Leandie du Randt kuier in Windhoek

Stel nuwe boek bekend
Kom ontsnap bietjie van die lewe, kry weer moed en word weer lief vir jouself, sê Leandie oor haar praatjie.
Tanja Bause
Die Suid-Afrikaanse aktrise en skrywer Leandie du Randt sal op 17 September ’n draai in Windhoek maak om haar nuwe boek “Hacks vir die Lewe” bekend te stel.

Sy was al twee keer in Namibië en beide kere het sy nie ’n goeie ondervinding by die grenspos gehad nie.

“Ek word elke keer in die kantoor ingeroep. Ek weet nie of die mense dink ek is ’n dwelmsmokkelaar of iets nie, maar dié keer spreek ek die lewe en ek weet dit sal sonder enige voorvalle verloop.

“Windhoek is my gunstelingstad in Namibië en ek is opgewonde om weer daar te kom kuier. Mense van Namibië is altyd so vriendelik en plat op die aarde. Hulle laat my elke keer baie welkom voel. Ek kan nie wag om weer in Windhoek te wees en weer die mense te ontmoet nie,” het sy gesê.

“Ek wil ook baie dankie sê aan almal wat ons kunstenaars ondersteun. Ons is afhanklik van julle om ons droom te kan lewe en ek kan nie wag om julle by my vertoning te ontmoet, drukkies te gee en om foto’s saam te neem nie.

“Asseblief, kom en bring al die vroue in jou lewe – jou ma, suster, tannie, vriendinne – saam. Kom ontsnap bietjie van die lewe; kry weer moed en word weer lief vir jouself. Ek hoop om almal met ’n lus vir die lewe en geïnspireerd ná my praatjie huis toe te kan stuur.

“Ek hoop julle besef dat julle julself nie met ander vroue moet vergelyk nie, maar dat julle die magic herontdek wat in elke vrou en in jouself is. Elkeen van julle is uniek en vir ’n spesifieke rede geskep.”

BOEKE

“Gemaklik in jou eie lyf” is Leandie se eerste boek en is meer op tienermeisies gemik.

“Die boek handel oor die veranderinge wat in tieners se koppe en hul lyf plaasvind. Hoekom jy skielik anders voel en allerhande vrae wat meisies het wanneer hulle oorgaan van meisies na tieners en na vrou toe. Hoe hanteer ek al die veranderinge en hoekom kan ek nog steeds die lewe geniet.”

“Hacks vir die Lewe” is haar tweede boek en is op alle vrouens vanaf 13 tot 63 van toepassing.

“Nadat ek my ma verloor het en geskei is, het ek as ’n 34-jarige vrou gevra, wat doen ek om nog steeds vreugde in die lewe te vind? Om nog steeds elke dag op te staan en aan te gaan? Hoe begin ek ’n besigheid?

“Ek het basies al my ‘tips and tricks’ wat ek in my leeftyd uitgepluis het in een boek saamgevat. Dit maak nie saak in watter fase van jou lewe jy nou is nie, jy sal iets binne-in die boek kry wat op jou van toepassing is en wat vir jou sal werk.”

AKTRISE

“My ma het video’s van my waar ek van ’n baie jong ouderdom af sing, dans en optree. Dit is iets wat ek nog altyd wou doen. Soos jy ouer word en TV begin kyk, besef jy dat daar rêrig aktrises is.

“Ek het altyd aktrise-aktrise gespeel en toe ek sien daar is werklik so ’n werk toe weet ek ek wil dit doen. Ek en my ma het TV gekyk en ek het altyd gemaak asof ek Anna-Mart van der Merwe in ‘Sonkring’ of Elzette Maarschalk van ‘Die Vierde Kabinet’ is. Ek wil egter nie te veel uitbrei nie omdat ek alles op 17 September tydens my praatjie sal vertel sodat mense my kan leer ken.”

Leandie kan nie ’n TV-reeks of fliek uitsonder waarin sy gespeel het nie, omdat almal besonders is en sy unieke belangrike lesse het. Sy het egter bietjie oor haar topdrie uitgebrei.

“Die karakter van Ivanka Gouws in Binnelanders is een van my gunstelinge. Dit was soos ’n My Fair Lady-karakter tussen Ivanka en At Koster. Dan was daar Emma in die fliek Jagveld. Dit is ’n vrouebemagtigingsfliek. Vroue wat vir hulself opstaan.

“Ek het baie geleer, veral hoe om myself te verdedig. Ek het dit in die regte lewe al gebruik en gekeer dat ’n boef my handsak en selfoon steel.

“Ek was ook gek oor die fliek Meisies wat Fluit omdat ek self geskei is. Die fliek gaan oor ’n paartjie wat baie jonk getrou en geskei is. Dit het my baie gehelp om deur my eie seer te werk. Ek was nog rou gewees en ek dink dit was my eerlikste werk wat ek tot nou toe as ’n aktrise gedoen het.”

GRAAD

Leandie het ’n honneursgraad in bedryfsielkunde en is as ’n psigometris geregistreer.

Haar pa het daarop aangedring dat sy iets moet gaan studeer sodat sy ’n regte graad agter haar naam het.

“Ek is mal oor mense en het al van jongs af talle selfhelpboeke gelees wat my deur my tienerjare gehelp het. Ek het besluit om sielkunde te gaan studeer, maar ’n positiewe sielkunde wat mense help om hul potensiaal te bereik eerder as om hulle deur hul probleme te help.

“Dié kennis gebruik ek nog elke dag wanneer ek my boeke skryf, in my praatjies of wanneer ek vir ’n karakter voorberei. Soos ons weet het die Here talle planne en ek is baie dankbaar dat ek daai graad studeer het. Dit het my baie van myself en ander mense geleer.

“So ja, ek praktiseer nie, maar ek gebruik dit op die verhoog, voor die kamera, agter die rekenaar in die loopbaan wat ek nou het.”

VOLGENDE

Sy en haar skoonsuster, Michelle, het meer as drie jaar gelede die besigheid, To Be Gift Boxes, begin.

“Ons het ’n betroubare en lekker span vroue wat vir ons werk en ek is voltyds elke dag – tussen al die ander dinge – met die besigheid besig.”

Sy is die aanbieder van Slank ’n gewigsverlies-realiteitsprogram op KykNet.

“Ek gaan ook hopelik tussen Oktober en Desember ’n nuwe reeks skiet, maar ek kan nog nie meer daaroor uitbrei nie.

“Ek was ook in ’n ander reeks wat in Desember sal begin en ek gaan deel wees van die fliek How to ruin Christmas wat aan die einde van die jaar op Netflix gaan wys.

“Daar is baie dinge in die pyplyn en goed waarmee ek konstant besig is. Dan is daar natuurlik ook my praatjies. Ek hou van ’n verskeidenheid; wanneer die een ding stil is dan is die ander een besig. So ja, ek het al geleer om die Here te vra om my daar te sit waar mense my nou nodig het of wat my siel nodig het en dan gaan ek en maak die beste van die geleentheid wat vir my gegee word.”

WINDHOEK

Leandie sal op 17 September om 18:30 by die Lemon Tree-restaurant in Windhoek oor haar boek “Hacks vir die Lewe” en haarself praat. Kaartjies kos N$200 en etes sal te koop wees. Navrae en besprekings kan by 081 288 2886 gedoen word.

“Ek hoop ek kan julle almal ontmoet en sien uit na ’n lekker aand saam met julle,” het sy afgesluit.

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!