Nuwe benadering tot eeue oue kuns
Uitstalling verweef kuns, binnenshuise versiering
Die Interwoven-uitstalling sal bestaan uit vier unieke, pasgemaakte tapyte wat deur vier kunstenaars ontwerp en wat Karakulia Weavers geweef het.
Die Bellhaus Atelier & Galerie in Windhoek en Karakulia Weavers, wat in Swakopmund gebaseer is, het hande gevat om die Bellhaus Karakulia-inisiatief van stapel te stuur.
’n Uitstalling getiteld Interwoven het uit dié samewerking gespruit, wat vandag (23 Junie) om 18:00 by die Bellhaus-galery open. Die uitstalling kan tot Saterdag 23 Julie besigtig word.
Dit is die eerste gesamentlike projek van dié artistieke aard wat die galery sal onderneem. Die uitstalling sal bestaan uit vier unieke, pasgemaakte tapyte wat deur vier kunstenaars ontwerp en wat Karakulia Weavers geweef het.
Nadat hulle genooi is om met idees vir ontwerpe vorendag te kom, het die kunstenaars elk hul uiteenlopende interpretasies van die projek ingedien. Dié idees is toe verwesenlik om ‘n nuwe reeks Karakulia-matte bekend te stel. Dit het gelei tot ‘n uitstalling wat wissel van abstrak tot ‘n moderne weergawe van tradisionele Oshiwambo-ontwerp tot ‘n pastelontwerp en selfs ‘n enorme slang.
Wat hierdie projek besonder interessant maak, is die feit dat nie een van die kunstenaars – almal goed gevestig in hul verskillende kunsmediums – voorheen ontwerpe vir weef geskep het nie.
‘n Nuwe benadering tot die eeue oue karakoel-tapytweefkuns, wat niks minder as wêreldklas in terme van vakmanskap is nie, is gekonseptualiseer deur die medestigter van die Bellhaus Atelier and Galerie, Andrea Behnsen. Met groot bewondering vir die wewers se vakmanskap en haar passie vir die ontwikkeling van nuwe produkte sowel as haar toegang tot ‘n netwerk van kunstenaars, het sy die Bellhaus Karakulia-projek op die been gebring.
Produkontwikkeling en waardetoevoegingsinisiatiewe tussen kuns en handel is die kern van Bellhaus se visie en maak hierdie inisiatief, soos Andrea tereg opmerk, meer ‘n produkbekendstelling as ’n uitstalling – die eerste van vele wat in die toekoms sal volg.
Een van die voortdurende uitdagings in Namibië is om die produksie van kulturele en tradisionele kuns en kunsvlyt te balanseer met die smaak en vereistes van die wêreldmark, waar die koopkrag lê.
Die storie van Moses Helao, wat begin het as ‘n skoonmaker vir Karakulia Weavers en homself opgewerk het om die trotse eienaar en bestuurder van die besigheid te word, is al wyd deur die media gedek. Wat minder bekend is, is die feit dat hierdie wewery hoogs afhanklik van die toeristemark is en met die ontwrigting in die reisbedryf wat deur die Covid-pandemie meegebring is, het die besigheid onder geweldige druk gebuk gegaan.
Een keer per jaar ry Moses na die suide van Namibië om 50 ton wol by die boere in die distrik te koop. Sy operasie loop soos ’n goed geoliede masjien. Elke enkele deel van die proses word met die hand gedoen.
“Ons wil vakmanne identifiseer met uitsonderlike vaardighede, maar wat sukkel om ’n voet in die deur van die huidige mark te kry, en hulle ondersteun om by ‘n breër, internasionale gehoor aanklank te vind. Terselfdertyd wil ons kunstenaars die geleentheid gee om ander mediums te verken as dié waaraan hulle gewoond is en hulle toelaat om hul eie potensiaal verder te ontdek,” het Andrea vertel.
DIE KUNSTENAARS
Elisia Nghidishange het E-Tunga Studios gestig.
“Ek praat nie veel nie. Ek gebruik my kuns om myself uit te druk,” vertel sy.
Elisa is 'n pottebakker en beeldhouer en om ‘n mat te ontwerp was ‘n nuwe ervaring vir haar. Sy het die bekende kleure en tradisionele patrone wat in Oshiwambo-mandjiewewery en pottebakkery gebruik word, sowel as die natuurlike kleure en organiese pigmente wat in die natuur voorkom, gebruik om haar interpretasie van die opdrag getiteld “I know now” te ontwerp.
Marcii Magson is die medestigter van die Bellhaus Atelier & Galerie. Sy vertel sy is bewus van die spesiale plek wat matte in ’n vertrek het nadat sy ’n paar as geskenke ontvang het. Gevolglik het Marcii die ontwerp van haar tapyt, wat sy “Rhythms of the Womb” genoem het, met eerbied vir ritueel, seremonie en belangrike oomblikke in die lewe benader.
“Ek het my voorgestel dat ek myself binne-in ‘n mat oprol, en dit het my herinner aan die intense en vol gevoel om swanger met my dogter, Freya, te wees. Ek wou daardie gevoel in die ontwerp inweef.”
Tina Basson, die stigter van Martina Margarethe Illustration, het besluit om haar ontwerp “Swakop se klippies” te noem.
“Om klippe op die strand op te tel is vir my ‘n fisieke, tasbare maar ook meditatiewe ervaring. Ek dink die Namibiese kus bied die mooiste natuurlike kleurpalet. My ontwerp spreek van jeugherinneringe, sentiment en nostalgie. My kuns is altyd ‘n weerspieëling van my geloof, waardeur ek hoop om vreugde en geluk na ander te bring.”
Michael Chandler, die stigter van Chandler House in Kaapstad, is veral bekend vir sy blou en wit keramiekontwerpe, en was opgewonde om hierdie nuwe kunsmedium te verken. Sy ontwerp van ‘n groot slang in swart en wit is heeltemal anders as sy gewone kenmerkende styl en die resultaat is speels en prettig, maar tog ‘n treffende, grafiese ontwerp. Hy het die ontwerp heel gepas “Serpent” genoem.
Michael is nie iemand wat kuns oor-analiseer nie. “Wat moet jy meer weet as dat jy daarvan hou of nie? Ek hou daarvan om dit eenvoudig, vreugdevol en aweregs te hou. Nie alle kuns hoef die wêreld te verander nie. Dit kan soms ‘n vertrek verander en dit is genoeg.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie