Die regering sê hy verstaan die belang van ’n stabiele Meatco en die belang daarvan vir die plaaslike ekonomie. FOTO ARGIEF
Die regering sê hy verstaan die belang van ’n stabiele Meatco en die belang daarvan vir die plaaslike ekonomie. FOTO ARGIEF

Frustrasie oor Meatco pryse sny

Regering sal ‘voor jaareinde’ omkeerplan hê
Produsente sê hulle sal noodgedwonge moet ophou om slagbeeste buite seisoen te voer en aan Meatco te lewer omdat hulle nie teen 'n verlies kan werk nie.
Elvira Hattingh
Meatco-produsente sit opnuut met hande in hulle hare nadat die vleisfabriek bekend gemaak het produsentepryse sal vanaf volgende maand tot Januarie 2024 met tussen N$1,50 en N$2,50 op sekere gewigsklasse gesny word.

Veral produsente wat slagbeeste voer en dus maandeliks – ook buite seisoen – beeste aan Meatco verskaf, word die ergste hierdeur geraak.

“Die probleem is, ons almal het reeds begin om ons beeste te voer, met Meatco wat voorgeneem het om ons dieselfde pryse asook ’n premie te betaal as ons tussen November en Januarie slag. Dit was ’n ooreenkoms,” het ’n produsent gesê.

“Die beeste en die voer is reeds gekoop – hulle staan en eet elke dag. Die slagbeurte is bespreek en skielik pas Meatco die prys afwaarts aan. Dit, tesame met die risiko dat jy nie betaal sal word nie, skep groot, groot onsekerheid.”

Intussen het Republikein Meatco reeds Maandag genader met vrae in verband met die prysaanpassings. Ten spyte daarvan dat Meatco ontvangs van die vrae erken het, is geen verdere reaksie tot dusver ontvang nie.

Dit kom terwyl produsente tydens die onlangse Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) se kongres in Windhoek bekend gemaak het dat Meatco hulle vir bykans drie maande reeds tussen N$300 miljoen en N$350 miljoen skuld.

ONBEVOEG

Produsente sê hulle is oortuig die prysaanpassings word gemaak omdat Meatco sedert Augustus ’n verlies gely het met sy bemarkingsafdeling wat bykans geen vleis kon verkoop nie.

“Daar is min verkope teen ’n uiters swak prys in die Europese Unie (EU) gedoen omdat Meatco self sy bemarking met onbevoegde mense behartig. Ons het ’n groot fout begaan deur Meatco te steun om sy verbintenis met GPS te beëindig,” het produsente gesê.

Meatco het in April vanjaar sy samewerkingsooreenkoms met die Noorse vleisverspreider Global Protein Solutions (GPS) gestaak.

“Ons is in ’n hengse penarie en sal produksie moet stop, want ons kan nie teen ’n verlies voer nie,” het Rian van Wyk, ’n produsent uit die Otjiwarongo-omgewing wat ook sy slagbeeste voer, gesê.

“Dis die moeilikste tyd van die jaar om ’n vet bees te hê. Nou laat sak hulle die prys en sny almal wat beeste voer se kele af.”

Van Wyk is die spreekbuis vir meer as 200 Meatco-produsente wat onlangs daarop aangedring het dat die regering moet ingryp en ’n nuwe bestuur vir Meatco moet aanstel – met spesifieke verwysing na die uitvoerende hoof en bestuurders in die bemarkings- en finansiële afdeling.

“Om produsentepryse in November te laat sak is die grootste bewys nóg van die Meatco-bestuur se onbevoegdheid. Ons moet saamstaan en geen bees verder lewer totdat hulle ’n nuwe bestuur aanstel nie.

“Hulle gaan die beesbedryf breek. Met huidige tendense in wêreldmarkte en die wisselkoers moes ons prys nou tussen N$90 en N$110 per kilogram gewees het,” het produsente gekla.

“Dit is kontrakbreuk. Daar moet gevolge wees, hulle kan dit nie doen nie,” meen nog ’n produsent.

“Dit is heeltemal in teenstelling met die voorleggings wat ons aan hulle gemaak het oor pryse vir dié tye van die jaar. Ons sukkel reeds met hoë insetkoste, nou sny hulle ons verkoopprys.”

Produsente oorweeg om ’n spesiale ledevergadering te belê, daarop aan te dring om die “werklike syfers” van die afgelope drie maande te sien en moontlik ’n mosie van wantroue teen die bestuur en direksie in te dien.

REGERING BELOOF VERANDERING

Intussen het die ministerie van finansies en staatsondernemings op 20 Oktober ’n mediaverklaring uitgereik om te bevestig dat die kabinet sekere besluite oor Meatco se toekoms geneem het.

“Dit sluit in die aanstelling van ’n tussentydse raad. Die raad is in ’n gevorderde fase van die ontwikkeling van ’n operasionele omdraaistrategie, wat na verwagting voor die einde van die jaar voltooi sal wees,” lui die verklaring.

Die noodsaaklikheid van ’n stabiele Meatco en sy bydrae tot die plaaslike ekonomie word erken, terwyl die regering sê hy neem kennis van mediaberigte oor die geld wat aan beesprodusente verskuldig is.

“Daarom is die ministerie daartoe verbind om Meatco te ondersteun om sy finansiële uitdagings te oorkom en seker te maak dat alle agterstallige geld aan beesprodusente betaal word,” aldus die verklaring.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!