Namibia Media Hub vier eerste NTV-toekennings

Frank Steffen
Network Television (NTV) het Donderdag sy eerste toekenningsaand by die Windhoek Buitekluboord in die hoofstad aangebied. Diana Masters het met die topprys weggestap as die kykers se keuse vir beste aanbieder tydens die formele geleentheid wat ook NTV se tweede herdenking gevier het.

Wenners in die verskeie kategorieë is bepaal deur 'n stemproses via verskeie platforms van Namibia Media Hub (voorheen Namibia Media Holdings) en waaronder die Synergi-bot op WhatsApp en wel die nommer 085 785 6231 wat breë toegang tot media en inligting bied.

Die minister van inligting en kommunikasietegnologie Emma Theofelus wat 'n spesiale gas was, het haar dankbaarheid uitgespreek vir die rol wat NTV speel in die verbetering van die kommunikasiebedryf in Namibië. Laasgenoemde veral in terme van visuele toegang tot inligting vir inwoners in landelike gebiede. Theofelus was vol lof vir die feit dat NTV daagliks

121 370 met sy breë verskeidenheid van 39 programme bereik.

NMH se uitvoerende hoof het tydens dieselfde geleentheid gesê die NMH-mediagroep bereik nou daagliks meer as 'n miljoen mense.

"Ons kruip nader aan 200 000 mense via NTV, hetsy deur DStv of GOtv of via die internet." Botha het beklemtoon dit is duidelik dat beide NTV en NMH as 'n groep sy aktiwiteite oor die grense van Namibië gaan neem.

"Ons gaan ons naam verander na Namibia Media Hub om ons reikwydte oor die landsgrense heen te weerspieë."

Die kykers se keuses was as volg:

1. Aanbieder: Diana Master

2. Nuusprogram: Sport Wrap

3. Geselsprogram: Smell the Coffee

4. Jeugprogram: GenC

5. Vervaardigde sportuitsending: Hollard Gravel & Dirt

6. Regstreekse sportuitsending: Africa Triathlon Cup

7. Afrikaanse program: Gooi Kole

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer