Aarbeiprodusente ‘boer met genade’

Baanbrekerswerk midde talle uitdagings
Die boerdery Strawberry and Flower beplan om vanjaar nog van sy gesogte produk uit te voer, terwyl sy boerdery weekliks uitgebrei word.
Elvira Hattingh
Om met aarbeie te boer, is iets waaroor die Botes-egpaar jare lank van gedroom het. Nie net is die droom verwesenlik nie, maar Jeanine en haar man, Ettiene, beplan om teen die tweede helfte van die jaar van hul aarbeie te begin uitvoer, terwyl hulle tans weekliks 5 000 nuwe plantjies aanplant. Boonop het hulle reeds 20 gevestigde tonnels op hul grond, net suid van die Omeya-gholflandgoed, het Jeanine aan AgriMonitor vertel. “Ek is soms self stomgeslaan oor wat by ons gebeur. Ons boer met genade. My man sê altyd dis ‘gelooflik’, nie ongelooflik nie,” vertel Jeanine van hul boerdery Strawberry and Flower. Sy sê dit is altyd bevredigend om mense se reaksie te sien as hulle besef dat dit moontlik is om in Namibië met aarbeie te boer – op grootskaal en om boonop goeie gehalte produkte te lewer. Jeanine sê egter dit was nie maklik om tot hier te kom nie. Hulle het in 2020 voltyds met aarbeie begin boer, maar het aanvanklik duur “skoolgeld” betaal. Die feit dat daar nie werklik plaaslike mentors beskikbaar was nie en aarbeie nie ’n “maklike” gewas is nie, het beteken hulle moes in praktyk alles oor die plant van aarbeie leer. “Dit was maar die handleiding van die lewe wat ons gebring het tot waar ons nou is. Ons het op die harde manier geleer, want daar was nie baie mense wat ons kon help nie. Die teoretiese kennis kan jou in elk geval net so ver help,” vertel sy. BOER OP KNIEË Jeanine sê hulle het aanvanklik in die buiteland gebly voor hulle sowat sewe jaar gelede terug Namibië toe gekom het. Sy meen dit het hulle ook anders laat dink oor die moontlikhede van boerdery in Namibië. “’n Aarbeiboerdery is ’n vreemde konsep vir Namibië,” sê sy, “maar ’n mens moet soms bietjie buite die boks dink. “Ek is egter opgewonde as mense vir my vra hoe boer ons en hoe kry ons dit reg om aarbeie in Namibië te laat groei. “Ek kan nie werklik uit ’n landbou-oogpunt ’n resep gee oor wat ons doen wat van die boerdery ’n sukses maak nie. Ek kan wel vir jou sê, ons boer op ons knieë,” vertel Jeanine. Sy sê toe hulle destyds met die boerdery begin het, het talle mense getwyfel of so iets in hul omgewing sou werk – veral omdat daar sterk winde in die omgewing waai en dit in die winter baie koud raak. “Talle mense in die omgewing het bevraagteken of hulle die regte ding doen en wou insette lewer oor hoekom ons dit nié moes doen nie, maar nie werklik iemand wat ons kon bystaan oor hóé om dit te doen nie,” vertel sy. VARIëTEIT Jeanine sê aarbeie is nie ’n maklike gewas om te kweek nie omdat alle faktore perfek moet saamwerk. “Ek kry dikwels mense wat kla dat hul aarbeie dalk mooi groei, maar nie aarbeie dra nie. Ander se plante vrek weer. “Met aarbeie is daar geen ruimte vir foute nie. Aarbeie soek die perfekte hoeveelheid water, sonlig en byvoeding. Dit hang alles van die variëteit af wat jy gebruik. By ons raak dit baie warm in die dag en baie koud in die nag. Die variëteit wat ons gekies het, is geskik vir die toestande. “Die variëteit wat jy kies, is jou heel belangrikste faktor. Daarbenewens kan ek nie waarborg dat die variëteit wat jy kies, noord, suid en oral in die land gaan werk nie. “Jy kry ander variëteite wat byvoorbeeld in Egipte groei en heeltemal ander omstandighede vereis. Ek en my man het, vandat ons jare gelede begin praat het oor aarbeie, begin navorsing doen oor variëteite. Dit is nie iets wat oornag gebeur nie en ons het baie lank ons ‘huiswerk’ gedoen. “My raad is, as jy aarbeie wil kweek, moet jy nie kyk wat jou buurman doen nie. Gaan doen self die huiswerk oor waar jy wil plant en kies die regte variëteit. “Dit maak aarbeie baie moeilik om kommersieel te groei. Na my mening is dit ’n baie sensitiewe gewas. Ons spot altyd en sê, ‘you must hit the sweet spot’. Dit is ’n presiese wetenskap, anders werk dit nie,” vertel Jeanine. VEREISTES “Aarbeie het oor die algemeen baie water nodig. Ons het gesien hoe minder water ons gee, hoe kleiner is die vrugte. Meer water beteken groter vrugte. Aarbeiplantjies moet ook elke dag water kry, en meer as een keer,” sê sy. “Ons variëteit soek sanderige grond wat goeie dreinering het. Sover jy kan, moet dit vry van aalwurms wees.” Jeanine sê hulle plant in die grond en maak van ’n grondbedekking gebruik – in hulle geval ’n plastiekbedekking. “Die hoofdoel is om die grond klam te hou en vir onkruidbeheer. “Voeding is uiters belangrik vir aarbeie en dis ’n kuns om die samestelling volgens jou grond en water reg te kry. Ons het ons water by die Stellenbosch Universiteit laat toets voor ons enigiets geplant het. Daarvolgens het ons voedingsaanvullings saamgestel. “Ons het onlangs ook na ’n 100% organiese boerdery oorgeskakel. Die aanvanklike rede hiervoor was omdat kunsmis onbekostigbaar geraak het. Kalium, waarvan ons baie nodig het, is van die duurste aanvullings en ons moes ander alternatiewe begin ondersoek,” vertel sy. Die byvoeding word deur die drupbesproeiing toegedien. Jeanine sê Namibië is ook bekend vir aalwurms in sy grond, terwyl aarbeie baie vatbaar vir dié pes is. “Daarbenewens het aarbeivrugte son nodig om te verkleur of ryp te raak, maar die fel Namibiese son is nie ‘vriendelik’ teenoor aarbeie nie. Ons kan nie ons variëteit in direkte sonlig plant nie, alhoewel daar aarbeivariëteite is wat dit kan hanteer. “Die eintlike rede hoekom ons ons aarbeie in tonnels toemaak, is vir die voëls en insekte.” Jeanine sê hulle het ook nie bye nodig vir bestuiwing nie, want al hul plante is vroulik en selfbestuiwend. OESSEISOEN Hoewel Jeanine nie bekend wil maak met watter variëteit hulle boer nie, sê sy hulle is gelukkig dat die aarbeie tans floreer en daar ’n magdom vrugte beskikbaar is, terwyl dit buite seisoen vir aarbeie in Suid-Afrika is. “Google sal vir jou sê ’n aarbeiplant gee vir jou tussen 40 en 70 vrugte per seisoen, maar ons ervaring is dat dit verkeerd is. Ons kry baie meer as dit,” vertel sy. “Die aarbeie hang in trosse aan ons plante.” Jeanine se aarbeie is ook van ’n variëteit wat dwarsdeur die jaar vrugte dra, terwyl ander soorte wat dikwels in Suid-Afrika gebruik word, meer seisoenaal van aard is en tussen September en Desember of Januarie vrugte dra. “Dit hang egter van die variëteit af wat jy gebruik.” DUUR “’n Aarbeiboerdery is harde werk en vereis baie van jou aandag. Dit is ook baie duur, die saad is duur en so ook kommersiële aarbeiplante. Die insetkoste van so ’n boerdery is astronomies,” vertel sy. “Jy word egter beloon met ’n goeie opbrengs – op grootskaal. Jy het ook nie ’n groot stuk grond nodig nie, maar dit is ’n groot kapitale uitleg en bly ’n groot risiko,” vertel Jeanine. Sy meen ’n lewensvatbare kommersiële boerderye begin op sowat 250 000 plantjies, want dit kan jou in staat stel om op grootmaat te begin lewer. Jeanine sê hulle het hul boerdery met saad begin. “Dit het baie lank geneem om eerstens permitte te kry om die saad in te voer en die ontkiemingsyfer vanaf saad is baie laag – net sowat 30%. Ons het klein begin en ons vermeerder dit van ons eie plante. “Ons verkoop tans glad nie van ons plante nie, ons plant al ons eie plante self.” Sy sê hulle het pas weer ’n nuwe nethuis opgesit wat omtrent so groot soos ’n rugbyveld is, en wat hulle besig is om vol te plant. MOONTLIKHEDE Jeanine sê ’n aarbeiboerdery het verskeie moontlikhede en die vertakkings sluit verder in die kweek en verkoop van die plantjies self, asook om die plaas vir die publiek oop te stel om aarbeie te pluk en sosiale geleenthede aan te bied. “Ons het begin om die publiek by ons plaas te betrek, sodat hulle van die vrugte kan kom pluk. Ons sal ook altyd die plaaslike mark met produkte wil bedien, maar uiteindelik is die plaaslike mark nie so groot vir vars aarbeie nie. Ons einddoel is om uit te voer.” Jeanine sê op Saterdae kom tussen 400 en 500 mense om aarbeie te kom pluk. “Die mense geniet dit vreeslik en dit is nog iets relatiefs nuut vir Namibiërs, vertel sy. Jeanine sê hulle gee nie om om mentors vir mense te wees wat graag met ’n aarbeiboerdery wil begin nie, juis omdat daar min mentors was toe hulle begin het. Intussen nooi hulle mense uit om oor naweke die aarbeiplaas te besoek, waar hulle self van die vrugte asook blomme kan pluk en kinders selfs op perde kan ry. Besprekings kan per WhatsApp by 081 875 4131 gedoen word. Belangstellendes kan hulle ook op Facebook onder die naam “Grow Getters Strawberry Farm” volg. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!