Groenskemas val nou onder landbouministerie

32 Agribusdev-personeellede skuif oor
Daar is 'n behoefte om 'n nuwe permanente struktuur te skep wat toesig sal hou oor die implementering van die groenskemaprojekte in die land, het minister Calle Schlettwein gesê.
Yandi Du Plessis
Ogone Tlhage - Die ministerie van landbou, water en grondhervorming sal voortaan toesig hou oor die werking van die land se winsgewende maar onderbenutte groenskemaprojekte, met planne om in ’n gevorderde stadium ’n volwaardige indiensnemingstruktuur binne die ministerie te skep.

Dit kom ná ’n besluit wat verlede jaar geneem is om die landbousake-ontwikkelingsagentskap (Agribusdev), wat vir die bestuur van groenskemas verantwoordelik was, te laat likwideer.

Só het Calle Schlettwein, die minister van landbou, gesê toe hy onlangs ’n opdatering gegee het oor die toekoms van Agribusdev se werknemers – waarvan die meerderheid ingestem het om by die ministerie in te val in die aanloop tot die maatskappy se likwidasie.

“Die aanvanklike plan was om die Agribusdev-personeel in die bestaande struktuur van die ministerie van landbou te integreer; daar is egter ’n behoefte om ’n nuwe permanente struktuur te skep wat toesig sal hou oor die implementering van die groenskemaprojekte in die land,” het Schlettwein gesê.

VOLGENDE STAPPE

Die landbouministerie is nou besig om met werknemers van die entiteit te onderhandel wat verkies het om nie staatsamptenare te word nie, terwyl goedkeuring vir die nuwe struktuur om toesig te hou oor die groenskemas by die Staatsdienskommissie (PSC) ingedien is.

“Onderhandelinge is steeds aan die gang met daardie werknemers wat nie die aanbod aanvaar het nie. Die struktuur waarin die werknemers geplaas gaan word, is in die ontwikkelingsproses en sal na verwagting teen einde Oktober vanjaar aan die Staatsdienskommissie vir goedkeuring voorgelê word,” het Schlettwein gesê.

Altesaam 32 werknemers van Agribusdev sal by die ministerie geïntegreer word sodra die struktuur deur die PSC goedgekeur is, het Schlettwein verduidelik.

“In hierdie stadium is ek nie in ’n posisie om die presiese datum vir die voltooiing van die integrasie deur te gee totdat die nuwe struktuur goedgekeur is nie,” het hy gesê.

WANBESTUUR

Agribusdev is in 2011 op die been gebring om ’n ideale omgewing te skep vir die bereiking van die groenskemas se doelwitte – soos omskryf deur die groenskemabeleid van 2008 – en die proses te monitor.

Agribusdev was in beheer van 11 groenskemaprojekte wat die regering gestig het. Dit het die Etunda-, Hardap-, Kalimbeza-, Mashare-, Musese-, Ndonga Linena-, Oranjerivier-, Shadikongoro-, Shitemo-, Sikondo- en Uvhungu-Vhungu-besproeiingsplase ingesluit.

Die agentskap het egter nie daarin geslaag om die groenskemas oor die jare te bestuur nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 23° | 37° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 21° | 35° Tsumeb: 25° | 34° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 22° | 37° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 16° | 34° Ariamsvlei: 21° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 37° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 16° | 33° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 21° | 36° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 16° | 22° Durban: 19° | 28° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!