57 illegal fences removed in Tsumkwe
57 illegal fences removed in Tsumkwe

57 onwettige heinings in Tsumkwe verwyder

Ministerie ‘ernstig’ oor kommunale grondadministrasie
Volgens die ministerie se woordvoerder is aansienlike vordering in dié verband gemaak, gegewe die kompleksiteit en sensitiwiteit van die kwessie van kommunale grondbestuur.
Yandi Du Plessis
Ellanie Smit – Die ministerie van landbou, water en grondhervorming het tot op hede die verwydering van 57 onwettige heinings in Tsumkwe gefasiliteer. Daarbenewens moet 42 onwettige heinings nog getakel word.

Die ministerie se woordvoerder, Jona Musheko, het gesê heinings wat oor altesaam 158 kilometer strek, is verwyder.

Hy het beklemtoon die ministerie het nie versuim om die wette wat die administrasie van kommunale grond in Tsumkwe reguleer, toe te pas nie. Die ministerie is ook van plan om sy verantwoordelikheid na te kom om toesig te hou oor ordelike kommunale grondadministrasie, het hy gesê.

Dit volg op berigte in die plaaslike media oor grondgeskille, onwettige weiding en onwettige heinings in die Tsumkwe-distrik.

“Die ministerie stem nie saam met die bewerings dat die wette wat grondadministrasie reguleer, nie in Tsumkwe gevolg of geïmplementeer word nie. Dit is verkeerd om sulke aantygings te maak aangesien dit nie bevorderlik is nie, maar hoogs verdelend.”

‘AANSIENLIKE VORDERING’

Volgens Musheko het die ministerie ondersoek ingestel en 137 onwettige heinings geïdentifiseer.

’n Bedrag van N$349 407 is bestee om heinings van 19 kilometer in Kano Vlei, 11 km in Bubi Pos, 23 km in !Kadu en ’n deel van Babi Pos en 105 km by #Ha-Du te verwyder.

“Dit is nie ’n mislukking nie, dit is nogal aansienlike vordering gegewe die kompleksiteit en sensitiwiteit van hierdie kwessie.”

Musheko het bygevoeg die ministerie is bewus van die stadige vordering in die land in die verband, veral gedurende die pandemie.

“Die ministerie is nie bewus van enige van sy amptenare wat by grondgrypery in Tsumkwe betrokke is nie. Die ministerie doen egter 'n beroep op die publiek en individue wat moontlik kennis dra van onreëlmatige grondtoewysing of –grypery – waarby ministeriële beamptes betrokke is – om na vore te kom en sulke gevalle sonder vrees by die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) aan te meld.”

VERWYDER HULLE

Intussen het die ministerie daarin geslaag om oortreders – wie se heinings as onwettig bewys is – aanspreeklik te hou deur hulle te beveel om die heinings te verwyder. Dit ingevolge die bepalings van die Wet op Grondhervorming, het Musheko gesê.

Volgens hom is 34 mense beveel om hul heinings op hul eie koste te verwyder.

Sommige gevalle van onwettige heinings is ook deur die appèltribunale bereg en, benewens die 34 heinings wat vrywillig verwyder is, is vyf heinings verwyder onder bevel van die appèltribunale.

“Verder moes 18 heinings ingevolge hofbevele verwyder word.”

Die ministerie is besig om, met die ondersteuning van ander belanghebbers, die eienaars van onwettige heinings op te spoor wat nog verwyder moet word om hofdagvaardings aan hulle te beteken.

“Dit is nie maklik om die eienaars op te spoor nie, want nie almal van hulle is bekend nie, en dit is ook onbekend waar hulle bly.”

Die ministerie sal sy ondersoeke voortsit, het hy bygevoeg.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer