Byeboerdery is soeter as heuning
Bekende boer gesels oor sy passie
Groot geleenthede wink vir toekomstige byeboere, maar maklik gaan dit beslis nie wees nie, sê een van die land se voorste byeboere.
“Ja, bye het my al baie kere gesteek. Met my eerste korf is ek die meeste gesteek; op een dag tot 30 of 40 keer. Dan moes ek eers oornag mooi gaan dink of ek verder met bye wil boer.”
Só gesels Otjiwarongo se Dieter Radeck, sekerlik die Otjozondjupastreek en waarskynlik een van die land se heel grootste en bekendste byeboere.
“Deesdae swel ek nie meer op nie. Dit hang maar af van persoon tot persoon – of jy immuun of allergies vir die bye raak,” het hy gesê.
Dieter boer intensief met bye by Otjiwarongo. Hy het agt jaar gelede daarmee begin toe daar nog min kennis oor die bedryf in Namibië was. Hy is ook ʼn gekwalifiseerde sjef en het vir tien jaar lank ʼn restaurant op Otjiwarongo gehad en net as ʼn stokperdjie met bye geboer.
Toe die Covid-19-pandemie die land tref, het hy al heelwat byekorwe gehad, asook ʼn groot oes.
“Dis toe ek besluit het om my besigheid toe te maak en met die byeboerdery te begin.”
“Sover ek weet is ek die grootste byeboer in die Otjozondjupastreek. Ek het tans meer as ʼn honderd korwe of kolonies en dit is ʼn intensiewe werk.
“Jy is elke dag vir 24 uur met bye en bye se goeters besig,” sê hy. “Hoe meer korwe jy het, hoe meer werk raak dit.
“Vir my is dit ʼn passie en dan is niks werk nie. Ek doen dit omdat dit lekker is, nie omdat ek dit moet doen nie.”
Dieter maak dikwels ook tyd om byeneste wat probleme veroorsaak op Otjiwarongo en in die omgewing, te verwyder.
“Eerder dit as wat die bye dalk doodgemaak word,” sê hy.
Dieter sê mense op Otjiwarongo het hom leer ken as die persoon om te bel as hulle byeprobleme het. Hy werk nou saam met die munisipaliteit, terwyl hy dikwels ook op nabygeleë lodges gaan help.
“Op die oomblik is ek besig om met my bye te werk sodat hulle koninginne sal teel en meer swerms sal opbou. Dit, omdat baie mense bye soek en een of twee korwe wil hê.”
Dieter bied ook kursusse in byeboerdery vir AgraProvision aan.
“Van die 120 tot 150 studente wat ek al opgelei het, werk tot 80% van hulle nou met bye. Dit is ʼn baie steil leerkurwe, boonop is elke byeswerm uniek.
“In sommige gevalle vind ons egter dat mense, sonder die nodige kennis, soms in die veld ingaan om byeswerms uit te haal. Dan word die swerm dikwels vernietig. Dit veroorsaak dat jy in ʼn radius van sowat 3 km ʼn ekologiese ‘oopte’ het, waar jy nie meer bye het nie,” sê hy.
TOEKOMS
Dieter sê ná die pandemie sien hy groot moontlikhede vir byeboerderye in Namibië.
“Vir die toekoms gaan ons baie byeboere en jong boere benodig vir die ontwikkelinge wat nog gaan kom,” het hy gesê.
Dit sluit in ontwikkelinge by Mashare, waar bloubessies geplant word, asook vir beplande sitrusaanplantings by onder meer Stampriet.
“Ons het tans talle mense wat geïnteresseerd is om met bye te boer, maar op kleinskaal.”
“ʼn Byeboer het sy heuning, sy wasproduksie, die byeswerms self wat jy kan verkoop en jy kan korwe bou.
“Daar is ʼn klomp opsies vir byeboere om van te kies waarin hulle kan spesialiseer. Jy kán egter nie alles doen nie: Ek kan nie my eie korwe bou, in polinasie spesialiseer, die heuning oes, die dorp se probleembye verwyder en terselfdertyd bye teel nie – daar is nie tyd om alles te doen nie.
“ʼn Mens moet weet hoe om met die bye te werk en dit is ʼn baie intensiewe boerdery – veral as jy jou brood en botter daaruit wil verdien. Dit is nie so maklik om net ʼn korf met ʼn swerm bye te kry nie,” het hy verduidelik.
Die Byeboer-vereniging van Namibië samel tans nog inligting in oor hoeveel byeboere in die land is en moet terselfdertyd onderskeid tref tussen diegene wat dit net as ʼn stokperdjie doen en een of twee of tien korwe het, versus diegene wat dit as ʼn boerdery beskou.”
Hy sê die vereniging probeer ʼn databasis van byeboere opbou sodat hulle weet hoe ver is die naaste byeboer van byvoorbeeld die boere wat in die Outjo-omgewing met sitrus begin boer asook die waatlemoenboere.
Hy sê Suid-Afrika het al vir 100 jaar ʼn vereniging vir byeboere, terwyl Namibië syne maar eers vanjaar begin het.
Meer inligting oor die byeboer-vereniging is op hul Facebook-blad, Beekeeping Association of Namibia, beskikbaar.
DROOGTE EN KOS
Dieter sê in 2019, tydens die erge droogte, is hy as byeboer ook geraak.
“Die swerms het kleiner geraak en baie van die bye het uit die veld dorp toe getrek omdat daar meer kos is.
“Ek het toe fyn lêmeel vir hulle gevoer, maar dit was minimaal – net om hulle aan die lewe te hou en nie produktief op te bou nie. Ek moes in 2019 ook 200 kg witsuiker aan net 30 byekorwe voer. Dit raak nogal duur.”
Dieter kon egter ʼn ooreenkoms met NamibMills aangaan om hul weggooisuiker – dit wat op die vloere mors as suikerpakke oopskeur – in ʼn drom vir hom te versamel. Hy het dit dan eers skoongemaak en vir sy bye gevoer – net sodat hulle kon oorleef.
“NamibMills was bereid om my te help en ek is baie dankbaar.”
Hy verduidelik wanneer dit lente en vroegsomer raak en bome begin blom, bied die plante kos met ʼn hoë proteïen-inhoud vir die bye.
“Dan is dit nie maklik om met die bye te werk nie. Dit is ʼn risiko en ʼn gevaar, maar watter dier is nie ʼn gevaar om mee te boer nie? As jy saam met die natuur werk, werk die natuur ook saam met jou,” sê hy.
“’n Mens kry kwaai swerms en ook rustige swerms, dit hang alles van die gene van die koningin af. Die kwaai swerms produseer meer heuning, terwyl die rustiges minder produseer. Hoe groter die swerm is, hoe meer heuning kan jy produseer. Jy moet egter die omgewing ook in ag neem – jy moet weet wanneer blom die eerste swarthaak of die rosyntjiebos – jy moet ook botaniese kennis hê,” sê hy.
Dieter sê ʼn by werk gewoonlik in ʼn radius van 3 km.
“As daar in daardie 3 km nie meer kos en water is nie, gaan hulle uittrek en na ʼn beter blyplek gaan soek. Jy kan in die veld 30 korwe in ʼn 100 m by 100 m kamp plaas, maar jy moet ook weet watter plante, kos en water daar vir hulle is.
“Op plantasies geld ander riglyne. Op ʼn sitrusboord kan jy byvoorbeeld sowat een korf per ha plaas, afhangende hoe groot jou korf is. Jy kan ook meer korwe opsit, maar jy moet seker maak daar is genoeg kos vir hulle.
“By die bloubessies moet jy elke twee weke swerms ruil omdat die nektar en stuifmeel van bloubessies nie genoeg is om die bye te voer nie. Die bye honger eintlik uit en is net daar om die bloubessie te bestuif, terwyl heuningproduksie laag is.
“Ná twee weke moet jy jou korwe met sterk bye vervang en die swak swerms weer voer,” het hy gesê.
Nog ʼn faktor is vervoer, sê hy. “Dit is stresvol vir bye en dit kan net in die nag gedoen word omdat dit te warm in die dag raak,” sê hy.
Dieter sê Namibië se lang afstande is ʼn uitdaging vir byeboere, want hulle kan nie elke tweede week heen en weer ry om na hul bye te kyk nie.
“Bye moet opgepas word. Gereelde inspeksies moet gedoen word om seker te maak dat hulle produktief is – ook op plantasies,” het hy gesê.
HEUNINGOES
Dieter sê jou heuningoes hang af van wat jou bye eet. Onder bye wat byvoorbeeld op sitrus- of bloekomplantasies in Suid-Afrika werk, haal byeboere sowat 40 tot 50 kg per kas af, terwyl hulle per seisoen tot 20 of 30 ton heuning oes.
“Hier is ons afhanklik van die natuurlike veld en kry jy sowat 10 kg heuning per korf.
“Dit hang egter van baie faktore af, soos hoe sterk en groot jou swerm is, hoe oud die koningin is en een van die belangrikste dinge – hoe beskikbaar water is. Nog ʼn faktor is die reënseisoen en of daar genoeg blomme en nektar in die veld beskikbaar is.
“Dit hang ook af van hoe goed jy na jou swerms kyk. Ons het ook baie natuurlike vyande vir bye, soos voëls, ratels en miere wat in die korwe kan inkom en die heuning steel. Dan ‘verklaar’ die bye die korf as ‘onseker’ en trek hulle uit.”
Dieter sê oor die afgelope jare bedreig heuning-invoere van Zambië plaaslike heuningproduksie.
“Dit word hier gebottel en verkoop. Dit sny toekomstige byeboere se kele af.”
Hy meen as die ingevoerde heuning nie behandel word nie, kan dit bakterie na Namibië toe bring wat bye kan bedreig of selfs kan uitwis en tot ’n ekologiese ramp lei.
Hy meen daar bestaan ʼn groot toekoms vir jong byeboere, maar om hulle asook plaaslike byebevolkings te beskerm, raai hy hulle aan om by die byeboer-vereniging aan te sluit. Dit, sodat hulle ʼn “stem” kan hê om hierdie kwessies te hanteer.
Hy sê volgens wet kan bye nie in Namibië ingevoer word nie. “Sou dit gebeur dat die byebevolking uitgewis word, mag daar ook nie nuwe bye ingevoer word nie. Daarom moet ons baie versigtig wees oor hoe ons met ons bye werk.
“Toekomstige byeboere staan voor groot uitdagings om ons bye te beskerm,” sê hy.
PRODUKTE
Dieter het aanvanklik eers net suiwer heuning gemaak. Hy maak egter nou ook heuningkoek – dan ook heuning met koek en hy produseer ook sy eie byewas.
In een geval het ʼn veearts byewas by hom gekry om ʼn perd se hoef te behandel, want byewas het goeie antibakteriële eienskappe.
“Ek wil ook my eie lyf- en lipsalf van byewas maak, asook ander homopatiese produkte. Uit die bye kan jy baie maak, dit is net om die tyd vir alles te kry,” sê hy.
“Die jongste navorsing dui dat byegif een van die ergste soort borskankers kan vernietig. ʼn Mens moet verstaan dat byegif tussen 600 en 900 verskillende komponente het, wat die mens nog alles moet leer verstaan.
“Die omvang van bye is so breed, ons ken maar net 30% van die moontlikhede. Die ander 70% hou die by as ʼn geheim,” sê hy.
Belangstellendes kan meer oor Dieter se byeboerdery op sy Facebook-blad, Beekeeping Radeck, vind waar hy sy produkte en kursusse adverteer.
BYESOORTE
“In Suidelike Afrika boer ons met twee tipe heuningbye – in die Kaap die Kaapse capensis en hier by ons die scutellata. Ons heuningbye is van die aggressiefste bye ter wêreld.”
Dieter vertel in die 1970’s is Suid-Amerikaanse heuningbye met die scutellata in teelprogramme gekruisteel. “Daardie bye staan nou daar bekend as die ‘African killerbee’.”
Hy sê dit is moeilik om tans te kan sê hoe gesond Namibië se byebevolking is – hy het reeds wilde byswerms op ongewone plekke in die land ontdek, waar hulle waarskynlik op byvoorbeeld makalani-vrugte oorleef.
“Dit verbaas my dikwels hoe en waar hulle hul kos gaan haal. Die kleinste blommetjie kan partykeer die meeste nektar en stuifmeel hê. Wat egter noodsaaklik vir bye is, is water.
“Die afgelope twee jaar het ek sowat 150 swerms op Otjiwarongo self verwyder. ʼn Mens moet wonder, hoekom is daar so baie bye in die dorp – wat gaan in die veld aan? Is dit die houtskoolproduksie, is dit veldbrande? Dit is baie moeilik om dit te bepaal.
“Wat ek wel oor die afgelope jare van plaasboere hoor, is dat hulle weer bye by hul krippe sien. Dis ʼn goeie aanduiding dat daar nog bye in die veld is,” het hy bygevoeg. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie