Geleenthede wink vir Swakara

Nuwe agent, nuwe hoop
Swakara mag dalk toegang tot 'n groter verskeidenheid kopers by sy nuwe internasionale agent verkry, terwyl daar boonop nou 'n vraag na nispelse is.
Elvira Hattingh
Die Swakara-bedryf is hoopvol dat die verkryging van ’n nuwe internasionale agent vir die verkope van hul pelse, Saga Furs, vir ‘n herlewing in die bedryf kan sorg.

Dit omdat die mark tans ‘n sterker vraag na nispelse ervaar.

Dit volg nadat verteenwoordigers van die Swakara-raad die afgelope Saterdag na Helsinki, die hoofstad van Finland, vertrek het vir onderhandelinge met Saga Furs en om een van die agent se veilings by te woon.

Terselfdertyd het hulle ook sake by Kopenhagen Fur finaal gaan afsluit, terwyl laasgenoemde pelsveilinghuis besig is om te likwideer.

Die afgevaardigdes, waaronder die voorsitter van die Swakara-raad, me. Julene Meyer, het op ‘n WhatsApp-groep aan produsente gesê vir die eerste keer in etlike jare het hulle dieselfde boodskap uit verskeie kopers se monde gehoor.

“Die aanbeveling van ons kopers is dat ons op die regte plek is, en ons bykomende kopers sal kry as gevolg van die groter verskeidenheid lande wat by Saga Furs aankope doen. Daar is meer kopers uit Rusland, Turkye en Belarus.

“Boonop beweeg kommersiële pelse soos nerts tans stadig en nispelse doen beter,” het sy gesê en bygevoeg die pryse van pelse van wilde swartwitpens het tussen 15% en 35% verlede week by SoyaPushnina gestyg, terwyl dit by Kopenhagen Furs tussen 40% en 70% toegeneem het.

“Nertsverkope was swak, met minder as 10% verkope,” het sy bygevoeg.

Sy meen egter die situasie met Rusland wek kommer omdat dié land vóór die onlangse sanksies, die wêreld se tweede grootste pelsmark was.

Boonop was daar ook geen Chinese kopers op die afgelope Saga Furs-veiling nie, omdat China se vereistes vir kwarantyn vir terugkerende Chinese uiters streng is.

“China vereis dat almal vir 21 dae moet kwarantyn as hulle terugkeer,” het sy verduidelik.

Meyer sê kopers by Saga Furs sê hulle verkies die Maart-veiling, terwyl Saga Furs se bestuur saamstem dat dit hul beste veiling is, met aanvullende aankope vir ‘n September-veiling.

AGTERGROND

Die ineenstorting van die mark vir nertspelse láát in 2020 en die gevolglike likwidasie van Kopenhagen Fur, het Swakara genoop om ‘n ander internasionale agent vir die verkope van pelse te vind.

Kopenhagen Fur het in Desember 2020 aangekondig dat dit sy bates oor 24 maande sou likwideer.

Toe reeds het Meyer gesê Saga Fur kan dalk ‘n goeie alternatiewe internasionale agent wees.

Dit het gebeur nadat die Deense regering opdrag vir ‘n massa-uitwissing van nertse gegee het nadat ‘n mutasie van die coronavirus onder hulle waargeneem is. Die opveil van nertspelse is sentraal tot Kopenhagen Fur en Dene was die wêreld se grootste nertsprodusent.

Die maatskappy was 90 jaar oud.

Die Covid-pandemie het tot dusver egter ‘n beduidende impak op die internasionale pelsbedryf gehad, wat die afgelope jare vir swak verkope van Swakara-pelse gesorg het.

Dit het daartoe gelei dat talle plaaslike Swakara-produsente hul lammers vir die vleismark grootgemaak het – net om ‘n inkomste uit hulle te kan verdien. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!