'Lukas' gekies vir gesogte filmfees

Michael Kayunde
“Ons is ongelooflik trots om Namibië vanjaar onder die beste van die bestes in Afrika te verteenwoodig.”

Só het Philippe Talavera, die regisseur en direkteur van die Ombetja Yehinga-organisasie (OYO), gesê oor hul jongste film wat gekies is om by die gesogte filmfees, Festival Internacional de Cinema Panafricano de Luanda (Fespaco), in Burkina Faso vertoon te word.

Lukas is saam met nege ander flieks gekies in die kategorie “Semaine de la Critique” en sal vir die “prix de la critique” (prys deur kritici) meeding. Dié filmfees sal vanjaar vanaf 22 Februarie tot 1 Maart in Ouagadougou aangebied word.

Fespaco se doel is om by te dra tot die uitbreiding en ontwikkeling van Afrika se rolprentkuns as ’n manier van uitdrukking, onderrig en bewusmaking. Dit is in 1969 geskep en het intussen tot ’n internasionaal erkende en gerespekteerde geleentheid gegroei.

Vanjaar is die fees se 29ste uitgawe en beklemtoon die rykdom en diversiteit van Afrika- en diasporaflieks. Slegs 235 films uit die 1 351 inskrywings is vir vanjaar se geleentheid gekies en sowat 48 lande word verteenwoordig.



LUKAS

Lukas is ’n film gebaseer op die verhale van 21 kinders jongmense wat op straat woon en werk. Mikiros Garoes het die draaiboek geskryf.

Alhoewel dit nie ’n ware verhaal is nie, is dit fiksie wat deur werklike feite geïnspireer is. Dit is op 1 Februarie 2024 in Namibië vrygestel en het die eerste Namibiese rolprent geword wat drie weke lank by Ster-Kinekor Namibië en twee weke by Ster-Kinekor Suid-Afrika vertoon is.

“Dit was vir ons belangrik om ’n stem aan straatkinders te gee. Dikwels bestempel ons hulle net as ‘slegte seuns’, ‘probleme’ of ‘’n oorlas’.

“Ons vergeet hulle is eerstens kinders. Kinders met dikwels traumatiese ervarings. Om ons rug op hulle te draai, sal nie help nie,” het Talavera gesê.

In Namibië is die film, benewens vertonings by rolprentteaters, deur meer as 8 000 leerlinge en byna 2 500 gemeenskapslede gesien. Dit is ook tydens vergaderings tussen belanghebbendes en verteenwoordigers van ministeries en nieregeringsorganisasies (NGO’s) gebruik om die kwessie van kinders wat op straat woon en werk, te bespreek.

“Dis ’n stap in die regte rigting. Ons moet die debat rondom straatkinders verander en aan die kwessie begin werk,” het Talavera gesê.

Die vervaardiging van Lukas is moontlik gemaak danksy die ondersteuning van die Duitse ambassade.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 30° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 19° | 34° Oshakati: 21° | 33° Ruacana: 17° | 34° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 15° | 32° Windhoek: 17° | 30° Gobabis: 21° | 32° Henties Bay: 16° | 19° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 17° | 31° Mariental: 17° | 31° Keetmanshoop: 14° | 29° Aranos: 20° | 31° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 15° | 29° Oranjemund: 15° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 24° Mbabane: 16° | 29° Maseru: 13° | 30° Antananarivo: 17° | 26° Lilongwe: 21° | 29° Maputo: 22° | 33° Windhoek: 17° | 30° Cape Town: 15° | 19° Durban: 17° | 25° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 27° Harare: 18° | 25° #REF! #REF!