Die mielies rol en die sakke word vol
Nasionale graansuiers tot barstens toe vol
Met 'n hoë mielieprys en rekordoes op hande, moet akkerbouers tans logistieke uitdagings die hoof bied om hul oeste te kan lewer.
Terwyl akkerbouers vanjaar opnuut die rekordboeke sal herskryf met ʼn verwagte mielieoes van 94 437 ton – die grootste oes in Namibiese geskiedenis - is nasionale graansuiers tans tot barstens toe vol.
Dit het daartoe gelei dat sommige akkerbouers in die Mieliedriehoek vandeesweek oesbedrywighede moes staak tot tyd en wyl Namib Mills se graansuiers op Otavi en graansuiers elders, weer ruimte het om mielievragte te aanvaar.
“Dit lyk na ʼn rekordoes van bykans 95 000 ton. Dit plaas druk op almal om die mielieoes gelewer te kry, want ons graansuierruimte in die land is beperk,” het mnr. Gerhard Engelbrecht, nuutverkose voorsitter van die Akkerbouprodusentevereniging (APV) aan Republikein bevestig.
Vanjaar se oes sal selfs ʼn verbetering op verlede jaar se 90 895 ton wees, wat toe die land se grootste mielie-oes ooit was.
SILO’S VOL
Engelbrecht sê Namib Mills se graansuiers op Otavi is redelik vol, wat beteken hulle moet eers van hul mielies verskuif, terwyl hul kwota ook nou amper vol is.
Hy het verduidelik dat die oes deur die Namibiese Akkerbouraad (NAB) tussen die meulenaars volgens hul markaandeel opgedeel word en elkeen kwotas ontvang.
“Ons het sowat ʼn maand gelede ʼn opname gemaak en toe is vasgestel dat daar 15 000 ton mielies is wat na ander meulenaars, buiten Namib Mills, verskuif sal moet word.
“Binne die Mieliedriehoek sit ons dus met dié hoeveelheid oortollige mielies wat na ander meulenaars in Windhoek of na die Noorde sal moet gaan,” het hy verduidelik. Hy sê dit is nie ʼn ongewone situasie nie.
Engelbrecht het verduidelik dat daar baie “vroeë mielies” was, terwyl akkerbouers in Grootfontein, Otavi en Tsumeb “laat oeste” lewer omdat die reënseisoen daar eers later begin het. “Teen die tyd wat die gebied hul mielies wil lewer, is alles redelik vol – ook omdat dit vanjaar ‘n rekord-oes is,” het hy verduidelik.
Hy sê dit laat akkerbouers met logistieke uitdagings waarop hulle nie gereken het nie. “Ons sal volgende jaar daarna kyk oor hoe ons hierdie stelsel kan verbeter,” het hy gesê.
NamibMills se woordvoerder sal na verwagting ook nog op Republikein se vrae oor hul graansuiers reageer.
OESSKATTING
Intussen het die NAB Namibië se oesskatting op 94 437 ton geraam, wat van altesaam 31 944 ha lande landswyd geoes sal word – ʼn verbetering van 4% op verlede jaar se oes.
Dienooreenkomstig sal Namibië vir altesaam ses tot sewe maande lank selfvoorsienend in witmielies kan wees. Die grens is sedert Mei vanjaar gesluit vir die invoer van witmielies uit die buiteland.
“Die goeie oes is toe te skryf aan goeie reënneerslae in verskeie gewasproduserende gebiede . . . asook dat meer hektare onder mielies geplant is,” sê die NAB in hul jongste produksie-voorspellings verslag.
AKKERBOUER
Die akkerbouer Emil Jung, wat sê dat hy vanjaar ‘n rekordoes op die plaas Johannestal in die vallei by Grootfontein het, is een van die boere wat ná twee weke se stropery vir eers sy oesbedrywighede moes staak.
“Hierdie week staan ons stil. Ek het vir twee weke lank gestroop tot my damme vol is, nou is daar nie veel meer wat ek kan doen nie, behalwe om nuwe damme op te sit nie. Ek is nou presies halfpad met my oes,” het hy gesê.
“Ons het selfs lorries Windhoek toe gestuur, maar hulle (graansuiers) raak ook vol, want hulle neem mielies vanaf die Ooste én Suide in. Ons kan dus nie tans die mielies lewer nie – dit is die groot oponthoud.
“Hoe langer jou mielies op die lande staan, hoe droër word dit. Jy verloor ʼn sekere persentasie vog en ʼn paar kilogramme op ʼn lorrie.
“Dit beteken jy word eindelik minder vir jou mielies betaal. Ideaal wil ons mielies lewer met vogvlakke van sowat 12,5% eerder as met net 9% se vog,” het hy verduidelik.
Johannestal het vanjaar altesaam 900 mm reën asook “ideale weertoestande gehad, het Jung gesê. “Elke boer verdien ‘n ‘eenmaal-in-‘n-leeftyd’ oes. Ek vermoed hierdie is só een,” sê hy.
Jung sê boere kan tans ook nie oor die mielieprys kla nie. “Die plaaslike mielieprys het die afgelope week op N$6 400 per ton gestaan en sal na verwagting in die volgende week tot N$6 100 daal.
“Hierdie jaar se prys is tot ons voordeel. Dit is dalk ons redding vir volgende jaar – om van volgende jaar se insetkoste te kniehalter.”
Hy sê akkerbouers is baie bekommerd oor die stygende pryse van insetkoste soos diesel en kunsmis.
“Gaan daar volgende jaar nog stikstof wees? Ons weet nie. Ons wik en week alreeds; plant ons volgende jaar weer vol, of gaan ons ʼn gedeelte sonneblomme of sojabone plant, of dalk iets heeltemal anders? Ons weet nog nie.” [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie