Die Akkerbouprodusente-vereniging (APV), verbonde aan die Namibië Landbou-unie (NLU), bied aan om die regering se groenskemas in die Noorde te bestuur. Foto argief
Die Akkerbouprodusente-vereniging (APV), verbonde aan die Namibië Landbou-unie (NLU), bied aan om die regering se groenskemas in die Noorde te bestuur. Foto argief

APV se plan vir graanproduksie

Groenskema-PPP voorgestel
Ogone Tlhage
Die Akkerbouprodusente-vereniging (APV), verbonde aan die Namibië Landbou-unie (NLU), het ‘n openbare-private-vennootskap (PPP) vir die regering se noordelike groenskemaprojekte aan die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, voorgelê.

Die APV kyk tans na koringproduksie en sê in 2021 alleen het die land ongeveer 85% van sy koringvraag – of 104 847 ton – ingevoer. Plaaslik is 18 459 ton geproduseer, wat 15% van die vraag is.

Die regering likwideer tans Agribusdev wat vroeër gebruik is om sy groenskemaprojekte te bestuur. Schlettwein het voorheen aangekondig dat groenskemas vir PPP's met die private sektor ’n moontlikheid sal wees.

Die regering beplan om Agribusdev oor ‘n tydperk van drie jaar te likwideer en het N$229 miljoen vir sy daaglikse bedrywighede tydens die proses begroot.

Volgens die vereniging sal die hoofdoelwit wees om van die bestaande groenskema-besproeiingsprojekte in die Noorde te benut om koring in die 2022-produksieseisoen te produseer.

Die aanplantingsproses sal van middel Mei tot middel Junie moet wees, terwyl stropery gedurende die eerste twee weke van November sal plaasvind.

“Die APV wil graag die proses vergemaklik vir produsente/groepe kommersiële boere en die landbouministerie om ‘n PPP te betree. Die hoofriglyne sal twee verskillende winsdeelvoorstelle wees, afhangend van die beskikbare masjinerie, implemente en infrastruktuur. Produsente sal alle insette soos diesel, kunsmis, sade en chemikalieë finansier,” lui die verklaring.

Intussen het die vereniging op mediaberigte oor hul voorstel gereageer deur te sê die doel met die brief aan die minister was ʼn voorstel om vir produsente ʼn geleentheid te bied om ʼn bydrae tot voedselsekuriteit te lewer en die regering te help om sy doelwitte te behaal.

“Die APV, as ʼn regeringsvennoot, voel daar is ʼn behoefte om plaaslike produksie te fasiliteer en regeringsdoelwitte te ondersteun om selfvoorsienend te wees. Die APV het egter geen jurisdiksie oor regeringsprojekte nie,” het die vereniging gesê en enige verdere navrae na die ministerie verwys.

DEEL WINSTE

Die voorstel is dat winsverdeling, kapitaaluitgawes, herstelwerk en vervanging van heinings, veranderlike spoedaandrywings, pompe, spilpunte of onderdele daarvan, en enige herstelwerk aan masjinerie en implemente deur produsente geïnisieer en gefinansier sal word.

Hierdie kapitaalkoste sal van die ministerie se finale winsaandeel afgetrek en aan die produsent terugbetaal word.

Die vereniging het ook ’n stelsel voorgestel waar die winste 50/50 verdeel word en waar bestaande masjinerie, implemente en arbeidsmag by die groenskemaprojekte gebruik word; of ‘n stelsel waar dit 70/30 verdeel word en waar produsente alle masjinerie, implemente en arbeid verskaf.

Om op hoogte te bly van projekuitgawes word ‘n gesamentlike, gedetailleerde voorraadopname by die afskop van die projek by die groenskemaplaas wat die produsente gekies het, voorgestel.

“Hierdie aanvanklike voorraadopnameverslag word dan [by die ministerie] ingedien sodat dit op rekord geplaas kan word. By die voltooiing van die projek word die eindvoorraadopnameverslag weer ingedien, wat alle items wat aanvanklik aangeteken is, asook verbeterings en toevoegings, sal weerspieël,” het die vereniging gesê.

Ingevolge dié ooreenkoms het die vereniging gesê groenskemaplase wat in hierdie projekte gebruik is, sal dan in ‘n verbeterde operasionele toestand wees vir die volgende plantseisoene.

“Indien geen suksesvolle tenders in die volgende ses maande toegeken word nie, kan die bogenoemde sakeplan vir nog ses maande verleng word vir somergewasproduksie,” lui die verklaring.

KORINGTEKORT

In 'n voorstel aan Schlettwein, wat Republikein se susterkoerant, Namibian Sun, onder oë gehad het, het APA gesê die Rusland-Oekraïnse konflik het wêreldwyd tot 'n akute tekort aan koring gelei, en gesê hy glo dit kan voldoende koring produseer om die plaaslike vraag aan te vul terwyl die konflik in Oos-Europa voortduur.

“Die wêreld ervaar lae vlakke van koring. Die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne, sowel as stygings in brandstofpryse, vererger die situasie, wat veroorsaak dat pryse van items soos brood, pasta en meel styg, soos onlangs gesien is.

“Die APA glo dat die plaaslike landbousektor 'n deurslaggewende rol in hierdie moeilike tye kan speel deur plaaslike produksie met die hulp van die ministerie uit te brei," het dit gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!