‘Ek is só verlief op my werk’
Steyn se bod steeds op afslaer
Sedert sy verlede jaar een van net twee vroue-afslaers geraak het en tans waarskynlik die enigste praktiserende een is, sê Annette Steyn daar is niks anders in die wêreld wat sy eerder wil doen nie.
Elvira Hattingh – “Dit was nog altyd my droom om ’n stoetafslaer te wees, maar op die oomblik is ek só verlief op my werk, dat ek nie eintlik omgee wat ek opveil nie. Solank ek net dit kan doen waarvoor ek lief is.”
So gesels die 20-jarige afslaer Annette Steyn, wat nou reeds sowat sewe maande lank vir Agra werk as een van min, indien nie die enigste praktiserende vroue-afslaer in die land nie.
Steyn, wat permanent op Mariental gevestig is, het verlede week met Republikein gesels terwyl sy vir die eerste keer in die noorde van die land werk en ’n veiling op Outjo aangebied het.
Tans vertoef sy drie weke in die gebied om haar ervaring uit te brei saam met veteraan-afslaers soos Reynard Steynberg en Henno Badenhorst. Dit was ook Badenhorst wat haar gelei en deurentyd tydens dié veiling bygestaan het.
“My keel is nou effens seer, maar ja, ek het dit vreeslik geniet. Aan die begin was dit vreemd, maar toe ek eindelik die gehoor kon lees en meer gemaklik begin raak het, toe kon ek myself wees,” vertel Steyn oor die veiling op Outjo.
In die drie weke neem Steyn ook deel aan veilings op Otjiwarongo, Grootfontein en Gobabis, terwyl sy ook tussen-in na Keetmanshoop sal ry vir ’n stoetveeveiling.
“Ek het agtergekom as ek vir lank genoeg nie opveil nie, voel dit vir my of my energievlakke daal. Asof ek begin ‘sleep’. Die dag wat ek weer opgeveil het, is ek ’n bondeltjie energie, dan het ek nuwe lewe.
“Om ’n afslaer te wees, is soos om ’n nuwe taal aan te leer. As jy dit lank genoeg nie doen nie, verleer jy dit,” vertel Steyn.
“Ek sê altyd ek wil ’n afslaer soos Oom Deon Klopper wees. Hoe meer ek egter opveil, kom ek agter ’n mens kan baie by iemand leer, maar jy kan nie hulle wees nie. Elke mens moet homself wees,” vertel sy.
“Ek is eintlik ’n introvert wat nie daarvan hou om voor mense te praat nie, veral nie vreemde mense nie. Ek is op my senuwees, maar as ek net aanhou praat tot ek later gemaklik is, voel dit vir my of ’n ‘tweede persoonlikheid’ oorneem. Dit voel amper of dit nie meer ek is nie.
“Ek vergelyk dit met ’n netbalwedstryd. Jy is so op ’n ‘high’ terwyl jy op die baan is, dat jy heeltemal vergeet van alles rondom jou. Dis amper soos jou eie ‘drug’,” vertel Steyn oor haar afslaerwerk.
UITDAGINGS
Republikein het verlede jaar oor Steyn berig toe sy as 19-jarige een van net twee Namibiese vroue geraak het om ’n afslaerkursus te voltooi – en daarna deur Agra in diens geneem is.
Intussen werk Steyn al sewe maande as afslaer vir Agra op Mariental. Sy is egter opgewonde oor die geleentheid om ook in die noorde van die land te kan werk.
“Ek is nie meer net ’n naam in die Suide nie, ek maak nou ook naam in die noorde, sodat meer mense van my kan weet. So gee ek elke dag hopelik ’n tree nader aan my droom, om eendag ’n stoetafslaer te kan wees,” sê Steyn.
Steyn sê dit was ook nie elke dag maklik nie.
“Dit het al eendag gebeur dat ek in die spervuur was tussen twee kopers. Hulle het onder my vel ingekom en daardie dag het ek gedink ek is nie goed genoeg om ’n afslaer te wees nie. Soos die veiling gevorder het, het ek nogal negatief geraak.
“Die volgende dag het iemand na my toe gekom en vir my gesê: ‘Jy leer nog, dit is oukei’,” vertel Steyn.
Sy sê ook aan die begin was daar soms mense wat snaaks probeer wees of aanmerkings gemaak het, maar die spekulante het haar later begin help.
“Hulle sou sommer vir mense sê: ‘Hoor hier, dit is nie oukei om so op te tree nie’,” vertel sy.
“Ek het baie steunpilare wat my beskerm en vir my uitkyk. Ek is baie dankbaar daarvoor. By baie veilings is ek dikwels die enigste vrou tussen ’n groep van 20 of meer mans. Dit help om hier en daar iemand te hê wat vir jou uitkyk.”
Sy sê sy moet ook altyd daarop fokus om gebalanseerd op te tree en niemand te bevoordeel nie – koper of verkoper.
NOOIT SPYT
In die tyd wat sy nou al vir Agra werk, was Steyn al deel van veilings op onder meer Aminuis, Aranos, Stampriet, Mariental, Helmeringhausen, Karasburg, Keetmanshoop, Koës, Aroab, asook stoetveeveilings, veilings op plase en losgoedveilings.
“Daar kom nou en dan dae wat dit nie altyd maklik of lekker is nie. Ek is egter nog nie ’n dag spyt nie. Daar is niks anders in hierdie wêreld wat ek wil doen nie! Ek is vreeslik bly ek het nie ’n onderwyser of iets geraak nie, want ek sou dit nie gemaak het nie,” lag sy.
Haar raad aan jongmense wat ook uitdagende drome het: “Dit help nie jy doen net dit wat ander van jou verwag nie. Hier doen ek nou iets wat ’n mans gedomineerde bedryf is. Dit help nie om iets te doen wat die samelewing van jou verwag nie. Jy moet iets doen wat jý voor lief is en wat jý voel vir jou die beste is,” sê Steyn.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie