Veelsydige Danene blink uit by kookboek-Oscars

Namibiese fynproewerresepte uit die boonste rakke
From the Veld is Danene van der Westhuyzen se "viering van die Namibiese tradisie om uit die grond te leef".
Yandi Du Plessis
Danene van der Westhuyzen het haar land se naam hoog gehou by die Gourmand World Cookbook Awards wat van 5 tot 5 Junie in Umeå, Swede, gehou is.

Dié toekenningsgeleentheid word gereeld as die Oscars van die kookboek-bedryf beskryf.

From the Veld, Danene se eiesoortige resepteboek wat op 25 Februarie verlede jaar bekend gestel is, is bekroon as beste in die wêreld in die Vleis- en Hotelkategorieë, en het ’n tweede plek in die Fondsinsameling-kategorie behaal.

Sy het dié prestasie as ’n “ongelooflike ootmoedigende ervaring” beskryf. Sy het bygevoeg: “Die toekenning was regtig onverwags, maar beteken só baie — dat Namibië se geskiedenis en erfenis so ryk is en erken en waardeer word. Dat, alhoewel ons land en sy mense deur swaar tye gaan, die waarde van familie, geskiedenis, die delikate balans van die natuur en wat dit aan ons voorsien en daarom dissipline en respek kweek, van onskatbare waarde is.

“Die groter buitewêreld ken dit nie meer nie en is jaloers. Ons is deelnemers, nie slegs toeskouers nie. Ek salueer Namibië en my mense, en bring met trots hierdie pryse huis toe!”

From the Veld is Danene se “viering van die Namibiese tradisie om uit die grond te leef”.

Hierdie boek is propvol resepte wat oor die jare ontwikkel is deur haar familie, vriende en mede-Namibiërs, en by Aru Game Lodges – wat sy en haar man, Gysbert, bestuur – se twee wildplase, Kalakwa en Veronica, vervolmaak is.

“Met hierdie boek wil ek ons benadering deel om die natuur se gawes bedagsaam en verbeeldingryk te gebruik. In ’n tyd wanneer ons almal ’n meer betekenisvolle manier van lewe soek, spreek hierdie boek van veerkragtigheid en respek vir die natuur.”

Danene beskryf die resepte in die boek as ’n huldeblyk aan “almal wat ons Namibiese sonsondergange en kameeldoringhoutvure onthou, en aan diegene wat hoop om dit binnekort te ervaar”.

Volgens haar gaan 15% van die wins uit die verkope van hierdie boek aan die Namibië Kamer van die Omgewing (NCE) se program wat bewaringsprojekte in Namibië finansier.

BEWARING DEUR JAG

Danene vertel sy is grootgemaak met ’n sterk gevoel van waardering en verantwoordelikheid teenoor die natuur.

Sy glo sterk dat bewaring ’n integrale rol in Namibië speel – iets wat ’n sleutelrol in die samestelling van From the Veld gespeel het.

“In Namibië maak jagters nie net dood nie. Hulle is natuurliefhebbers wat volhoubare en etiese jagmetodes soek wat bewaringstrategieë help, om wild en sy habitatte te beskerm. Hulle is mense wat die natuur aktief wil ervaar, mense wat verantwoordelikheid wil neem vir waar hulle kos vandaan kom. Mense wat hul verwantskap met wild erken. Ek is ’n jagter en ek is trots daarop. Deur te jag het ek geveg vir my etes, en onthou dat eet ’n voorreg is. Ek het geleer watter gewig dit dra om ’n dier se lewe te neem sodat ek kan lewe.

“In Namibië is jag ’n integrale deel van ons bewaringsmodel; dit bevoordeel gemeenskappe, wild, natuurlike ekosisteme en habitatte. Dit beteken ook dat ons gehalte-wildsvleis geniet, natuurlik op sy beste as dit organies, vrylopend, eties geproduseer en laag in cholesterol is.”

In ’n onderhoud met Conservation Namibia voor die boekbekendstelling, het Danene vertel hulle gesin geniet die selfonderhoudende leefstyl wat met die plaaslewe gepaard gaan.

“Ons jag en versamel soveel kos as wat ons kan op ons plase. Omdat ons 200 kilometer van die naaste dorp af woon, het ons geleer om die meeste te maak van wat ons het. En ons verkies dit so. Dis ’n goeie verskoning om elke oggend die gange met die reuk van varsgebakte brood te vul. Ons maak ons eie koeke, croissants en beskuit, saam met verskeie konfyte. Ons melk ons jersey-koeie elke dag vir ’n vars koppie, en maak al ons eie botter, room, jogurt en ricotta-kaas. Ons kweek ons eie groente, hoofsaaklik met ondergrondse wortels, aangesien ons ’n aggressiewe swart ryp in die winter het wat geen groen duim kan baasraak nie. Om hierdie rede is my kruietuin ook ’n kosbare besitting! Aan die begin van die lente versamel ons volstruiseiers en vries die meeste daarvan om ons tot die volgende lente te neem. Die einde van die somerreën is die tyd om die gebarste aarde te fynkam vir n’xabas, die kosbare Kalahari-truffel.”

WIE IS SY?

Danene se passie vir regverdige en etiese jagpraktyke het die afgelope jare haar betrokkenheid by talle bewarings- en teenstropingsorganisasies gemotiveer.

Sy is die voormalige president van die Namibië Professionele Jagtersvereniging (Napha), voorsitter en uitvoerende hoof van Professionele Jagverenigings van Afrika (OPHAA) en ’n trusteelid van die Hunters United Against Poaching-fonds. Sy is as ’n raadslid van die Namibiese Natuurbewaringsraad aangestel en is gekies om op die Dallas-safariklub (DSC) se bewaringsadviesraad te dien.

Sy is een van net ’n handjievol gekwalifiseerde vroulike professionele jagters in Namibië en die eerste vroulike professionele jagter wat vir gevaarlike wildjag in Namibië gekwalifiseer het. As gekwalifiseerde oogkundige doen sy ook vrywillige werk in dié verband in haar vrye tyd.

From the Veld is by die groot boekwinkels in Windhoek beskikbaar, of kan aanlyn by fromtheveld.com bestel word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!