Gerhard Mohrmann met sy seuns Bernhard en Aedin. Foto verskaf
Gerhard Mohrmann met sy seuns Bernhard en Aedin. Foto verskaf

Steampunk blaas lewe in hoofstad

Iréne-Mari van der Walt
Gerhard Mohrmann se voorliefde vir whiskey en sy passie om te sweis en meubels te maak, het hom aangespoor om die Steampunk Factory, asook die Steampunk Bar & Lounge te begin, wat Vrydag sy deure geopen het.

Steampunk is ’n subgenre van wetenskapfiksie wat baie uit konsepte van fantasie en retrofuturistiese tegnologie leen. Die estetiese (filosofie van mooiheid) waardes wat verband hou met die steampunk genre, vertoon hoofsaaklik onderdele van motors en masjinery vanuit die 19de eeu wat deur stoom aangedryf is, en word ook volgens hom deur modes uit ander tydperke soos die Viktoriaanse era, beïnvloed.

“Ek het jare gelede my motorfiets onder ’n boom in my erf oorgedoen, maar dit was ’n gesukkel met die stof en die blare en daar het ek reeds gedink as ek ’n pakhuis saam met ’n paar vriende kan huur, kan dit lekker werk. Hierdie idee het toe vorm aangeneem en ek het gedink dit sou lekker wees as ons ’n braai en ’n yskas met ’n paar drankies kan hê. Ek wou ’n lekker ‘man cave’ maak,” sê Gerhard.

Later toe sy seun, Bernhard, sonder inkomste gelaat is, het hy besluit dis die ideale tyd om sy idees ’n werklikheid te maak.

Gerhard het dus twee pakhuise gehuur – een waarin meubels, maskers en hoede gemaak en verfraai word, sodat hulle aan die steampunk estetika herinner. Die ander pakhuis is opgedollie met verskeie van sy eie skeppings en is nou ’n unieke kuierplek in die hoofstad waar besoekers jazz en die blues asook ’n lekker whiskey kan geniet.

Gerhard vertel dat hy verskeie soorte whiskey uit die buiteland bestel wanneer hy vir sy werk oorsee reis.

Sy klante kan dié whiskey by die Steampunk Bar & Lounge geniet. “Ons is steeds in Namibië, so daar sal Afrikaanse musiek ook wees,” sê Gerhard.

Omtrent twee jaar gelede het hy begin om whiskeyproe-geleenthede in sy huis vir vriende en kennisse aan te bied.

Hiér sê Gerhard het sy konsep behoorlik vlamgevat.

“My braai by die huis het ’n kroeg gehad, so ek het mense wat ek ken oorgenooi vir whiskeyproe-aande, maar jy kan mos nie enigiemand in jou huis inbring nie. As ek dit met lede van die publiek wou doen, sou dit inbraak op my privaatheid gemaak het en daar is voortdurend onderbrekings en so aan. . .”

In Junie 2022 het Gerhard homself afgevra hoekom hy nie nóú die bal aan die rol kry nie, en het onmiddellik begin soek na ’n ruimte waarin sy idees kon tuis wees.

“Ons het amper ’n jaar daaraan gewerk om alles op te stel. Ons het agt maande gewerk om ons geskiktheidsertifikaat te kry en daarna nog vier maande om ons dranklisensie te kry,” sê hy.

“Die groot droom is dat die Steampunk Bar & Lounge ’n unieke plek sal wees waar iemand ’n lekker whiskey en ’n lekker aand kan geniet,” sê Gerhard.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!