Music Camp bied gulde geleentheid vir musici

Die Kollege van die Kunste (Cota), die Universiteit van Namibië (Unam), die Goethe-Institut Namibia en die Popakademie Baden-Württemberg het hande gevat om eersdaags, vanaf 14 tot 19 Maart, die Music Camp Namibia-slypskool vir ontluikende popmusikante in Namibië aan te bied.

Die Popakademie Baden-Württemberg is ‘n hoëronderwysinstelling en vaardigheidsentrum vir die musiek- en kreatiewe bedrywe en hul popkulturele afdelings. Deur sy studieprogramme op populêre musiek te fokus – in ekonomiese sowel as artistieke terme – bied die sentrum akademiese opleiding wat uniek is in Duitsland se openbare universiteitslandskap. Talle suksesvolle musikante en kreatiewe mense se loopbane is hier gebore.

Parallel met sy funksie as onderwysinstelling laat die Popakademie Baden-Württemberg – as ’n vaardigheidsentrum – talle projekte in ‘n streek-, nasionale en internasionale konteks realiseer.

Jong, kreatiewe Namibiërs tussen die ouderdomme van 18 en 28 en wat passievol is oor musiek kan aansoek doen. Met 20 studente van Unam en 20 van Cota wat reeds die kamp gaan bywoon, is daar tien plekke oop vir plaaslike musiekstudente, professionele en semiprofessionele musikante of musiekonderwysers.

DIE KAMP

“Music Camp Namibia het ten doel om ruimte te skep om vaardighede en idees uit te ruil waaroor beide studente en ervare plaaslike musikante beskik. Bowenal laat die kamp ervare internasionale kunstenaars toe om met plaaslike kunstenaars en studente saam te werk en bande te vorm as deel van kruiskulturaliteit,” het Perminus Matiure, ’n musiekdosent aan Unam, gesê.

“Dié musiekkamp in Namibië is ‘n wonderlike geleentheid vir die studente en die dosente by Cota om op ’n artistieke vlak met verskillende professionele mense in Windhoek en van Duitsland te kommunikeer.

“Die slypskool sal die vaardighede waaroor hulle reeds beskik, verskerp en hulle beter sangers, liedjieskrywers, musiekvervaardigers en instrumentiste maak. Die geleentheid beloof om opwindend en betekenisvol te wees en verskeie metodologieë, tegnieke en musiekinstrumente te dek. Music Camp Namiia beoog om ‘n pragtige en inspirerende atmosfeer by die slypskool te skep,” het die Cota-rektor Angelika Schroeder gesê.

Udo Dahmen, uitvoerende direkteur van die departement populêre musiek by die Popakademie Baden-Württemberg, het op sy beurt gesê: “Nadat ons die projek in 2021 begin beplan het tydens ’n reis deur Namibië, is ons nou veral bly dat die kamp hierdie Maart kan plaasvind.”

“Hierdie inisiatief is ’n wonderlike geleentheid vir beide musiekbedrywe – Namibies en Duits – om by mekaar te leer en mekaar te inspireer. Die Goethe-Institut Namibia ondersteun alreeds vir ‘n paar jaar jong ontluikende Namibiese musikante en ons wil dit na die volgende vlak neem.

“Die samewerking tussen Cota, Unam en die Popakademie is ‘n wonderlike mylpaal in hierdie inisiatief en die bedryf as geheel,” het die direkteur van die Goethe-Institut Namibia, Dennis Schroeder, gesê.

Die hooffokus van die kampaktiwiteite is om kundigheid op die gebied van liedjieskryf, musiekproduksie, tipiese popmusiekspeelstyle, basiese musieksake en selfbemarking as vryskutmusikante te verdiep.

Alle musikante wat deelneem het die geleentheid om intensiewe spanwerk met musikante uit verskillende musiekagtergronde te ervaar – soos die Namibiese ster Lioness – om nuwe musiekstyle uit te toets en verskillende genres en tale te kombineer terwyl hulle saam aan liedjies werk.

Die Music Camp sal afsluit met ‘n finale konsert, waar alle bands en skryfspanne hul liedjies lewendig op die verhoog voor ‘n groot gehoor sal uitvoer. Die finale konsert vind op 19 Maart by die Nasionale Teater (NTN) plaas.

Die Music Camp sal deur ‘n klein filmspan van die Filmakademie Baden-Württemberg vergesel word om die beplande aktiwiteite te dokumenteer en via verskeie sosialemediaplatforms te versprei.

Die Filmakademie is een van die wêreld se vooraanstaande rolprentskole, wie se oorhoofse doel die praktykgerigte opleiding van toekomstige akteurs in die rolprent- en mediabedryf is.

Baden-Württemberg se ministerie van wetenskap, navorsing en die kunste finansier die projek.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer