Plaaslike kortprente neem GBV, geslagsrolle in oënskou

Première in Julie by Kaapse rolprentfees
Die gedigte "Be a lady" en "Be a man" is verwerk na draaiboeke vir twee gelyknamige kortfilms.
Twee plaaslike kortfilms wat die kwessies van geslagsgebaseerde geweld, geslagsgelykheid en tradisionele en moderne geslagsrolle aanroer, is gekies om in Julie by die Garden Route Internasionale Rolprentfees in Suid-Afrika vertoon te word. Dit word in Augustus met ‘n plaaslike première in Windhoek opgevolg.

“Geslagsgebaseerde geweld (GBV) is al die afgelope dekade en selfs langer ‘n brandende kwessie in Namibië. Om hierdie kwessie aan te roer, is daar ‘n behoefte om die fokus te verskuif en vanuit ‘n heel ander oogpunt na die probleem te kyk,” lui ’n mediaverklaring deur Ombetja Yehinga Organisation (OYO) – ‘n Namibiese trust wat daarop gemik is om maatskaplike bewustheid onder jongmense te skep met die kunste as medium.

Tydens vier naweekkampe het 55 seuns van die Ohangwenastreek, 55 seuns van die Omusatistreek, en dieselfde aantal meisies van beide streke saam met die OYO-span na kwessies rondom manlikheid en vroulikheid gekyk.

Gedurende dié kampe is deelnemers gevra wat die moets en moenies is en wat, as seuns en meisies, van hulle in hul gemeenskappe, in hul skole en van hul eweknieë verwag word.

“Die uitkomste van die dinkskrumsessies was fassinerend,” het dr. Philippe Talavera, direkteur van OYO, gesê.

“Deelnemers het besef hulle word voortdurend aan teenstrydighede blootgestel. Skole sal vir meisies sê om nie swanger te raak terwyl hulle op skool is nie, maar gemeenskappe verwag van hulle om vroeg kinders te hê om hul generasies uit te brei. Ouers sê vir seuns om nie te huil nie, maar lewensoriëntering-onderwysers sê vir seuns dit is oukei om emosies te voel en ondersteuning nodig te hê.”

Dié gevolgtrekkings is in twee gedigte omskep: “Be a lady” en “Be a man”; waarna OYO plaaslike mediapersoonlikhede genooi het om lewe aan dié gedigte te gee. Die gedigte is verwerk na draaiboeke vir twee gelyknamige kortfilms.

Odile Gertze, ’n voormalige Mej. Namibië, aktrise en radio-aanbieder; die aktrises Nadula Haingura en Roya Diehl; die filantroop Fhulufhelo Ramphaga; Valerie Tjirimuje, ’n maatskaplike werker; en die OYO-dansers Mary Jane Andreas en Sydney Farao is almal in “Be a lady” te sien.

Die akteurs Adriano Visagie en Monray Garoeb; Jean-Louis Knouwds, ’n akteur en radio-aanbieder en die huidige mnr. Supranasionaal Namibië; Ashwyn Mberi, ’n sanger en akteur; die model Herman Hausiku en die OYO-dansers Jeffrey Ndjahera en Berry Goraseb vertolk weer die rolle in “Be a man”.

“Die gedigte het ’n sterk impak,” het Talavera gesê. “Ons het sterk kunstenaars nodig gehad om lewe aan dié gedigte te gee. Ek vind hulle soms dramaties – byvoorbeeld wanneer Ashwyn Mberi in sy diep stem sê: ‘Mans is sterk, meisies is swak.’ Hulle is dikwels sarkasties. Maar hulle is almal gebaseer op wat jongmense byna daagliks hoor. Tensy ons die narratief verander, sal ons nie geslagsgelykheid bereik en die stryd teen GBV wen nie. Ek hoop jongmense sal begin nadink oor wat dit vir hulle beteken. Hoe kan jy jouself wees as jy voortdurend voel jy word in verskillende rigtings getrek?”

Die twee kortfilms, elk sewe minute lank, is gekies om deel van die Garden Route Internasionale Rolprentfees (GRIFF) in Suid-Afrika te wees, waar hulle hul wêreldpremière tussen 12 en 16 Julie sal hê. Die rolprente sal op 13 Augustus by die Goethe-instituut in Namibië vertoon word as deel van die “Caring Namibian man”-fotoprojek. Die foto's en videogrepe sal dan in skole gebruik word om kwessies rondom manlikheid, vroulikheid en die betekenis van geslagsgelykheid in ‘n hedendaagse Namibië te bespreek.

“Dis 'n groot eer om deel van die GRIFF se seleksie te wees en ons voel bevoorreg om saam met ‘n paar opwindende nuwe produksies van SADC-lande en verder gekies te word,” sê Talavera. Ná die uitdagings van Covid word die fees vanjaar weer fisiek in Mosselbaai aangebied

Die films is deur Talavera vervaardig en geregisseer, met Joshua Homateni as direkteur van fotografie, Vincent Mboku wat die redigering behartig het, Una Hoebel as grimeerkunstenaar en Ponti Dikuua wat vir die klankbaan gesorg het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!