Plaaslike films onder ’n fyner lens

Ontluikende potentiaal voor ons kameras
Hoewel die Namibiese filmbedryf se begroting skraps is, meen belanghebbendes dat plaaslik vervaardigde rolprente reusepotensiaal toon.
Iréne-Mari van der Walt
Die Namibiese Filmkommissie (NFC) het onlangs aangekondig dat sy begroting vir die komende jaar verdubbel het na N$6 miljoen.

Hierdie begroting sal glo hoofsaaklik aangewend word om meer geleenthede vir filmmakers te skep en om Namibië aan internasionale filmmakers ten toon te stel.

Belanghebbendes in dié bedryf glo finansiële ondersteuning soos hierdie is ’n positiewe teken vir ֹ’n bedryf wat ’n bestaan uit skrapse finansiering probeer maak.

“Dit sal fantasties wees as ons meer finansiering kon kry om meer films te maak, en al is dit stadig, doen ons stappe om in daardie rigting te beweeg. Ons het die potensiaal om ’n sterk aanspraak op die internasionale verhoog te maak. Die grootte van ons bevolking tel steeds teen ons, maar ek dink nie dit is ’n kwessie wanneer dit kom by die talent, uithouvermoë en stories wat ons mense het nie,” het die plaaslike aktrise, Odile Gertze, gesê.

Sy sê die onlangse sukses van plaaslike films op internasionale platforms dien as ’n bewys van die potensiaal van Namibiese rolprente.

“As ons net meer films op stromingsplatforms kan kry, soos Baxu and the Giants wat op Netflix beskikbaar is. Dit was ’n reuseskuif vir ons in die regte rigting, maar geen film het nog in Baxu se voetspore gevolg nie. Ons moet voortdurend films maak en verseker dat ons werk op internasionale stromingsplatforms beskikbaar gestel kan word,” het sy gesê.

Gertze sê ook plaaslike filmtalent kan egter nie net bakhand staan en agter finansiële struikelblokke skuil nie.

“Ons moet as kunstenaars konsekwent wees – ons moet ’n aanlyn teenwoordigheid hê. Ons moet verstaan as ons op ’n internasionale verhoog wil meeding, ding ons mee met ander internasionale talente wat dieselfde doelwitte as ons het.”

KRINGLOOP

Die regisseur van die eerste Namibiese kortfilm op Netflix, Baxu and the Giants, Florian Schott, sê ’n gebrek aan finansiering kniehalter die plaaslike filmbedryf.

“Ons sal ons tegniese vaardighede moet verbeter as ons op die internasionale mark raakgesien wil word. Ons het boeiende stories om te vertel, maar met klein begrotings is dit moeilik om films te maak met behoorlike klankvermenging, kleurgradering (colour grading) en ’n gepaste klankbaan,” het hy gesê.

Hy sê die gebrek aan finansiering veroorsaak ook ’n bose kringloop wat geleenthede in die plaaslike filmbedryf belemmer.

“Van ons produksies is van so ’n goeie gehalte dat dit maklik ’n plek langs ander internasionale produksies kan inneem, maar ander nie – veral in terme van die skryfwerk, toneelspel, regie, kinematografie, redigering en klankvermenging. Met opleiding en ’n moontlike hupstoot in begrotings weens internasionale verkope, is daar hoop vir ’n meer volhoubare filmbedryf,” het hy gesê.

Schott, wat ervaring het as regisseur van verskeie televisieprogramme in Duitsland, verdeel sy tyd tussen Duitsland en Namibië en het onder meer die regisseurstoel ingeneem vir die Namibiese produksies Katutura en Everything Happens for a Reason.

“Mens moet natuurlik in ag neem dat Duitsland ’n film- en televisiebedryf het met meer as 100 000 mense wat dit professioneel doen met miljarde euros se inkomste. Ons is ’n handjievol in Namibië wat ֹ’n bestaan daaruit maak en dus is ons resultate aansienlik minder,” het hy gesê.

Gertze deel Schott se mening dat meer filmgeleenthede die plaaslike filmbedryf genoeg sal stimuleer om dit volhoubaar te maak.

“Ek dink nie daar is genoeg geleenthede in Namibië vir al ons akteurs om ’n konstante inkomste te verdien nie. Jy kan een of twee goeie films elke ses maande of selfs een keer per jaar doen – en die res van die geleenthede gaan aan ander akteurs. Dit voel soms asof daar meer akteurs as geleenthede is. Ons lewenskostes gaan nie wag vir ons om geleenthede te kry nie, en daarom doen baie kunstenaars meer as een ding om hulself te onderhou,” het sy gesê.

“Ons werk met klein spanne dus moet almal verskeie rolle tegelyk volstaan en ons moet probleme met kreatiwiteit eerder as geld oplos, omdat ons nie geld het nie. Waar Namibiese produksies ’n tekort aan finansiering het, maak ons op met kreatiwiteit en passie. Daar is baie talent in hierdie land en Namibiese filmstelle is van die prettigste en kreatiefste stelle waarop ek al ooit was,” het Schott gesê.

“Ons moet volhard. Ons mag dalk dikwels nie die vrugte onmiddellik pluk nie, maar dit beteken nie dat ons glad nie vrugte gaan pluk nie. Ons werk nie net vir onsself en vir vandag se bedryf nie. Ons werk vir die bedryf en die talente wat na ons sal kom. Wat ook al ons nou doen, is om die weg te baan vir die wat na ons kom,” sê Gertze.

MUKOROB MAAK LAS LIGTER

In ’n poging om finansiële en ander hindernisse uit filmmakers se pad te verwyder, het MultiChoice Namibië sy hande en beursie aan die werk gesit vir die MultiChoice & NBC Mukorob-filmprojek.

Dié projek het verlede jaar jong filmmakers aan die gons gehad toe dit 13 plaaslike filmprojekte gefinansier het.

“Dit is nou amper ’n jaar vandat ons begin het en ons het verskeie films wat in verskeie fases is. Twee behoort binnekort gereed vir hul prèmiere te wees. Die terugvoering wat ons gekry het, is baie positief en die mark is beslis opgewonde daarvoor," het MultiChoice se woordvoerder, Elzita Beukes, gesê.

Sy het aangevoer dat dié projek nie net die filmbedryf bemagtig nie, maar ’n platform aan Namibiese stories gee wat dit verdien. “Namibiërs het unieke stories om te vertel wat ook hul plek op die internasionale verhoog kan vind,” het sy gesê.

Beukes glo die fases van produksie na verfilming is waarskynlik ook vir Namibiese filmmakers ’n struikelblok.

DIE STORIES VAN MÔRE

Ten spyte van die uitdagings wat vooruitgang in die Namibiese filmbedryf belemmer, hoop die teaterakteur Ndinomholo Ndilula om sy liefde vir die teater met ’n futuristiese filmelement op te kikker.

Ndilula hoop om verrykte werklikheid, ofte wel “augmented reality” te benut om teaterproduksies tot in jou sitkamer te bring.

“Dit verg ’n nuwe manier van verfilming asook ’n kombinasie van tradisionele filmvaardighede vermeng met kennis van inligting- en kommunikasietegnologie,” het Ndilula gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!