and the great majority of people it’ll never strike in any deep way at all but – a really great painting is fluid enough to work its way into the mind and heart through all kinds of different angles, in ways that are unique and very particular. (Uit: The Goldfinch deur Donna Tartt)

Audrey Blignault skryf: Die behoefte aan ’n storie lê diep in ons almal. ’n Mens se eie biblioteek is jou beste verskansing teen eensaamheid, teen die aanslae wat die lewe bring.

Om aan te sluit by Donna Tartt sê Audrey: dat die letterkunde die besef by ons tuisbring dat alle mense, hoe hulle ook van mekaar verskil, deur die band van hul menslikheid met mekaar verbind is.



KRITGESPREKKE

My vreugde in die woord, in die boek, wil ek elke dag van my lewe met iemand deel. Hierdie iemand was nou al vir 40 jaar elke persoon wat saam met my Kritgesprekke bygewoon het. Hoe het ons mekaar geïnspireer en opgehef en deur moeilike tye bygestaan.

Ek sê in my aanvangsparagraaf dat daar verskeie kriteria is wat die sukses van ’n organisasie kan bepaal, maar ek glo dat daar ook ’n element X is wat niemand presies kan vaspen nie . . . is dit die welwillendheid van die Windhoek Oos-gemeente wat hul fasiliteite vir ons aanbied? Is dit die vriendskapsbande wat oor byna 45 jaar gesmee is? Die deeglike voorbereiding vir die gesprek oor resente en soms ook ouer literêre tekste? Die kos . . . die wyn?

Ek weet net een ding: dat ek ’n glasie lig in hierdie jaar waar ons ook vier dat Afrikaans al 100 jaar as amptelike taal gebruik word – ’n heildronk op al die magiese elemente wat Krit so besonders maak.

Saam met Daniel Hugo: Lank lewe die leser! En lank lewe die boek!

(Indien enigiemand belangstel om ons Kritgeleenthede by te woon, stuur ’n e-pos na [email protected] en ek plaas jou op ons verspreidingslys. Met ’n selfoonnommer kan ek jou ook op ons WhatsApp-groep plaas.)

Kommentaar

Republikein 2025-03-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer