Die veteraanboer, Mike Venaani (sr.) FOTO internet
Die veteraanboer, Mike Venaani (sr.) FOTO internet

Agribank wil Venaani sr. se plaas opveil

Elizabeth Kheibes
Ná jare se regsgedinge en vertragings beweeg Agribank nader daaraan om ’n deel van ’n plaas in die Omahekestreek wat aan die Popular Democratic Movement (PDM) se parlementslid, Mike Venaani (sr.), behoort, op te veil.

Die veiling hou verband met agterstallige skuld wat oor 18 jaar strek.

Die eiendom is die middelpunt van ’n uitgerekte finansiële dispuut tussen Agribank en die 74-jarige wetmaker. Die dispuut is in ’n stadium teruggetrek, maar die bank het egter nou pogings verskerp om met die verkoop van die betrokke eiendom voort te gaan.

Verlosia Kharuxas, ’n verteenwoordiger van die regsfirma Angula & Co wat die saak in 2023 oorgeneem het, het die jongste verwikkelinge bevestig.

“Toe ons begin het, het ons instruksies van die kliënt [Agribank] ontvang om te vra vir veilingsdatums vir die verkoop van die plaas. Die verkoop van die plaas is toe geskeduleer, maar hulle het later vir ons gesê om dit te kanselleer.

“Agribank het ons egter vanjaar weer opdrag gegee om veilingsdatums te kry en die verkoop te fasiliteer,” het Kharuxas verduidelik.

Sy wou egter nie verdere besonderhede oor die afhandeling van die saak of ’n spesifieke veilingsdatum verskaf nie.



FINANSIëLE GESKIEDENIS

Die regstryd dateer terug na ’n reeks leningsooreenkomste tussen Agribank en Venaani (sr.).

Volgens hofdokumente het Venaani (sr.) in onderskeidelik 2007 en 2011 lenings van Agribank ter waarde van N$2,5 miljoen verkry.

Die eerste lening wat op 24 Augustus 2007 toegeken is, was vir N$1,5 miljoen. Laasgenoemde het N$1,4 miljoen vir die aankoop van deel A van Plaas Timor nr. 342 ingesluit en N$63 767 vir oordragverpligtinge en koste.

Die lening het ’n terugbetalingstydperk van 25 jaar gehad met ’n rentekoers van 4,89%. Hofdokumente dui daarop dat Venaani agter geraak het met die betalings wat daartoe gelei het dat die skuld teen April 2019 tot N$2,1 miljoen opgehoop het.

In ’n tweede ooreenkoms op 19 Mei 2011 het Venaani ’n bykomende lening van N$665 600 ontvang om lewende hawe te koop. Die bedrag het N$547 000 vir 50 beeste, 50 verse en vier bulle ingesluit, sowel as N$8 600 vir verbandfooie.

Dié lening wat terugbetaalbaar was oor tien jaar, het ’n rentekoers van 9,25% gehad. Teen 2019 het die uitstaande betalings vir hierdie lening tot N$958 103 opgehoop.



REGSPROSEDURES

Weens die feit dat die paaiemente voortgeset nie betaal is nie, het Agribank regstappe begin om die uitstaande bedrae te verhaal.

Die bank het ’n hofbevel aangevra wat verklaar dat die plaas gebruik kan word om die skuld te dek.

Die aanvanklike hofaansoek het vir ’n betaling van N$2,1 miljoen plus rente vir die eerste lening en N$958 103 plus rente vir die tweede lening gevra.

Die eiendom wat 3 848 hektaar beslaan, is as sekuriteit gebruik vir die verbande B6608/2007 en B3502/2011.

Ten spyte van hofprosedures het vertragings in die uitvoering daarvan tot die herhaalde uitstel van die veilingsproses gelei.

Met Agribank se jongste regstappe en skuldinvordering gaan regsverteenwoordigers weer probeer om ’n veilingsdatum vas te stel om die saak af te handel.

Terwyl die presiese datum van die veiling nie bekend gemaak is nie, dui die hernude druk deur Agribank op ’n voorneme om die verkoopproses te finaliseer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer