Gesin sukkel in staning langs die pad
Ouma Priscilla Dauses hou elke winderige, stowwerige dag moed met die hoop dat sy voor haar 70ste verjaardag op 5 Januarie 2023 ’n nuwe tuiste vir haarself, haar huisgesin en haar oorblywende diere sal kry. Hulle woon nou meer as tien maande in die padreserwe langs die plaas Kamuhapu, sowat 60 km vanaf Otjozondu en meer as 40 km vanaf Hochfeld.
“Ek sukkel darem,” vertel sy oor hul lewensomstandighede waar die wind aanhoudend waai, die verbygaande vragmotors gedurig stof op jaag en die lang, geel gras waarin slange moontlik skuil, altyd ’n brandgevaar is. Soggens is daar niks om vir die drie seuntjie vir ontbyt te maak nie, sê sy.
Haar familie bestaan uit nege kinders met meer as 30 kleinkinders.
“Ek het gevra dat hulle vir ons ook die Harambee-kos gee, maar hulle sê dit is net vir mense op die dorp,” sê sy.
Dauses se vertroue in die regering wankel ná sy reeds vanaf 2017 onsuksesvol aansoek doen om hervestig te word. Dit was lank voor sy deur die nuwe eienaar van die plaas eers vanaf die pos waar sy jare gebly het, verskuif is, en November 2021 uiteindelik buite die hek gesit is. Volgens haar seun, mnr. Jefta Hendriks, het mnr. Ludi Kolver, die plaaseienaar wat die grond by sy pa gekoop het, hulle altyd gehelp om hul pleidooi onder die streekraad en goewerneur se aandag te bring.
In 2019 het streekraadslid Israel Hukura namens die /Gowanin-stam aan goewerneur Otto Ipinge geskryf, hul lang geskiedenis in die Hochfeld-gebied verduidelik en vir hervestiging gevra. In 2020 het hy aan die nuwe goewerneur, mnr. James Uerikua, geskryf met dieselfde versoek. Dit was nadat Dauses gedurende pres. Hage Geingob se dorpsaal-besoeke die vorige jaar hul versoek onder die president se aandag gebring het, en hy dit na die goewerneur se kantoor verwys het.
Hendriks sê die regering het intussen talle plase in hul omgewing vir hervestig bekom, maar daar was net een keer onverwags 'n aanbod om die familie naby Tsintsabis te hervestig. Dausas wou eers die nuwe plek besigtig, en is nooit weer daaroor gekontak nie, vertel hy.
Hulle versoek om op die plaas Hartland hervestig te word, het op dowe ore geval, sê hy. Dauses sê daar is plek op Hartland terwyl haar familie langs die pad stadig vergaan.
Water is veral ’n probleem vir die gesin, wat voorheen 8 km ver met 'n donkiekar daarvoor moes ry. Twee weke gelede is hulle verder van die plaashek af verskuif en is nou nog verder van hul waterbron. Hul perde is uitgehonger en kan nie meer die reis aanpak nie.
“Al my beeste is dood,” sê sy en voeg by dat haar oorblywende kleinvee ook swaar kry. “Ons kry baie swaar. Met my pensioen moet ek hospitaal toe gaan vir my asma- en bloeddrukpille. Hoe sal ’n mens maak? Ek is klaar. Hoe kan ons so ewe?” vra sy.
Hukura sê hy en Uerikua werk aan ’n oplossing en dat die goewerneur gister met die betrokke beamptes in die ministerie van landbou, water en grondhervorming sou vergader.
“Dit is ’n ingewikkelde kwessie, en nie net 'n enkele geval nie. Plaaswerkers wat vir generasies op ’n plaas werk en die plaas word verkoop nadat hulle dalk ’n ooreenkoms met die vorige eienaar gehad het om aan te bly, is in dieselfde bootjie.
“Nuwe eienaars bring nuwe reëls en kommer oor vee wat toeneem wat gratis wei of moontlike eise deur die kinders van die ouer werkers. Ons soek ’n tydelike oplossing terwyl ons op die minister wag. Ons weet daar is regeringsplase in die omgewing waar hulle kan gaan woon, maar ander kan ook aanvoer dat hulle grondloos is. Ek het ook geskryf na die kantoor van die ombudsman om hom hieroor in te lig,” sê hy.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie