Die APV se planne vir koringproduksie op groenskemas sal nie vanjaar al realiseer nie. FOTO PEXELS.COM
Die APV se planne vir koringproduksie op groenskemas sal nie vanjaar al realiseer nie. FOTO PEXELS.COM

APV se koringdroom op lange baan geskuif

Drie jaar té lank vir korttermynooreenkoms
Plaaslike akkerbouers sal, soos almal anders, in die ry moet staan om groenskemas vir koringproduksie te kan huur.
Elvira Hattingh
Aangesien die Akkerbou Produsentevereniging (APV) die groenskemas vir so lank as drie seisoene vir koringproduksie wil huur, moet hulle eerder – soos almal anders wat daarin belangstel om die skemas te huur – aan die formele bieproses vanaf einde Mei deelneem.

Só het mnr. Calle Schlettwein, minister van landbou, water en grondhervorming, Vrydag op die APV se versoek gereageer.

Dit kom nadat die APV, verbonde aan die Namibië Landbou-unie (NLU), onlangs ʼn openbare-private-vennootskap (PPP) vir die regering se noordelike groenskemaprojekte voorgelê het.

Die voorstel was om die groenskema-besproeiingsprojekte te benut om koring in die 2022-produksieseisoen te produseer met die oog om tekorte, wat weens die konflik in die Oekraïne veroorsaak word, aan te vul.

Dit sou beteken dat aanplantings reeds vanaf middel Mei tot middel Junie moet plaasvind, terwyl dit weer in die eerste twee weke van November gestroop sou word.

In ʼn verklaring wat Vrydag deur die ministerie uitgereik is, sê Schlettwein egter die APV het tydens vroeë besprekings bekend gemaak dat hulle verskeie skemas vir ten minste drie jaar of drie seisoene sou wou huur.

“’n Huurooreenkoms van so aard is nie moontlik sonder ʼn behoorlike bieproses volgens nasionale huurprosesse nie en daarom het die ministerie die vereniging aangeraai om eerder te reageer op ons versoeke vir voorstelle (RFP’s) vir die huur van groenskemas. Dit sodat die groenskemas vir lank genoeg gehuur kan word om ʼn opbrengs op hul belegging te kry. Die RFP’s sal stuk-stuk vanaf die einde van Mei gepubliseer word,” het Schlettwein gesê.

Hy het verder gesê die voorstel van die APV word beskou as ‘n aanduiding van die private sektor se belangstelling in ʼn markgeleentheid – vir alle private operateurs en nie net lede van die vereniging nie. As die voorstel dus aanvaar sou word, sou dit oopgestel gewees het vir alle belangstellendes om deur middel van ʼn kort termyn uitdrukking van belangstelling (EoI) te toon dat hulle van die geleentheid gebruik wil maak, het hy verduidelik.

“In die tussentyd sal die ministerie, in samewerking met die groenskema-bestuurders, voortgaan om waar moontlik, koring aan te plant.

“Ons het die geleentheid om ‘n dreigende krisis self te oorkom,” het hy gesê.

Intussen het die APV verlede week op mediaberigte oor hul voorstel reageer deur te sê die doel van die voorstel aan die minister was om vir produsente ʼn geleentheid te skep om ʼn bydrae tot voedselsekuriteit te lewer en die regering te help om sy doelwitte te bereik.

“Die APV, as ʼn regeringsvennoot, voel daar is ʼn behoefte om plaaslike produksie te fasiliteer en regeringsdoelwitte te ondersteun om selfvoorsienend te wees. Die APV het egter geen jurisdiksie oor regeringsprojekte nie,” het die vereniging gesê en enige verdere vrae na die ministerie verwys.

Die APV sê in 2021 alleen het die land ongeveer 85% van sy koringvraag – of 104 847 ton – ingevoer. Plaaslik is 18 459 ton geproduseer, wat 15% van die vraag is.

Die regering likwideer tans sy Agribusdev-agentskap, wat vroeër gebruik is om sy groenskemaprojekte te bestuur. Die regering beplan om Agribusdev oor ‘n tydperk van drie jaar te likwideer en het N$229 miljoen vir sy daaglikse bedrywighede tydens die proses begroot.

Schlettwein het tydens die Namibië Beleggersberaad in Dubai in Maart gesê dat groenskemas voorts aan PPP's beskikbaar gestel sal word.

“Ten einde private kapitaal optimaal te benut en om die volgehoue produksie en produktiwiteit van groenskemas te verseker, het die regering nou in beginsels besluit om die 11 groenskemas uit te verhuur.

“Die eerste opsie sal wees om dit deur mededingende uitkontraktering en PPP’s te doen,” het hy gesê en bygevoeg die skemas sal voetstoots uitverhuur word.

Die regering het in totaal reeds 11 groenskema-projekte ontwikkel, wat voortaan aan die private sektor uitverhuur sal kan word. Die groenskema-projekte moedig die ontwikkeling van akkerbouproduksie onder besproeiing aan, met ’n teiken van sowat 9 000 hektaar langs Namibië se standhoudende riviere op sy grense. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!