Me. Tunga Mboti, bestuurder van die Namibiese pawiljoen saam met 'n gas by die Expo 2020 Dubai. FOTO Namibia Expo 2020 Dubai
Me. Tunga Mboti, bestuurder van die Namibiese pawiljoen saam met 'n gas by die Expo 2020 Dubai. FOTO Namibia Expo 2020 Dubai

Fokus nou op vrugteproduksie

Elvira Hattingh
“Namibië behoort op vrugteproduksie te fokus. Ons het meer geleenthede, navorsing en belegging in vrugteproduksie nodig.”

Só het Naturesmart se besturende direkteur, mnr. Nico van der Merwe, Dinsdag tydens die Expo 2020 Dubai gesê.

Volgens hom staan die ontwikkeling van markte en marktoegang sentraal hiertoe. Die rede hiervoor is omdat vrugteproduksie duur is en jy toegang tot verskeie markte moet hê.

Naturesmart dryf handel in vrugte en groente en koop direk van verskeie boere in Namibië, asook in die Paarl en Wes-Kaap in Suid-Afrika aan.

Die ekspo se tema vir die week is “Food, Agriculture and Livelihoods” en dit word in Dubai gehou. Die ekspo het reeds die afgelope Sondag begin en duur voort tot môre (26 Februarie).

Van der Merwe het tydens die geleentheid gesê Namibië se wisselende geografiese en klimaatseienskappe maak dit geskik om ’n verskeidenheid vars produkte te produseer. Hy meen egter die land se stabiliteit maak dit uniek in Afrika en ook ’n aanloklike beleggersbestemming.

Hy sê dit is merkwaardig dat Namibië sowat 20 jaar gelede in net sowat 10% van sy eie behoefte in verskeie produkte kon voorsien, terwyl dit nou in tot 80% van plaaslike aanvraag kan voorsien as dit by sekere vars produkte kom.

Hy meen daar bestaan ook geleenthede in die produksie van gevriesde groente, omdat Namibië bykans al sy gevriesde groenteprodukte invoer.

TOPVYF-GELEENTHEDE Tydens die geleentheid het die Namibiese Akkerbouraad (NAB) se uitvoerende hoof, dr. Fidelis Mwazi, gesê Namibië se topvyf- plaaslike bedrywe wat onmiddellik gereed is vir beleggers, is tafeldruiwe, dadels, bloubessies, aartappels en tamaties.

Hy het verduidelik dat Namibiese tafeldruiwe gesog is omdat dit, teen oestyd, wêreldmarkte tot 23 weke vroeër kan bereik.

“Avokado’s is ook ’n belowende bedryf en ’n ondersoek is tans van stapel gestuur om vas te stel of Namibië vir produksie van avokado’s geskik is, want daar is ’n aanvraag daarvoor op die mark,” het hy gesê.

NAMIBIë IS GEREED Mnr. Michael Iyambo, algemene bestuurder van Oshikoto Fresh Fruit & Vegetables asook die NAB se raadsvoorsitter, sê Namibië is gereed vir beleggings en dat die nodige lesse uit die verlede geleer is.

“Julle sal sien, die generasie mense wat hier voor julle sit, is jongmense wat die ekonomie deur die regte beleide probeer dryf,” het hy gesê.

Hy sê groot geleenthede is besig om in terme van openbare-private-vennootskappe te ontvou, met ’n klompie beleggers wat die regering nader en navrae doen. Verskeie voorstelle vir regeringsprojekte is reeds ontvang.

“Nou is die regte tyd vir Namibië, ons is reg vir julle,” het hy bygevoeg.

Hy sê in Namibië geld die oppergesag van die wet en word die Grondwet toegepas, wat plaaslike asook buitelandse beleggers beskerm.

“Dit is belangrik om hiervan kennis te neem, want dit het aan ons vrede en stabiliteit verleen,” sê Iyambo.

Hy meen dit sorg vir ’n stabiele makro-ekonomiese omgewing.

MARKONTWIKKELING NAB se mnr. Gilbert Mulonda het bygevoeg dat markontwikkeling die sleutel tot beleggings is.

“In Namibië probeer ons eers markte skep, voor ons produseer.

Mwazi sê “Namibië se strewe na ’n groen ekonomie” moet die stukrag agter gewasse se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) wees.

Hy het gesê wat plaaslik geproduseer word, moet ’n bydrae tot maatskaplike geregtigheid maak, maar ook volhoubaar op omgewings- en ekonomiese vlak wees.

Namibië beskik oor infrastruktuur en water, soos by die nuut ontwikkelde Neckartaldam, terwyl die land ook oor ’n goed ontwikkelde vervoernetwerk beskik, het Mwazi bygevoeg.

Me. Maria Immanuel, tegniese adviseur van die Namibiese Landbou Handelsforum, het verduidelik Namibië beskik tans oor sowat tien internasionale handelsooreenkomste, wat private beleggers in die land help met internasionale marktoegang.

Sy het ook verduidelik dat Namibië deel van SACU is, wat beteken dit word saam met ander SACU-lande as een mark beskou, waarbinne goedere makliker en vryliker versprei kan word.

Mwazi het gesê Namibië is ook besig om sekere produksiestandaarde in plek te kry sodat Namibies geproduseerde produkte aan die nodige internasionale standaarde kan voldoen.

Die geleentheid is deur die Namibiese Akkerbouraad (NAB), die ministerie van landbou, water en grondhervorming, asook die Namibiese raad vir die bevordering van beleggings en ontwikkeling (NIPDB) gelei. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!