Kasi Vibe kry nuwe elemente

tjil vanjaar se mediavennoot
Die ooreenkoms het ten doel om die ervaring vir feesgangers te verhoog deur 'n wyer teikengehoor deur middel van uiteenlopende mediaplatforms te bereik.
Michael Kayunde
Michael Kayunde - In ’n poging om die immergewilde Namibiese fees Kasi Vibe Namibia op ’n wyer platform te bemark en sodoende meer feesgangers te lok, is tjil, die vermaaksegment van Republikein se susterkoerant Namibian Sun as mediavennoot vir 2024 nadergetrek.

’n Verteenwoordiger van Kasi Vibe Namibia, Emma Vilho, sê die ooreenkoms het ten doel om die ervaring vir feesgangers te verhoog deur 'n wyer teikengehoor deur middel van uiteenlopende mediaplatforms te bereik.

Die organiseerders van Kasi Vibe Namibia is veral opgewonde oor die feit dat die ooreenkoms die potensiaal het om ’n eenstop-spilpunt te wees waar alles oor die fees beskikbaar is.

Met vanjaar se fees wat om die draai is, kan feesgangers uitsien na beduidende veranderinge en opwindende nuwe geleenthede wat deel van die program sal vorm.

Die fees vind van 4 tot 6 Oktober by die Sam Nujoma-stadion plaas, met vars elemente wat by die feeskonsep gevoeg word om dit ’n vars, nuwe kinkel te gee.

Kasi Vibe Namibia sal voortaan een keer per jaar plaasvind, met die fokus op ooreenkomste soos diè met tjil wat deel daarvan vorm.

Vanjaar se fees vind plaas onder die vaandel “Bringing the Kasi Back – International Edition”, en beloof ’n ryk, kulturele ervaring wat oor drie dae strek en alles van kuns tot musiekopvoerings insluit.

’n Hoogtepunt is die teenwoordigheid van internasionale kosuitstallers wat aan feesgangers die geleentheid sal bied om op ’n uiteenlopende kulinêre reis te gaan.

Volgens Vilho is die beplanning vir vanjaar se fees goed op dreef en kaartjies is beskikbaar by Webticket en ook by Pick n Pay-takke.

Sy sê die organiseerders is veral opgewonde oor aansoeke vir stalletjies, met veral eienaars van klein- en mediumondernemings wat graag die geleentheid wil benut.

Vilho sê dié uitstallers beskou dit as ’n baie belangrike stap vir hul ondernemings om met behulp van die fees se platform te groei.

Hou die media dop vir die jongste nuus oor vanjaar se Kasi Vibe Namibia

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer