Namibië se Max een van Europa se jong leiers

Henriette Lamprecht
Die 32-jarige multidissiplinêre konseptuele kunstenaar Max Siedentopf wat in mediums van video, fotografie en beeldhouwerk tot kreatiewe regie internasionale roem verwerf het, is gekies as een van 46 Europese Jong Leiers (EYL40) vir 2023.

Die Namibies-gebore Max, wat in Londen gebaseer en die stigter van die kunspublikasie ORDINARY is, was ook verantwoordelik vir die klankinstallasie Toto Forever in die Namibwoestyn wat hulde bring aan seker een van die mees ikoniese liedjies van die afgelope dekades: Toto se “Africa”. Die installasie bestaan uit ses luidsprekers wat aan ’n MP3-speler gekoppel is waarop net een liedjie, “Africa”, herhaaldelik speel. Die installasie word deur sonaangedrewe batterye aan die gang gehou.

Toto Forever is ingesluit op Artnet se “10 Extraordinary Artworks You Need to Travel to the Edge of the World to See”-lys.

Friends of Europe, ‘n niewinsgewende dinkskrum vir beleidsontleding en debat van die Europese Unie (EU), se Europese Jong Leiers-program het ten doel om gevestigde jong leiers onder die ouderdom van 40 met mekaar in aanraking te bring en sodoende bande te bou dwarsoor nasionaliteite, loopbane en politieke sienings. Max bevind hom in uitgelese geselskap met van die alumni van die program wat die eerste minister van Estonia, Kaja Kallas; die president van die Europese parlement, Roberta Metsola; asook die Pulitzer-wenner en ondersoekende joernalis en skrywer van The Panama Papers, Bastian Obermayer, insluit.

Een van Max se vele kreatiewe en unieke projekte is as hoof kreatiewe direkteur van die Italiaanse modehuis Gucci - waar hy die baasbrein is agter modeveldtogte, die algemene ontwikkeling van die handelsmerk, asook die bekendstelling van spesiale projekte soos Gucci se eksperimentele platform, Gucci Vault.

EYL40 verteenwoordig ‘n nuwe definisie van leierskap en ‘n nuwe generasie van leiers wat aksie en verandering inspireer en teweeg bring. Volgens EYL40 skep die verkose leiers se passie en diversiteit, tesame met hul kreatiwiteit en innoverende denke, die perfekte formule vir vars idees om ‘n wêreld met toekomsgerigte denke te skep.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!