Sandra wil Namibië se stories vertel

Michael Kayunde
Nuuskierigheid was nog altyd haar dryfveer, sê een van Namibië se jongste gegradueerdes van die Africa MultiChoice Talent Factory (MTF), wat verlede jaar sy vyfde verjaardag gevier het.

“Ek wou nog altyd ’n filmmaker gewees het en om die geleentheid te kry om vir ’n hele jaar opleiding te ontvang, was ’n droom wat waar geword het,” sê Sandra Muramba in ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH).

Sy vertel buiten vir die omgewing by die MTF-akademie was die feit dat sy omring was deur mede-kreatiewe siele met soortgelyke waardes en visie, veral verfrissend.

“Hulle het my wêreld verstaan. Of dit was in die manier hoe ek aantrek of hoe ek myself uitdruk,” vertel Sandra.

Hoewel haar reis nie sonder uitdagings was nie, was haar ondersteuningstelsel van onskatbare waarde.

“Om ondersteunende vriende en familie te hê wat voortdurend na my uitgereik het, het gehelp om my geanker te hou. Hul ondersteuning het ’n sleutelrol in my sukses gespeel,” sê Sandra.



STEREOTIPES

By die akademie het sy gekies om op kinematografie te fokus, ’n veld wat dikwels deur mans oorheers word.

“Die meeste vroue skram weg van hierdie rol omdat dit oorwegend mans is. Maar ek wou myself uitdaag en uit my gemaksone beweeg. Ek het as ’n joernalis gewerk, so ek is vertroud met skryf en regie, maar kinematografie het ’n nuwe kreatiewe horison gebied.”

Sandra se passie vir kinematografie spruit uit haar liefde om deur middel van visuele komponente stories te vertel.

“Ek wou die kamera gebruik om betekenisvolle stories oor te dra. Dokumentêre programme maak my veral opgewonde omdat dit my toelaat om outentieke Namibiese stories van agter die lens te vertel.

“Ek hoop om ander vroue in die land te inspireer om ook kinematografie te ondersoek,” sê Sandra.



LENS

Van die ervarings wat sy by die akademie gehad het wat ’n impak op haar gehad het, sluit in toe sy ’n sakevoorstel moes indien.

“Kreatiewe mense fokus dikwels net daarop om die storie te vertel en skeep die sakedeel af,” verduidelik Sandra.

“Dié ervaring het my geleer dat elke fase van vervaardiging, van preproduksie tot verspreiding, met mekaar verbind en noodsaaklik is.

Die belangrikheid van verspreiding was veral ’n openbaring vir Sandra.

“Dis sinneloos om ’n produksie te skep sonder ’n duidelike plan om jou gehoor te bereik. Dié projek het my oë oopgemaak vir die feit dat ’n strategie vir toegang tot die mark net so belangrik soos die storie self is.”

Sandra vertel van haar eerste ervaring as ’n kamera-operateur toe sy op die stel van ’n kortfilm vir Zee World gewerk het.

“Dit was ’n oomblik wat my verander het. Om eienaarskap te neem in ’n ruimte waar vroue se vaardighede soms bevraagteken word, was bemagtigend. Ek het aan myself en ander bewys dat ek in hierdie veld hoort.”



STORIES

Gewapen met haar MTF-opleiding wil, Sandra graag dokumentêre programme met trefkrag vervaardig wat maatskaplike kwessies in Namibië takel.

“Daar is soveel stories in Namibië wat nog nie vertel is nie of wat tot blote kort nuusstories verminder is. Ek wil daardie gaping vul deur hoëkwaliteit- dokumentêre programme te maak wat nie net inligting verskaf nie, maar ook oplossings inspireer.”

Sandra wil ook graag ’n verskil deur haar werk maak.

“Namibië het ’n rykdom van stories wat wag om gedeel te word. Ek is daartoe verbind om dit kreatief en opreg te vertel.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer