Grootskaalse konynplaas op Karibib beplan
Groot planne vir die bedryf vanjaar
Vyf konynboere het planne om 'n grootskaalse konynboerdery op 10 hektaar grond by Karibib te vestig, terwyl Namibiese konynboere binnekort 'n eie boerevereniging sal stig.
’n Projek waardeur binne ’n jaar op groot skaal met konyne by Karibib geboer moet word, die stigting van ’n boerevereniging vir konynboere in Februarie en bedinging vir ’n uitvoermark van vleis na China, is net enkele nabye toekomsplanne wat Namibiese boere in die mou voer.
Só vertel die konynboer Johann Potgieter wat saam met sy vrou, Ivette, en hul tweelingseuntjies, Liam en Tiaan, by Karibib boer. Hulle is die eienaars van Oholle Rabbit Farm.
Hy en vier vennote, onder wie die Windhoekse sakeman Tinus Opperman, het planne om ’n grootskaalse konynboerdery op 10 hektaar grond by Karibib te vestig, waar alles in die bedryf gedoen sal word – vanaf om kos vir die hase te kweek, tot waar die vleis verkoop kan word.
“Ons wil ’n ton haasvleis elke 45 dae kan verskaf. Om dit te maak werk, het ons tussen 400 en 500 konynwyfies nodig,” het hy verduidelik.
Karibib se dorpsraad is reeds aan boord en het die grond aan hulle beskikbaar gestel, wat hulle oor die langtermyn sal huur. “Dis ’n baie opwindende projek en waarskynlik enig in sy soort in Namibië,” vertel Potgieter.
Hy sê die plaas sal oop wees vir die publiek om te kom kyk hoe dit gedoen kan word, terwyl daar ook ’n winkeltjie sal wees waar hulle onder meer konynvleis sal kan koop.
“Karibib is ’n strategiese ligging vir die projek. Ek is hier naby om dit te bedryf. Ons wil hê as mense teen die einde van die jaar see toe ry, moet hulle by ons kan stilhou om te kom kyk hoe ons dit doen.”
Potgieter sê hulle is nog besig met ’n loodsprojek om vas te stel of daar met vrylopende konyne geboer sal kan word. “Nêrens in die wêreld word dit só gedoen nie. Ons sal ook faktore soos uile en slange in ag neem om te besin hoe ons dit kan maak werk.”
As deel van dié proefneming het hulle reeds konynwyfies in ’n groot kamp geplaas en nuwe soorte hokkies gebou. “As dit op hierdie manier kan werk, sal ons dit op groot skaal doen,” verduidelik hy.
VOER
Potgieter sê hulle hoop hulle sal ook die voeding goedkoper op groot skaal kan koop.
Hierbenewens wil hulle self voergewasse soos lusern en voersorghum, oftewel sogenaamde “cow candy”, plant wat sowat tot 70% van die konyne se dieet opmaak.
Hulle meen die aanplanting sal help om geld op die konyne se voerkoste te bespaar. Hulle wil ook prosopis-indringerbosse as konynkos benut en het ’n voedingskundige aan boord wat hulle bystaan.
Potgieter sê daar is definitiewe belangstelling uit China, wat graag die haasvleis sal wil invoer. Hy meen sodra toegang tot dié mark verkry kan word, sal Namibië heelwat konynboere benodig om in die aanvraag te voorsien.
Potgieter sê hy en sy vennote is entoesiasties oor die projek. “Die somme maak sin.”
WINKELS
Op die konynplaas sal ook, buiten vir konynvleis, kompos van die konyne se mis gemaak word en vanuit die winkel verkoop word. Selfs konynpelse kan verkoop word, sou daar belangstelling wees, sê hy.
“Ons wil professioneel raak en vir mense ’n formele plek skep waar hulle konyne se produkte koop. Ons wil dit kommersieel doen en hê mense moet die produk ernstig begin opneem.
“As mense in Europa konynvleis eet, kan ons dit seker ook doen,” het Potgieter verduidelik.
Konynvleis is egter iets wat kliënte direk van die boer af sal moet koop.
“Daar is nie ’n handelaar in die land wat konynvleis wil aanhou nie. Dalk is dit ’n bedekte seën, want as iemand direk by ons koop, spaar jy geld. Jy voel die produk word met liefde en moeite van die plaas af aan jou besorg.
“In Suid-Afrika is dit in elk geval reeds toenemend ’n tendens om direk van die boer te koop. Ek glo dit sal by ons ook kom. Mense wil ’n persoonlike bankier hê en dalk ook ’n persoonlike boer,” skerts hy.
STERK GROEI
Die plaaslike konynbedryf ervaar reeds sterk groei en Potgieter bly nie voor met die vraag na slypskole oor konynboerdery nie. Hy sal juis in Januarie weer so ’n slypskool op Hentiesbaai aanbied.
“Die bedryf het reeds baie ontwikkel en aangepas. Aan die begin het almal teelmateriaal gesoek; nou blyk dit daardie mark het gestabiliseer en nou begin mense konynvleis bemark. Dis ’n baie positiewe ding, want dit beteken die bedryf kan op korter kennisgewing op bestellings reageer,” sê hy.
In Februarie sal Namibië se konynboere in Windhoek saamtrek en ’n boerevereniging stig sodat die bedryf beter georganiseerd kan raak en meer bedingingsmag kan hê. Die vergadering sal geadverteer word, het hy gesê.
Daar is groeiende belangstelling in die vleis. “Om konynvleis verkoop te kry, is vandag tien keer makliker as vier jaar gelede. Ek dink Covid het ’n groot rol gespeel; mense is onder druk en soek na alternatiewe – ook hoe hulle geld kan spaar,” het hy verduidelik.
Hy meen konynvleis wat vir so min as N$50 per kg kan verkoop, bied ’n goeie alternatief.
Potgieter sê die mark is baie gediversifiseer en terwyl konynvleis soms vir sowat N$50 per kg verkoop, kan dit selfs N$150 per kg haal. “Dit hang af waar jy bemark. Waar die vleis formeel verpak, geseël en met ’n plakker op weggestuur word, kos dit duurder.”
Potgieter beklemtoon konynboerdery is ’n lonende bedryf. “Ons het die somme oor en oor bereken – dit bly lonend.” Hy glo egter die sleutel tot sukses is dat jy buite die boks kan dink en moeite doen om ’n mark vir jou produk te verseker.
Vir meer inligting kan Oholle Rabit Farm se blad op Facebook gevolg word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie