BVCF wil minstens N$100 miljoen by beesboere werf

Meatco bly LPO se prioriteit
Terwyl produsente se inkoop nou deurslaggewend vir die BVCF se toekoms sal wees, hoop die LPO steeds dat Meatco teruggewen kan word.
Elvira Hattingh
Die Forum vir die Beesvleiswaardeketting (BVCF) hou vanaf vandeesweek ‘n reeks beleggersvergaderings met produsente in Windhoek, op Grootfontein, Otjiwarongo, Hochveld en Gobabis.

Die forum hoop om N$200 miljoen in te samel, met produsente wat hopelik die meerderheidsaandele (minstens N$100 miljoen) in die BVCF se beplande slagplaas sal koop. Produsente het tot 24 Junie kans om te belê.

“Hierdie is die eerste groot hekkie. As produsente dit kan ‘spring’, dan is ons aan die gang,” het mnr. Mecki Schneider, BVCF-voorsitter, Saterdag op die Agri-Xtra-konvensie op Grootfontein gesê.

“As ons N$120 miljoen tot N$130 miljoen kan inkry, is elke bank op die band wagon. Hulle gaan toue staan, want dan is daar ‘n toewyding vanaf produsente se kant.

“Hierdie is ons kans om ons eie produsent-gedrewe slagpale en uitvoerbedryf op die been te bring.” Schneider sê ongeag produsente se aandeel in die organisasie, moet hulle doodseker maak dat die beweging produsentgedrewe en –beheer bly.

Schneider sê indien beleggings teen einde Junie nie vér oor N$100 miljoen is nie, het hulle bedenkinge oor die toekoms van so ‘n bedryf. “As ons dit nie doen nie, is ons terug by die huidige status quo en dan moet u uself afvra wat die owerheid gaan doen met die huidige slagplaas wat aan hulle behoort.”

Die forum se standpunt is dat die sluiting van Meatco as ‘n prysvassteller katastrofies vir beesprodusente sal wees omdat die land dan net een ander groter beesabattoir sal oorhou, wat dan alle seggenskap oor produsentepryse sal hê.

Schneider het gesê die forum het reeds baie werk gedoen, wat ‘n haalbaarheidstudie, sakeplan, die registrasie van ‘n slagplaas, die stigting van ‘n maatskappy genaamd Savanna Beef Processors, asook talle onderhandelinge met owerhede en ander rolspelers insluit.

IMPAK

“Dit is belangrik dat ons ‘n sterk produsentebasis het. Ons het tans 345 lede en skielik is jý ‘n faktor. Selfs Meatco praat in radio-onderhoude en sy nuusbrief oor die BVCF. Hoekom dink jy kry jy skielik N$63 per kg?” het Schneider produsente afgevra.

“Die forum het reeds ‘n impak gehad op die prys wat vir jou betaal het. Natuurlik moet Beefcor saamtrek, maar dit bied goeie kompetisie,” het Schneider gesê.

Hy sê die forum se volgende mikpunt is om 500 lede te hê.

Die Universiteit van Namibië (Unam) se dr. Helmke von Bach sê vernuwing in die bedryf kan veel beter pryse vir produsente beteken. Hy sê Namibiese produsente dink huidige abattoirpryse is goed omdat hulle “nie van beter weet nie”.

“Die Australiese beesboer word die afgelope ses maande N$112 per kg beesvleis betaal. Hoekom kry ons dit nie? Want ons bemark op outydse maniere,” het hy gesê.

Hy het verduidelik dat die beplande abattoir, wat na verwagting meer koste-doeltreffend sal wees omdat dit met die jongste tegnologie toegerus sal word, in sy eerste jaar daarop sal fokus om uitvoerstatus te kry. Die plan is is om tydens die tweede jaar internasionale markte te betree. Daarna sal dit nismarkte teiken.

OWERHEDE

Schneider sê in gesprekke met verskeie owerhede is daar geen negatiwiteit oor hul planne geopper nie. Inteendeel, Schneider sê dit pas in die regering se planne vir waardetoevoeging, tuisgroei, werkskepping en die vermindering van speenkalfuitvoere.

Hy is van mening BVCF sal nuwe lewe in die klein dorpies van die land blaas wat sterk op landbou steun.

Die forum se aansoek vir die bou van ‘n slagplaas is reeds deur die Vleisraad van Namibië goedgekeur en die BVCF oorweeg twee persele, een in Windhoek en die ander op Okahandja, hiervoor. Die finale keuse sal ook afhang van waar genoegsame water beskikbaar is.

LPO SE PRIORITEIT

Vir die die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) is die eerste prys dat Meatco teruggegee word aan produsente voor die BVCF die eerste sooi spit.

Mnr. Thinus Pretorius, LPO-voorsitter, het Donderdag by die konvensie gesê hulle beplan ‘n versoek aan die minister van finansies vir ‘n reddingsboei aan Meatco. Dit kom egter met die voorvereiste dat die organisasie se sakevorm heroorweeg moet word.

Pretorius sê daar heers groot kommer dat Namibië sy uitvoerslagplaas kan verloor omdat Meatco se skuldlas met N$110 miljoen tot N$120 miljoen per jaar groei. “Dit is onvolhoubaar vir die regering en ook vir ons,” het hy gesê.

Hy sê hulle was reeds ver gevorder met onderhandelinge by die ministerie van openbare ondernemings (SOE's), wat intussen ontbind is. Hiervolgens is die plan om Meatco terug te wen vir produsente, maar produsente weier om die skuldlas oor te neem en wil Meatco as 'n besigheid bestuur – verkieslik nie met die regering as vennoot nie. Hulle sal ook slegs sake in die noordelike kommunale gebied doen as dit ekonomies lonend is.

Pretorius het gesê hulle hoop om die gesprek eersdaags met die minister van finansies, mnr. Iipumbu Shiimi, voort te sit, wat nou seggenskap oor Meatco geërf het.

“Ons moet alles in die stryd werp om Meatco terug te kry, want dit behoort aan die produsente van hierdie land – hulle het daarvoor betaal,” het hy gesê.

Pretorius sê dit maak nie sin dat produsente ‘n tweede slagplaas bou nie. “Dit is die siening van die LPO, maar ons kan ook nie sit en wag vir die regering nie. Daarom moet ons ons voetwerk regkry vir ‘n plan B en C.”

“As ons Meatco kan terugkry onder ons voorwaardes, is ek oortuig daarvan dat ooreenkomste met die BVCF gesluit kan word. Trouens, ons is voortdurend in gesprek met mekaar.”

Kommentaar

Republikein 2024-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 21° | 32° Eenhana: 21° | 26° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 21° | 31° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 19° | 25° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 18° | 30° Gobabis: 20° | 29° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 24° | 40° Oranjemund: 17° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 25° Lubumbashi: 16° | 32° Mbabane: 18° | 29° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 18° | 30° Cape Town: 18° | 23° Durban: 21° | 26° Johannesburg: 16° | 18° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 35° Harare: 20° | 32° #REF! #REF!