Belowende markte wink vir skaapbedryf
Skrap kleinveebemarkingskema, vra rolspelers
Skaapprodusente is opgewonde oor die beplande ontsluiting van meer, winsgewende uitvoermarkte vir Namibiese skaapvleis.
Sou Namibië daarin slaag om belowende uitvoermarkte vir sy skaap in China, die Verenigde Arabiese Emirate en Noorweë te ontsluit, kan produsentepryse van selfs N$93,50 per kg, N$120 per kg en N$130 per kg realiseer.
Dié pryse is egter nie vasgestel nie en nog afhanklik van talle faktore, maar dien reeds as ʼn bewys dat daar baie goeie alternatiewe tot die Suid-Afrikaanse uitvoermark vir Namibiese skaapprodusente is – dit moet nog net ontwikkel word.”
Só gesels mnr. Jako van Wyk, die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) se ondervoorsitter.
Hy sê skaapprodusente is opgewonde oor die beplande ontsluiting van meer, winsgewende uitvoermarkte vir Namibiese skaapvleis, terwyl daar vir die eerste keer hoop is dat die kontroversiële kleinveebemarkingskema geskrap kan word.
Dit volg ná die ministerie van nywerheidsontwikkeling en handel aan rolspelers tydens ʼn onlangse vergadering die versekering gegee het dat hulle so ʼn versoek sal ondersteun, solank die regte kanale gevolg word.
Intussen het die Vleisraad van Namibië opdrag ontvang om ʼn formele versoek by relevante owerhede in te dien om die kleinveebemarkingskema finaal te skrap.
“Ons wil nie die Suid-Afrikaanse mark afskryf nie, ons wil net diversifiseer na ander markte.
“Ons kry tans uitstekende pryse in Suid-Afrika. Die prys vir lamsvleis in die Noord-Kaap is tans N$100 en in Upington is dit N$99. Die binnelandse pryse is tans swakker; dit is ongeveer N$83,00 per kg.
“Wat dit vir ons sê, is die dag as Hartlief hul fabriek heropen, sal hulle met die Suid-Afrikaanse prys moet meeding.
POSITIEF
“Die samewerking tussen Hartlief en produsente is egter die eerste positiewe wending in ʼn lang tyd vir die skaapbedryf. Dit is baie belangrik dat die vertrouensband tussen uitvoerabattoirs en produsente nou herstel word. Dit, om die uitvoerabattoir-been weer te verstewig,” het hy bygevoeg.
Van Wyk sê Hartlief se standpunt is dat as hulle nie binne ʼn vryemarkstelsel kan meeding nie, stel hulle nie belang om in dié sektor handel te dryf nie.
Hy sê toe die skema in 2004 in werking getree het, was die ooreenkoms dat produsente se plaaslike prys nie met meer as N$1,50 per kg mag verskil van wat hul eweknie in die Noord-Kaap betaal word nie.
“Hierdie is nooit toegepas nie. Inteendeel, daar was tye wat die produsente in Namibië tot N$8 minder per kilogram betaal is. As gevolg daarvan het ʼn groot vertrouensbreuk tussen produsente en uitvoerabattoirs ontstaan.
“Verskonings is altyd gemaak waarom ons laer pryse betaal word – onder meer dat ons afval kleiner is – maar as jy dieselfde skaap na Groblershoop neem, dan kry jy N$8 per kg meer.”
Hy sê produsente se standpunt was dat waardetoevoeging ook nie behoorlik plaasgevind het nie, terwyl dit die doel van die skema was.
“Skaapvleis is verder besig om ʼn nis-produk te word. Die hoeveelheid mense wat dit kan koop, raak al hoe kleiner en skuif na die middel- tot hoë-inkomsteklas. Ons sal dus hierdie markte moet oopmaak om vir ons alternatiewe te skep.
“Hierdie gaan egter nie net oor die abattoir wat sy sokkies gaan moet optrek nie, die produsent gaan ook na die tafel toe moet kom. As ʼn mens ʼn mark wil ontwikkel, moet jy konstant aan hom kan lewer. Ons produksie is siklies van aard vanweë ons seisoene, maar die produsent sal moet dink oor hoe ons deurlopend kan lewer.”
STUDIE
Die opdrag aan die Vleisraad om ’n versoek te rig om die skema te skrap, volg ná ʼn onlangse vergadering by die ministerie, waartydens ʼn afvaardiging van die LPO asook van Hartlief, ʼn voorlegging van die onlangs voltooide skaapwaardekettingstudie gemaak het.
Die LPO het, in samewerking met Hartlief, ʼn “deeglike studie gedoen waartydens ʼn markontleding gekyk het watter groothandelpryse in markte in Europa, die Midde-Ooste en Verre Ooste kan realiseer,” het Van Wyk verduidelik.
Die pryse is teruggewerk en elke fase van die skaapwaardeketting en die koste daarvan is ingereken om ʼn realistiese prys te bepaal wat aan die produsent betaal kan word.
Tydens die proses is markte in Europa, die Midde-Ooste asook Verre Ooste as haalbare, winsgewende markte geïdentifiseer.
Dit sluit in Noorweë – ʼn mark vir 400 ton ontbeende skaapvleis, waartoe Namibië reeds toegang het.
Vir ander markte soos China bestaan daar reeds ʼn handelsooreenkoms vir beesvleis, maar nog nie vir skaapvleis nie. As dit by die Midde-Ooste kom, sal daar oor halaal-ooreenkomste onderhandel moet word.
Intussen beoog Hartlief om reeds teen die einde van die jaar hul eerste verslagting en besending skaapvleis na hierdie markte te doen en die markte oor die volgende drie jaar ten volle te ontwikkel. Die plan is om teen 2025 hul fabriek by Mariental, wat 250 000 lammers per jaar kan slag, voluit te benut.
“Een ding is egter baie duidelik en ons en Hartlief stem saam, die kleinveebemarkingskema – wat soos ʼn swaard oor ons koppe hang – moet totaal geskrap word.
“As ons beleidsekerheid wil hê en beleggings binne die kleinveesektor wil lok, dan moet die skema geskrap word,” het Van Wyk gesê.
Hy sê ’n kabinetsbesluit het die skema ingestel en sal dus ook deur die kabinet ter syde gestel moet word.
POSITIEF
Van Wyk sê die pad vorentoe is “’n parallelle proses” waar verbeteringe en opgraderings aan Hartlief se fabriek gedoen moet word, terwyl die nuwe markte in samewerking met die regering ontwikkel en handelsooreenkomste aangegaan moet word.
Hy sê produsente se verantwoordelikheid sal wees om seker te maak daar is ʼn konstante vloei van skaap om die markte deurgaans te kan bedien.
“As ons nog ʼn paar goeie reënjare kan hê en weer by die punt kom waar ons ʼn miljoen lammers per jaar kan produseer, dan is uitvoerabattoirs vir ons ʼn noodsaaklikheid. Ons kan nie als in die Suid-Afrikaanse-mark indruk nie en moet nog ʼn uitlaatklep ontwikkel,” het hy gesê.
AGTERGROND
Die kleinveebemarkingskema, wat in 2004 in werking getree het, was volgens die Namibië Landbou-unie ʼn mislukking en het eindelik veroorsaak dat al vier Namibië se uitvoerabattoirs vir skaap toegemaak het.
Skaapproduksie het gedaal van amper ’n miljoen lammers per jaar in vroeë 2000’s na net minder as 400 000 in 2019. In 2019 is die skema aanvanklik vir ʼn jaar op ys geplaas en skaapproduksie het onmiddellik in die eerste daaropvolgende jaar met 28% gestyg.
Sedertdien is die skema nog nie weer in werking gestel nie.
Die LPO het vantevore verduidelik dat nuwe uitvoermarkte nodig is. Tans is Namibië se skaapbedryf 100% afhanklik van een uitvoermark – lewende uitvoere van skaap na Suid-Afrika. Dit hou ʼn groot risiko in, sou iets met die mark skeefloop.
In 2019 het skaapprodusente die LPO genader om ʼn studie te doen oor of daar alternatiewe uitvoermarkte beskikbaar is. Intussen het Ohlthaver & List (O&L) die Hartlief-groep oorgekoop en uiteindelik is een van die uitvoerabattoirs in plaaslike besit. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie