Klassieke klanke voer jou mee

Tanja Bause
“Ons hoop om ook in die toekoms veral vir jongmense die geleentheid te kan bied om op ’n verhoog te staan. Ons hoop om met Symphony of the Soul ’n verhoog vir opkomende jong klassieke musikante te skep,” het Nythen Dien (27) gesê.

Hy en Trudy Gertze (29) is die twee klassieke musikante agter Saterdagaand se kontemporêre klassieke konsert Symphony of the Soul wat om 18:00 by die Kollege van die Kunste (Cota) plaasvind.

Trudy is in Windhoek gebore, maar is op die ouderdom van drie maande plaas toe gestuur om by haar ouma en oupa te gaan bly.

“Ek het daar grootgeword en musiek was nog altyd deel van my lewe. My oupa het in die aande sy trekklavier uitgehaal en ek het gesing. Toe ek 15 jaar oud geword het, het ek by die Cota-jeugkoor aangesluit en dit is waar die sanggogga my formeel en behoorlik gebyt het. ’n Paar jaar later het ek met formele klassieke musiekopleiding begin,” het sy gesê.

Nythen is op Keetmanhoop gebore en het op Koës grootgeword.

“Ek het my graad in rekenkunde in Windhoek verwerf en werk tans as ’n ouditeur. Ek het op 17 by Cota aangesluit en ook my klassieke opleiding begin. My onderwyseresse verwys na my as ’n ‘dubbele brein’, omdat linkerbrein-mense meer met syfers werk en regterbrein-mense kreatief is.

“Vir my om te kan funksioneer, moet ek die struktuur van my werk hê, maar ook die kreatiewe uitlaat van musiek, anders is my lewe ongebalanseerd,” het hy gesê.

Die konsert is Nythen en Trudy se breinkind.

“Ons ken mekaar al jare en ek het baie angs. Ek sing al vir 15 jaar en dit is nou die geleentheid om uit my boks te klim en op ’n verhoog voor mense wat ek ken, op te tree. Saterdagaand verjaar ek en word 30. Ek sing al vir die helfte van my lewe, en wat ’n gepaste aand om die konsert te hou. Om oor my angs te kom,” het Trudy gesê.

“Wanneer jy op die verhoog staan en jy jou inleef in die musiek en die instrumente wat jou begelei, val alles rondom jou weg. Dit is net jy en die musiek; jy geen jou siel en niks maak saak nie,” het Nythen gesê.

Behalwe Trudy en Nythen se optrede die aand sal die Voices of Windhoek-koor ook optree.

“Voices of Windhoek bestaan uit ou Cota-lede wat nou ’n kleiner koor gevorm het. Ek sal ook saam met hulle sing. Failed Trip is vier vriende wat ’n a cappella-groep gestig het. Ek is ’n medestigter. In 2020 is ’n groot talentkompetisie aangebied en ons het die groep gestig om in te skryf. Ons het tweede geëindig en alhoewel die groep net vir die kompetisie gestig is, kom geleenthede tot vandag toe nog na ons toe. Justin Anthony is ook ’n ou Cota-lid. Ons almal ken mekaar en ons is soos ’n groot familie,” het Trudy gesê.

Die aand sal ook die kollig op geestesgesondheid plaas.

“Musiek het ’n reuse-impak op mense se lewens. Wanneer jy hartseer of gelukkig is – maak nie saak hoe jy voel nie – jy luister na musiek. Jy maak nie noodwendig die skakel om te genees of om jou emosies te hanteer nie. Musiek kan jou dwing om jou emosies te hanteer eerder as om net deur hulle te gaan,” het Nythen gesê.

“Kom geniet die aand saam met ons en luister na jong Namibiese talent en klassieke musiek.”

Kaartjies vir Saterdagaand se vertoning is op Webtickets beskikbaar of by 081 036 2739/081 295 2440.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer