Namibiese kuns: Van toeka tot nou (deel 1)

Die stryd teen die massa
GASSKRYWER
Pedro Vorster



Groei of stagneer



Twee kulture skud toenemend blad In Afrika deur kolonisasie: die Afrika- en Europese kulture. Geen dramatise omhelsing vind juis plaas nie, maar gelukkig is een gevolg dat Afrikakuns al hoe meer erkenning en blootstelling kry, asook meer indiepte ondersoek word.

Tradisionele Afrikakuns word hoofsaaklik stylisties in figure, regalia, tekstiele en ander vorme van ornamentasie uitgedruk. Opleiding in hierdie kunsvorme was gewoonlik geslagspesifiek en selfs tot sekere families of selfs stamgroepe beperk, soortgelyk aan tradisies soos wat dit nog vandag in Europa en die Ooste bedryf word.

Die gevaar in die slaafse navolging van tradisionele kuns is dat ‘n eiesoortige persoonlike visie kan versmoor onder die heersende ou volksaanvaarde estetiese norms. Vandag word van die kunstenaar verwag om te breek met konvensie en dit dan nuut te interpreteer.

So word dit in die werk van die nuwe generasie Afrikakunstenaars gevind dat die tradisionele en rituele simbole benede en gelyk gestel word aan dié van die wêreldpopkultuur.

Ook so in Namibië.

In die afgelope twee dekades vind daar dan kontekstuele veranderinge ook in die kunswerke van Namibiese kunstenaars plaas. Plaaslike kunstenaars het egter steeds nie behoorlike toegang tot internasionale markte nie en hulle ly onder ’n onkundige, onwaarderende plaaslike kykerspubliek sowel as ‘n breë massa trae kopers.

Die stryd is hoofsaaklik kunstenaar teen die nouveau riche proletariat.

Kom ons vra die kunsinstansies “waarom moet enige Afrikastaat uitsonderlike voorbeelde van hul beste kunswerke versamel?” Die antwoord is ooglopend.

Verskeie kunsskatte het die vasteland al verlaat deur onkunde of laksheid. Baie keer omdat die instansies wat die kunste finansier, nie die noodsaaklikheid kon sien om besondere items van nasionale trots te behou en te bewaar nie.

“Kuns lewe lank, die lewe is kort”, gereeld toegedig aan Goethe.

“Jy kan nie twee keer in dieselfde rivier klim nie”, sê nog ‘n filosoof. Om Namibiese visuele kuns oor veertig jaar in heraanskouing te bring is byna dieselfde as om in die rivier te gaan staan, op dieselfde plek elke veertig jaar!

Dus bied ‘n 40 jaar-oorskou geensins ‘n volledige beeld van ons fyner kunste nie, maar ten minste help dit om die giere, style, groei en stagnasie van die eras beter te verstaan.

Die onsigbare mentors

In die 20ste eeu fin-de-siecle val Namibiese viuele kuns gemaklik oop in twee tydvakke - die 20 jaar voor en 20 jaar nadat demokrasie in 1990 die land ingestem is.

In die vroeë jare vloei ‘n sterk stroom in die kunsrivier. Namibiese kunstenaars word meestal beïnvloed en gerig deur ander sterk plaaslike kunstenaars. Die gevestigde kunstenaars wat hulle bewonder het, het soms ook as mentors opgetree. Hul latere style, verkose media en onderwerpe is deur die werke en filosofieë van hierdie gesaghebende individue gevorm, nie deur instansies of groepsvorming nie.

Hier word die kuns deur enkelinge gepleeg wat deur terugskouing saam gegroepeer word met ander kunstenaars wat met hul werk tematies of stylisties by hulle aansluit. Daar vind nie eers groepering en daarna word ‘n gemeenskaplike doel gekonstateer nie.

Uit hierdie beskouingsraamwerk kan ‘n beperkte begrip gereduseer word om sekere rigtings in Namibiese kuns te verklaar. Hierom word dit belangrik om kontemporêre individue te identifiseer en te ondersoek wat in die tydstroom verby geswem, geplas of gedrywe het. Moontlik moet ‘n paar reddingspogings uitgevoer word om te verhoed dat ‘n paar verdrink in obskuriteit.

Wie was hierdie figure? Meer in deel 2.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 28° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 19° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 19° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 20° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 27° Gaborone: 21° | 33° Lubumbashi: 16° | 22° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 19° | 33° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!