• Tuisblad
  • Landbou
  • Groot Aub se water meestal ongeskik vir menslike gebruik
'n Lugfoto van Groot Aub. FOTO WIKIMEDIA COMMONS
'n Lugfoto van Groot Aub. FOTO WIKIMEDIA COMMONS

Groot Aub se water meestal ongeskik vir menslike gebruik

Landbou, sandmynery veroorsaak besoedeling
Verskeie voorleggings word tans gedoen as deel van Namibië se viering van Wêrelddag vir Vleilande, Internasionale dag vir Woude asook Wêreldwaterdag.
Elvira Hattingh
Groot Aub se watergehalte gaan agteruit met veral landboubedrywighede, lekkende septiese tenks en sandmynery wat dié nedersetting se ondergrondse waterbronne besoedel.

Volgens Lina Mutilifa, ’n student verbonde aan die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), het ’n studie getoon tot so min as 5% van Groot Aub se water is geskik vir menslike gebruik.

Dit is as die watergehalte met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se standaarde vir drinkwater vergelyk word.

Mutilifa het Maandag tydens die eerste dag van Namibië se waterweek die resultate van die studie bekend gemaak wat sy en van haar kollegas oor Groot Aub se waterbesoedelingsprobleem onderneem het.

“Van die vyf boorgate wat getoets is, was net een geskik vir menslike gebruik. Veral die boorgat by Groot Aub se primêre skool het tekens van gekonsentreerde nitrate getoon,” het sy verduidelik.

Sy het gesê volgens NamWater se standaarde vir watergehalte is 50% van die boorgatwater wat in die studie getoets is, geskik vir menslike gebruik.

Sou dié water egter aan die WHO se standaarde gemeet word, daal dié persentasie tot 33,3%.

“Terwyl die Ndadi-boorgat se watergehalte uitstekend is, is beide die een by die primêre skool asook by die sandwerke ongeskik vir menslike gebruik,” het sy gesê.

Mutilifa het verduidelik Groot Aub is sowat 55 km suid van die hoofstad geleë en is afhanklik van ondergrondse water. Die nedersetting, wat binne die Windhoek-munisipaliteit se grense val, het bykans 9 000 inwoners en boer met kleinvee en gewasse. Die nedersetting het altesaam 27 boorgate, waarvan die munisipaliteit vyf benut.

Mutilifa sê die nedersetting ervaar reeds uitdagings met grondbesoedeling aangesien dit ’n swak rioolinfrastruktuur het en van onder meer septiese tenks gebruik moet maak.

Volgens die studie veroorsaak die geografiese eienskappe van die gebied dat die water in aanraking kom met sekere elemente wat dit besoedel.

Sy het voorgestel die situasie kan beredder word deur die nedersetting se water- en rioolinfrastruktuur op te gradeer, die behandeling van drinkwater te verbeter en onderrigprogramme oor die bewaring van ondergrondse water te verbeter.

Mutilifa se voorlegging vorm deel van ’n reeks voorleggings tydens waterweek.

WATERWEEK

Vanaf 28 Maart tot 1 April bied Nust, in samewerking met die ministerie van landbou, water en grondhervorming en verskeie ander rolspelers ‘n reeks geleenthede aan om Wêrelddag vir Vleilande, Internasionale dag vir Woude asook Wêreldwaterdag te vier. Die tema is “Grondwater, té kosbaar vir mense, woude en vleilande – maak die onsigbare, sigbaar”.

Die geleentheid het Maandag begin toe jong professionele beroepslui uit die watersektor voorleggings by die Franco Namibiese Kultuursentrum gemaak het oor plaaslike waternavorsing wat gedoen is.

Me. Josephine Itengula, senior hidrogeoloog by die ministerie, het tydens die geleentheid verduidelik dat waterbestuur in die land toegepas word deur verskeie belangegroepe, wat onder meer insluit die ministerie se geohidrologiese afdeling, kombestuurkomitees, NamWater, plaaslike owerhede, boere en boereverenigings asook gemeenskappe.

Die ministerie se me. Anna David het tydens die geleentheid verduidelik ondergrondse water word landswyd met behulp van 630 moniteringsboorgate gemonitor, waarvan 71 as hoofmoniteringsboorgate beskou word en nog 23 geoutomatiseer is en inligting regstreeks op ’n webwerf laai.

“Ondergrondse water is die wêreld se mees oorvloedige bron van vars water – iets wat tot dusver onsigbaar was,” het Itengula gesê. Sy meen daar behoort groter klem op ondergrondse waterbronne te val.

Sy sê tot die helfte van die voedsel op aarde word met behulp van ondergrondse water geproduseer. Sy sê slegs sowat 1% van reënwater bereik ondergrondse waterbronne. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 20° | 35° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 23° | 34° Ruacana: 18° | 36° Tsumeb: 21° | 35° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 19° | 37° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 20° | 35° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 18° | 35° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 16° | 30° Ariamsvlei: 19° | 34° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 23° | 36° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 19° | 35° Antananarivo: 18° | 29° Lilongwe: 18° | 28° Maputo: 24° | 36° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 19° | 24° Durban: 23° | 30° Johannesburg: 21° | 32° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 28° Harare: 17° | 29° #REF! #REF!