Uitstalling kyk dieper as die oppervlak

‘n Eerste vir die galery
Yellow Submarine sal Bellhaus Atelier & Galerie se eerste groot groepuitstalling wees met nege kunstenaars.
Yandi Du Plessis
Bellhaus Atelier & Galerie is altyd aan die werskaf en bied hierdie keer ‘n groepuitstalling deur nege kunstenaars wat kuns-entoesiaste die geleentheid bied om ’n unieke versameling in ongesiene groottes en vorms te aanskou.

Met illustrasies, beeldhouwerke, afdrukke en foto’s – ‘n eerste vir die galery – sal ‘n wye verskeidenheid kunsmediums hierdie keer vir besoekers wag by die Yellow Submarine- uitstalling wat tot 10 Desember by die galery besigtig kan word.

Yellow Submarine sal Bellhaus se eerste groot groepuitstalling wees met werke deur Tina Basson, Hentie Burger, Chris Botha, Marianne Chapman, Trudi Dicks, Kudzanai Katerere, Heidi Louw, Elisia Nghidishange en Dewald Veldsman. Die galery sal getransformeer word deur vier groepinstallasiemure te bedek met sensitiewe, abstrakte en oorspronklike interpretasies van ‘n anderwêreldse onderwerp.

“Ons poog om kunsversamelaars en diegene wat Kersinkopies doen vir hierdie uitstalling te lok, aangesien ons bekostigbare kuns vir almal sal aanbied,” verduidelik Andrea Behnsen van Bellhaus.

“Dit dra natuurlik grootliks by tot die ontwikkeling en diversifikasie van ons plaaslike kunsmark,” voeg Marcii Magson, mede-eienaar van Bellhaus by.

“So, daar is baie om te verken tussen die wêrelde van ‘yellow’ en ‘submarine’, maar ook die kombinasie van ‘yellow submarine’, wat eens deur die Beatles gekonseptualiseer is as ‘n kinderliedjie.”

Terwyl die konsep Marcii se breinkind is, het sy ook kunstenaars leiding gegee om hul eie storie op te maak oor die ‘yellow submarine’ wat hulle uitdaag om weg te beweeg van die letterlike interpretasie.

“Ons almal woon in ‘n ‘yellow submarine’. Wat beteken dit ooit? Miskien dat ons in ons eie klein wêrelde leef maar steeds die sensitiwiteit het van dít wat van buite af kom, wie weet.”

Vir kurator Marcii was dit die perfekte titel vir die uitstalling omdat haar dogter haar onlangs geleer het om weer na kleur te kyk.

“Die kleur geel kom van my dogter wat my oë oopmaak om opnuut na kleur te kyk omdat ek gewoonlik na vorm, tekstuur en lyne kyk. Alle kleur vir Freya is geel, sy verwys na kleur as geel, so ek het kleur ook as geel begin sien.

“As jy aan geel dink, dink jy oor die betekenis van die kleur. Is dit die vrolike affodil, die boodskapper van die lente? Is dit ons lewegewende son; 'n bal van warmte en lig? Of is dit die kleur van siekte? Hoe dit ook al sy, geel se betekenis is deur ons lewens verweef. Dit is verkwikkend, dit stimuleer senuwees, kliere en brein, wat ons meer waaksaam en energiek maak. Geel versterk ons geheue en moedig kommunikasie aan. Dit is 'n kleur wat aktiwiteit en interaksie aanmoedig.

“Wanneer jy aan ‘n duikboot dink, kom die kleur geel moontlik in jou gedagtes op. ‘n Nou ruimte, selfs kloustrofobies, maar al wat dit eintlik is, is 'n boot wat in die see dryf, en is ons nie almal bewus van hoe onverken die sewe seë is nie?

In terme van Marcii se analise is ‘n duikboot die visuele interpretasie van die onderbewussyn.

“Alles wat ons bogronds toepas, kom van ’n diepgewortelde binnekant en om dit uit te druk, moet ons ondergronds gaan. Die duikboot is slegs onder die oppervlak. Dus, baie dieper as wat die geel duikboot vir Beatles-liefhebbers beteken. Ek het aan ‘n volle sirkel gedink, so as die sonsondergang die geel halwe sirkel is, is die duikboot die ander halwe sirkel onder die oppervlak,” sluit Marcii af.

Besoek die Bellhaus-galery vir die laaste uitstalling van 2022 en ontdek jou “yellow submarine”!

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!