Operasanger terug uit Kanada

Sing hoofrol in Namibië se eerste opera
Galilei Njembo hou konsert in Windhoek om geld vir sy studies in te samel.
Tanja Bause
Die Namibiese operasanger Galilei Njembo is terug uit Kanada waar hy die laaste akademiese jaar musiek met die fokus op opera aan die McGill Universiteit gestudeer het.

Hy moes weens Covid-19 sy eerste jaar by die universiteit aanlyn doen.

“Die afgelope akademiese jaar was uitdagend. Ek moes verskeie struikelblokke oorkom, insluitend om by die taal (Frans) aan te pas asook die akademiese omgewing.

“Daarbenewens was die lewe in ’n groot stad met ongeveer 4 miljoen inwoners (in die metropolitaanse gebied van Montreal) ’n reuse-aanpassing.

“Ek moes leer hoe om die openbare vervoer te gebruik, veral die ondergrondse treinstelsel en busroetes, aangesien alle aankondigings van stilhouplekke en stasies ook in Frans was.

“Gelukkig was kollegas van my universiteit uiters behulpsaam terwyl ek die stad leer ken het. ’n Groot struikelblok was om aan die erge winters gewoond te raak wat tot -35 ºC op sy koudste bereik het,” het hy gesê.

Galilei het ’n gemiddelde akademiese graadpunt van 4.0 gehandhaaf wat gelykstaande aan A-simbole is.

“Die baccalaureusprogram vir musiekuitvoering is boeiend met talle geleenthede om in die openbaar op te tree. Ek kon aan verskeie operaproduksies op universiteit sowel as ’n paar kleiner optredes saam met vriende deelneem.”

Om so ver weg van sy familie en bekende gesigte te wees, het sy onafhanklikheid en vindingrykheid op die proef gestel.

“Ek het verskeie deeltydse werke om kop bo water te hou. Ek werk as ’n kroegman by ’n restaurant/kroeg, as ’n onafhanklike musikant en as sanger in kerkkore. Dit, saam met ’n paar ondersteunende nuwe vriende, het my toegelaat om myself met selfvertroue in Montreal te vestig.”

Galilei is trots dat hy sy eerste twee jaar aan die McGill Universiteit suksesvol voltooi het en dat hy nog beurse ontvang het om met sy studies te kan voortgaan.

“Ten spyte van al my bykomende inkomste, bly die klasgelde buitensporig vir die res van my studies. Daarom gaan ek, met die ondersteuning van Pack Safaris en my organisasie, die Namibiese Musiek Ensemble (Trust), ’n geldinsamelingskonsert aanbied. Ek sal op klavier begelei word deur medetrustee Retha-Louise Hofmeyr.

Die konsert vind op Vrydag 12 Augustus om 19:00 by die Eros NG Kerk in Windhoek plaas. Kaartjies is vooraf by Webtickets Namibia aanlyn of by Pick n Pay-winkels vir slegs N$100 vir volwassenes en N$70 vir pensioenarisse en minderjariges beskikbaar.

Kaartjies by die deur sal onderskeidelik N$120 en N$100 wees. Skenkings is ook welkom aanlyn of by die konsert.

Die gehoor kan klassieke musiek van onder meer komponiste soos Mozart, Puccini, Richard Strauss, Tosti, Faure en Vaughan Williams verwag wat vanaf die 17de tot die laat 20ste eeu strek.

Galilei het een van die hoofrolle in Namibië se eerste opera, Chief Hijangua, losgeslaan wat op 9 September by die Nasionale Teater van Namibië (NTN) opgevoer sal word.

“Hierdie projek het my toegelaat om verlede November na München in Duitsland te reis as deel van die eerste repetisies en werkwinkels. Dit het deure vir toekomstige opera optredes in München, Berlyn en New York oopgemaak.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer