Boer só selfs in die woestyn

Kenner van hidroponika gesels
Woestyne, onvrugbare grond, watertekorte en beperkte ruimte? Hidroponika is die antwoord.
Elvira Hattingh
Hidroponika stel jou in staat om selfs in die woestyn te boer waar daar geen vrugbare grond is nie en bitter min water beskikbaar is, asook op plekke soos in stede waar daar nie werklik ruimte vir groot boerderye is nie.

Die stelsel laat jou toe om water spaarsamig en versigtig te bestuur – iets waarvan alle lewe afhanklik is, verduidelik Jenny Esterhuizen, wat met behulp van dié stelsel vars produkte op Walvisbaai produseer.

Sy het reeds baie ervaring met hidroponika en help ook ander mense in Namibië om die stelsels te installeer. Sy sê hidroponika kan selfs in beesboerderye benut word – waar groenvoer vir vee met behulp van hidroponiese stelsels gekweek word.

“Water is ʼn skaars hulpbron en hidroponika is ʼn relatiewe nuwe manier om blomme, groente en ander plante sonder grond te verbou.”

Tropiese woestyne, soos die Namib- en Sahara-woestyn dek ongeveer ʼn vyfde van die wêreld se woestyngebiede, wat grotendeels uit droë seisoene en kort reënvalperiodes bestaan. Hidroponika stel jou in staat om selfs hier te kan boer.

Hidroponika doen veral goed in lande soos Nederland, wat tans die wêreldleier in hidroponiese uitvoere is, asook China, Frankryk en Spanje.

Hidroponika word verskillend gedoen – en drupbesproeiing is een van die bekendste metodes,” vertel sy.

HAAR STORIE

Jenny het tien jaar lank in die Kaap gewoon.

“Tydens my verblyf in Stellenbosch het ek betrokke geraak by ʼn projek wat my geïnteresseer het. Ons het begin met ʼn akwaponiese projek in Wellington en het verskillende tegnieke gebruik.

“Ons het ʼn vertikale boerdery beproef omdat dit ongelooflik baie ruimte bespaar. So het my kennis verbeter en ek het deur verskeie ‘trial and errors’ by hidroponika opgeëindig.

“Ek het die potensiaal daarin gesien en het dié manier van boer in my tuisdorp Walvisbaai gevestig. Teen 2014 was ek reeds in produksie,” vertel sy.

“Hidroponika kan enige plek in die wêreld opgerig word en suksesvol produseer – selfs in die oudste woestyn in die wêreld.

“Ek het begin met ʼn klein 6 m x 12 m-saailingtonnel van Gordonsbaai af, wat 1 200 plantjies kon huisves. Die onderneming het begin groei, talle lesse is geleer en ek het ʼn tweede kweekhuis opgerig, wat sonkrag benut het. Toe dit egter net mooi op dreef was, het Covid-19 ons almal platgetrek,” vertel sy.

Jenny verduidelik dat hidroponika en akwaponika nie dieselfde is nie. “Akwaponika is basies plante en visse wat deel van dieselfde wateromgewing vorm. Die vis se mis is ryk aan ammoniak en stikstof. Die visafval word afgebreek en as voedingstof vir plantegroei benut,” sê sy.

“Hidroponika is dieselfde konsep, maar sonder die vis – slegs water en chemiese voedingstowwe word gebruik om die plante te laat groei.”

WAT KAN JY KWEEK?

Jy kan bykans alles in hidroponiese stelsels produseer.

“Pretty much alles, buiten wortelgroente soos byvoorbeeld uie, knoffel, aartappels, wortels, beet en dies meer.”

“Wat jy kán produseer, is enige groen blaargroente, soos kruie, blaarslaaie, spinasie, selery, groen soetrissie, tamaties, komkommers, aarbeie en rissies,” verduidelik sy.

In Namibië word hidroponika hoofsaaklik benut om soetrissies, komkommers, tamaties en spoggerige blaarslaaie te produseer. Aangesien hidroponika jou in staat stel om op enige plek te kan boer, is die groot uitdaging ʼn gebrek aan konsekwentheid.

“Die Namibiese mark kon homself nog nie balanseer om deurlopend deur die jaar vars produkte beskikbaar te hê nie,” het Jenny verduidelik.

“Sekere tye word die mark oorstroom en as dit weer buite seisoen vir sekere produkte is, skiet die pryse die hoogte in omdat dit dan ingevoer moet word,” verduidelik sy.

TRADISIONEEL VS HIDROPONIKA

Jenny erken dat jou aanvanklike insetkoste vir hidroponika hoog is. “Die koste per vierkante meter (m2) is heelwat hoër as in gewone, tradisionele boerderye.

“As dit by tradisionele boerderye in grond kom, behels jou aanvanklike belegging waarskynlik net die grond, masjiene vir plant en oes en dalk besproeiingstoerusting. Hidroponika het egter onder meer ʼn kweekhuisstruktuur, pompe, watertenks en waterfiltreringstelsels nodig.

“Afhangende van die klimaat en jou produksiedoelwitte, kan jy dalk nog verskeie bykomende ondersteuningstelsels benodig. Die bestuur van ʼn grootskaalse kweekhuis en die vlak van tegniese kennis wat jy nodig het om die verskeie stelsels te bestuur om die plante aan die lewe te hou, is nie iets wat jy oornag leer nie.

“Kennis van biologie of chemikalieë om behoorlike voedingsvlakke te onderhou en oor die wetenskaplike aspekte van plante, is noodsaaklik. Hidroponiese stelsels laat nie groot ruimte vir foute nie. As jy foute maak, is die gevolge dikwels katastrofies,” waarsku Jenny.

Sy sê as ʼn belugter in diep water byvoorbeeld net vir ʼn paar uur ophou werk, kan dit al jou plante laat vrek as gevolg van ʼn tekort aan koolstofdioksied in die water.

“Aan die ander kant is ʼn plaas met grond meestal selfonderhoudend. Jy kan dit vir ʼn week alleen los sonder enige werklike probleme. Daarom sal tradisionele boerdery die oorheersende produksiemetode bly.

“Dit is hoofsaaklik omdat hidroponika nie in sekere situasies gebruik kan word nie, die koste hoog is om ʼn hidroponiese stelsel op te rig waar mense reeds in die grond boer, asook die feit dat mense gemaklik daarmee is om in die grond te boer.

“ʼn Onwilligheid bestaan ook om nuwe boerderymetodes aan te leer en daar is altyd die risiko dat jy al jou gewasse in ʼn hidroponiese stelsel kan verloor as jy dit nie behoorlik bestuur nie,” vertel sy.

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer