Die toekoms is in 'n naartjie

Namibië se groot potensiaal vir sitrus
Die nuutgestigde sitrusvereniging wil binne die volgende twee maande 'n sitrus opedag aanbied.
Sou Namibiërs ‘n sterk sitrusbedryf kon vestig, kan die klimaat help dat dit gesogte wêreldmarkte eerste betree.

“Namibië sal dalk toegang tot die gesogte Amerikaanse mark kan kry – juis omdat sitrus in Suider-Afrika twee tot drie weke voor die res van die wêreld s’n oesgereed is.”

Só gesels mnr. André Neethling, tydelike voorsitter van die nuutgestigde Sitrusvereniging van Namibië.

“Ek moedig boere dikwels aan om net eers een ha te plant en goed daarna te kyk. As jy goed na jou boord kyk, kyk dit goed na jou met ‘n opbrengs van tussen N$500 000 tot N$1,6 miljoen ‘n jaar,” sê hy.

Hy sê dit kos sowat N$160 000 om ‘n ha te ontwikkel.

GEPAS

Neethling is oortuig daarvan dat die meeste stirusplante in die Mieliedriehoek, maar ook so ver as Otjiwarongo, Outjo en die Kavangostreke sal aard.

“Die gebied is geskik vir harde en sagte sitrus – ‘hard navel’, die valencia en naartjies.

“Sitrus word al vir baie jare lank in Namibië verbou. Die meeste plaashuise het ‘n boord met gemengde sitrusbome, vir eie gebruik.

“Kommersiële sitrus word verbou om aan die plaaslike mark te voorsien. Namibië voorsien slegs in 7% van sy eie behoefte vanaf ‘n paar plekke met boorde wat kleiner as 10 ha groot is.”

Hy sê daar bestaan ‘n vraag na onder meer sitrusvrugte soos pomelos (Star Ruby), valencia’s, naartjies, suurlemoene en navels.

“Ons moet nou besig raak met langtermynontwikkeling.”

Neethling sê alhoewel Namibië se klimaat oor verskeie redes in die verlede nie vir sitrusproduksie benut is nie, is daar nou ‘n geleentheid – noudat vrede en stabiliteit heers.

“Daar is ‘n groot vraag na sitrusvrugte wat goed smaak en mooi vertoon. Daarom moet ons ook seker maak ons hou swartvlek en vergroening uit Namibië.

“Ons sal eindelik meer as tien variëteite plaaslik kan aanplant en uitvoer,” het hy gesê.

Neethling sê om uit te voer, sal ons die mark moet verstaan en dienooreenkomstig aanplant.

NET EEN HEKTAAR

Neethling sê die getal boompies wat per ha geplant word, hang natuurlik af van die variëteit wat gebruik word.

Groter bome word in 7 m by 3 m rye geplant (dus 471 bome per ha), terwyl kleiner bome in rye van 6 m by 3 m geplant word (dus 553 bome per ha).

“As jy goeie plantmateriaal gebruik, die regte kunsmis, chemikalië, water en versorging gee, kan jy tussen 50 en 70 ton vrugte per ha oes,” sê hy.

Hy sê tans lewer plaaslike produsente hul sitrusprodukte aan kettingwinkels, op informele straatmarkte en private markte teen sowat N$10 per kg. Dit word in kettingwinkels op Tsumeb vir sowat N$34,99 per kg verkoop.

BEVORDERING

Neethling sê die verenIging het reeds ‘n paar sessies aangebied en ‘n interim-komitee saamgestel. Daar is ook reeds ‘n goedgekeurde konstitusie. “Die loodskomitee werk om die stelsels aan die gang te kry en ‘n jaarvergadering te reël.

“Ons sal in Mei of Junie ‘n sitrus-opedag reël. Intussen word die sitruskonsep by plaaslike boereverenigings bevorder,” het hy vertel.

Diegene wat oorweeg om sitrus te plant, moet daarop fokus om die regte variëteit te plant.

“Of jy privaat of plaaslik wil verkoop, of wil uitvoer – dit is wat die variëteit sal bepaal.”

Hy sê bome moet reg versorg word sodat dit die maksimum aantal vrugte sal lewer, wat ‘n verskil aan produktiwiteit en eindelik jou inkomste gaan maak.

“Versorg die bome en hulle sal vir baie lank – 30 tot 50 jaar – na jou kyk,” het hy gesê.

VISIE

Wat sou die vereniging graag oor die volgende 5 of 10 jaar wou sien gebeur?

“Om ons spesiale, Godgegewe land met sy goeie klimaat, water en grond te benut en bestuur – tot voordeel van almal in die land.

“Voorsiening moet ook vir opleiding en kundigheid gemaak word. Dalk ‘n opleidingsinstituut wat beskikbaar gestel word, terwyl ‘n uitvoerstatus beding word en die nodige fasiliteite daarvoor geskep word.

“Ons sou wou sien dat pakhuise geskep word – privaat, maar ook deur plaaslike owerhede. Kapasiteit moet geskep word en dalk moet ‘n sitruskwekery op die been gebring word.

“Talle werksgeleenthede kan geskep word – dalk tot 60 000 poste oor tien jaar, terwyl buitelandse valute verdien kan word.

“Goeie winste vir produsente beteken die bedryf sal volhoubaar wees, terwyl daar plaaslik navorsing gedoen moet word en ook op gehaltebeheer gefokus moet word,” het hy gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!