Unieke omgewing inspireer unieke kuns
Uitstalling open 2 Maart
’n Tweede uitstalling van die werk wat tydens die 2022 Baker's Bay-kunstenaarslypskool geskep is, open binnekort in Windhoek.
Hierdie uitstalling open op 2 Maart by die Namibië Kunstevereniging (NAA) se galery. ’n Kunspraatjie met die betrokke kunstenaars sal op Vrydag 17 Maart plaasvind. Die bekendstelling, kunspraatjie en die uitstalling is oop vir almal. Dié kunswerke is vir die eerste keer vanaf 15 tot 24 Oktober 2022 in Oranjemund uitgestal.
Vanaf 1 tot 14 Oktober verlede jaar het 13 kunstenaars ’n kunstenaarslypskool by Baker's Bay in die Tsau ||Khaeb Nasionale Park (voormalige Sperrgebiet) in die afgeleë suidwestelike hoek van Namibië bygewoon. Hierdie kunstenaars werk in verskeie mediums en spesialiteite, wat hul unieke reaksies op die ervaring van die slypskool en omgewing waarin hulle gedompel was, beïnvloed het. Die deelnemende kunstenaars was Hercules Viljoen, Kambezunda Ngavee, Isai Alfeus, Wayne Goliath, Rachel Sakeus, Elisia Nghidishange, Ismael Shivute, John Kalunda, Nicky Marais, Maria Mbereshu, Ann Mary Gollifer, Mia Nel, en Jakobina Nashikwele Gideon.
Die kunstenaars het vir 10 dae in die verlate myndorpie Baker’s Bay gewoon en gewerk. Hierdie afgeleë omgewing het ’n kans gebied vir die kunstenaars om hul kreatiewe skeppingsproses op ’n ononderbroke wyse na te streef. Hulle kon hierdie geleentheid gebruik om by mekaar te leer en deur die unieke omgewing en sy geskiedenis geïnspireer te word.
Die resultaat is ’n uitstalling van kunswerke wat in styl, medium en inhoud verskil, maar dieselfde stel kenmerkende toestande deel waarin hulle gevorm is. Die uitstalling sluit foto’s, afdrukke, skilderye en gemengde media-beeldhouwerke in. Baie kunswerke vier die unieke biodiversiteit van die gebied, van Wayne Goliath se linoleumdruk “The Lone Ranger” tot Isai Alfeus se gemengde media-kunswerk “Save Jackals”.
Ander kunswerke soos Jakobina Gideon se skildery “Wonders around me”, Ismael Shivute se beeldhouwerke “Cave No 1 – 4” en Maria Mbereshu se tekstielwerk “Pebbles” beklemtoon die natuurlike skoonheid van die Tsau ||Khaeb Nasionale Park en die groter omgewing.
Mia Nel se “Bogenfels Pink House”, John Kalunda se “Baker’s Filling Station”, “Day I – Baker’s Bay” deur Ann Gollifer, en Nicky Marais se “Red House” besin almal oor die maatskaplike geskiedenis en tekens van verlatenheid in die leë en vervalle geboue en strukture.
Rachel Sakeus se foto”s en Hercules Viljoen se skilderye soos “Sentry” fokus op die strukture van hierdie voormalige myngebiede wat verband hou met hul oorspronklike funksie van diamantontginning, en die streng veiligheidsmaatreëls wat daar toegepas is .
“The Latest Explorers” deur Elisia Nghidishange is ’n gemengde media-beeldhouwerk wat sy geskep het nadat sy haar medekunstenaars se interaksie met hierdie nuwe omgewing waargeneem het.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie