No Image Caption

Petisie sal vuurwerke by skou nie verhinder

Vertoning nie teen munisipale reëls nie
Tanja Bause
Donderdag om 20:00 sal ’n vuurwerkvertoning van sowat 10 minute by die skougronde plaasvind om die Windhoek Landbouskou amptelik te open.

Hoewel dierebeskermingsverenigings beswaar teen die vertoning aangeteken het, word volgens die munisipaliteit en die skouvereniging geen wette of reëls oortree nie.

In 2008, toe die fase 3 uitbreiding van die Maerua-inkoopsentrum begin is, het die besturende direkteur van die Windhoek Skou, mnr. Harald Schmidt, gesê die vuurwerke sal nie meer afgevuur word nie, omdat die beoogde Maerua geboue nader as 100 meter van die Windhoek-skougronde af sou wees, en volgens die wet mag geen vuurwerke binne 100 meter van geboue af afgevuur word nie.

Die woordvoerder van die munisipaliteit, me. Lydia Amutenya, sê die wet het nie verander nie en die vuurwerke sal Donderdag wel binne die raamwerk en beperkings van die wet afgevuur word.

“Hulle het die toestemming van die Namibiese polisie se plofstofeenheid om ’n vuurwerkvertoning te lewer. Die plaaslike owerheid het ’n terreininspeksie van die Windhoek Skou gedoen en die area as veilig gesertifiseer.

“Die naaste boustruktuur op die terrein van die skou is ongeveer 400 meter van die afvuurterrein af. Dit beteken Maerua Mall is selfs verder weg van die afvuurterrein en sal nie deur die vertoning van vuurwerke geraak word nie.

“Alle ander geboue en paaie in die omgewing van die skouterrein is meer as die vereiste 200 meter van die afvuurterrein af en die afstande voldoen aan die plofstofregulasie. Daar is ’n radius van ongeveer 100 m vanaf die afvuurterrein afgebaken, om die publiek wat die uitstalling bekyk, op ’n veilige afstand te hou.

“Die maatskappy wat die vuurwerkvertoning lewer, voldoen aan alle voorwaardes soos die wet bepaal en het die seën van die munisipaliteit. Die klagtes van dierebeskermingsverenigings word nie onder die wetlike bepaling gedek nie.”

Die komitee van NAWA (Namibian Animal Welfare Association) het ’n verklaring uitgereik waarin hulle die vuurwerke veroordeel. Hulle het ook ’n petisie teen die vuurwerke op hul Facebook-bladsy.

“Vuurwerke is dalk pragtig om na te kyk, maar die gruwels en vrese wat dit by die diere in die nabyheid inboesem, is allesbehalwe pragtig. Bang en geterroriseerde diere is meer geneig om van hul huise af weg te hardloop, hulle raak verlore of kan deur ’n motor raakgery word.

“Bejaarde diere of dié met hartskwale kan selfs aan ’n hartaanval sterf. Vuurwerke is nie net riskant vir ons troeteldiere nie, maar ook vir ander diere soos voëls, eekhorings, klein soogdiere, skoenlappers en visse. Hierdie diere wat vir harde geluide skrik, kan so verward en gedisorëteer uit verskriklike vrees raak dat hulle teen bome, mure, vensters of elektriese kabels vas vlieg of hardloop.

“Nog ’n negatiewe gevolg is dat oorblyfsels van vuurwerke chemikalieë en ander giftige stowwe bevat wat skadelik vir diere is as dit ingeneem word en ’n verwoestende impak op die omgewing het.

“Dis gruwelik om te dink dat ’n landbou- en veeskou die gebruik van vuurwerke goedpraat,” lui die verklaring.

Schmidt sê alles is binne die wet en slegs ’n sterk wind kan ’n gevaar inhou.

“Die pirotegnikus vir wie ons aangestel het om die vuurwerke te skiet, is professioneel en as hy sê die wind is ’n probleem, sal ons sy aanbeveling volg. Ons het toestemming en die skouvereniging meen ná twee jaar van Covid en geen skou nie, kan almal genot by ’n vuurwerkvertoning vind; bietjie vermaak kry en vergeet van hul probleme, al is dit vir net ’n paar minute.

“Donderweer hou veel langer as 10 minute aan en die honde skrik ook vir dit en hardloop weg. Mense weet die vuurwerkvertoning sal Donderdag om 20:00 gebeur en hulle kan voorsorgmaatreëls tref en verseker dat hul diere veilig is.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!