Steve nie meer op plesierboot van Kaapstad na Namibië
“Gaan braak eerder in jou tuin,” is Steve Hofmeyr se raad aan sy aanhangers wat kaartjies gekoop het vir ’n bootreis waarop sy optrede gekanselleer is.
Hofmeyr het Maandag in ’n video op Facebook sy komende konserte geadverteer, gedagtes gedeel oor die pas afgelope staatsrede (wat hy nie gekyk het nie) en gal gebraak oor die besluit om sy deelname aan ’n konsert op die MSC Sinfonia te kanselleer.
Hy was aanvanklik die bekendste kunstenaar wat aanstaande week sou optree in Lefra-produksies se Kappityt-fees op ’n vaart tussen Kaapstad en Namibië.
Hofmeyr se vertoning is egter gekanselleer, glo weens druk oor sy uitsprake rakende die politiek en die LGBTQI+-gemeenskap.
Johan (Sloet) de Villiers, stigter van die organisasie African-European Indaba, sê hy het die bestuur van MSC attent gemaak op die omstredenheid van Hofmeyr en sy uitsprake nadat hy op sosiale media gesien het die sanger is onder dié wat aan die fees sou deelneem.
Hy en Hofmeyr het in die verlede telkemale swaarde gekruis en De Villiers, wat in Amsterdam woon, het al voorheen op soortgelyke wyse ’n stokkie voor die sanger se optredes gesteek.
“Hofmeyr self is deur die jare by verskeie venues die deur gewys, nie net in Nederland nie, maar ook internasionaal, nadat ons die verhuurders in kennis gestel het wie hulle op die verhoog gaan hê,” sê De Villiers.
“Ek gaan nie my tyd mors as hy vir ’n paar bakvissies en boerseuns in Wolmaransstad sing nie, maar as hy by maatskappye soos MSC betrokke raak, is dit ’n ander storie,” het hy Maandag gesê. “Gaan sing op ’ant Stienie se plaas of in ’n kroegie iewers, maar moenie verwag die groot maatskappye moet jou ondersteun nie,” sê hy.
Volgens De Villiers het voornemende passasiers, onder andere ’n paartjie van dieselfde geslag, hom uit Suid-Afrika genader om by MSC Cruises uitsluitsel te kry oor waarom hulle Hofmeyr toelaat om op hul skip op te tree. “Daar was ook ’n Suid-Afrikaanse bemarkingsmaatskappy wat MSC gekontak het ná aanleiding van inligting (oor Hofmeyr) wat passasiers verskaf het.”
Hofmeyr het Maandag in sy video te velde getrek teen die skeepsmaatskappy en ander wat hulle, na sy mening, skuldig maak aan oordrewe politieke korrektheid.
“MSC moes kies tussen hul linkse aktivis in Amsterdam en duisende mense – jy – wat ’n kaartjie bespreek het en mense soos ek wat hul skepe al vol maak vir tien jaar – twaalf jaar, eintlik. Hulle het die ‘woke snowflake’ gekies, so my raad aan jou is, kanselleer,” het Hofmeyr gesê.
“Kanselleer jou kaartjies op hul skepe, vermy hul skepe, al hul skepe. Spaar jou geld, spandeer dit elders. Ek sal nie weer op een van hul skepe klim nie, ek gee nie om wat hulle my aanbied nie. Ek hou nie van seesiek word nie. Jy kan mos by jou eie huis opgooi. Jy kan mos nou kots daar in jou tuin as jy wil. Wie het nou ’n kajuit nodig daarvoor?”
Thango Gombiza, MSC se bemarkingsbestuurder, het Maandag in ’n verklaring bevestig Hofmeyr sal nie meer op die skip optree nie, maar het benadruk dit was die organiseerders van die fees (Lefra Produksies) wat sy deelname gekanselleer het. “Dit is gedoen ingevolge die bestaande kontrak met die derdeparty-organiseerders. Die kontrak vereis dat hulle voldoen aan MSC Cruises se standaarde en waardes,” het Gombiza gesê.
“MSC Cruises is ’n gesinsmaatskappy en dit sal altyd sy waardes en beginsels bepaal.”
Frans Swart, Lefra Produksies se besturende direkteur, het beaam Hofmeyr is “onthef van sy vertoning op die Kappityt-fees weens sake- en kontraktuele ooreenkomste”. Swart het Hofmeyr se aanhangers om verskoning gevra en gesê Bobby van Jaarsveld sal nou in Hofmeyr se plek optree. Van Jaarsveld se suster Karlien sal ook optree in die plek van Demi Lee Moore, wat haar weens probleme met haar stem aan die fees onttrek het, het hy gesê.
Gombiza het bygevoeg: “Dit is belangrik om te noem die organiseerders sal Hofmeyr steeds sy volle besoldiging vir die vertoning gee. Voordat sy deelname aan die fees gekanselleer is, het die organiseerders ook die opsie aangebied om ’n konsert in Walvisbaai te hou, waar hy straks ’n groter gehoor sou hê, maar hy het dit van die hand gewys.”
Kyk Hofmeyr se volledige video hier (https://fb.watch/iGfQMXDs3b/) .
-Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie