Hennep het groot potensiaal as landbougewas

Potensiaal van daggaplante
Kannabis is 'n hernubare hulpbron wat in verskillende klimate en grondtipes geplant kan word, en neem drie maande om sy groeiproses te voltooi.
Yandi Du Plessis
“In die tyd van klimaatsverandering moet ons aan kreatiewe oplossings dink wat beide voordelig vir ons omgewing sowel as ons mense kan wees.”

Só sê me. Angela Prusa, stigter van die Kannabis- en Hennepvereniging van Namibië, cannabinoïed-praktisyn en dagga-aktivis, wat haar daarvoor beywer om die potensiaal van daggaplante as landbougewas te bevorder.

“Ons boor tans vir olie in ons oseane en ons Kavango-sedimentêre kom wat nadelig is vir ons natuur – veral in ‘n tyd waarin die wêreld hom daartoe verbind het om fossielbrandstowwe uit te faseer.

“Ons moet fokus op oplossings wat nie ontginnend van aard is nie en eerder die natuur en hulpbronne vir ons toekomstige geslagte bewaar.

“Hennep (Cannabis sativa L.) het die potensiaal om só ‘n kreatiewe oplossing te wees,” sê Prusa.

Kannabis is ‘n hernubare hulpbron wat in verskillende klimate en grondtipes geplant kan word, en neem drie maande om sy groeiproses te voltooi. Gedurende die groeiproses is die plant ‘n katalisator vir koolstofsekwestrasie, die opvang- en bergingsproses van koolstofdioksied in die atmosfeer, en het dit die potensiaal om die grond skoon te maak van gifstowwe, swaar metale en radioaktiewe afval, sê sy.

Hennep het ook die potensiaal om multisektornywerhede oraloor Namibië te skep wat waarde tot die ekonomie kan toevoeg en verskeie werksgeleenthede in die land kan skep, voeg sy by.

“Ons kan ons tekstielbedryf laat herleef deur henneptekstiele te vervaardig wat minder water as katoen sal verg om te groei, asook minder chemikalieë en plaagdoders.

“Eerder as om plastiek uit fossielbrandstowwe te skep, kan hennep as alternatiewe bron gebruik word, aangesien dit vinniger bioafbreekbaar en ‘n volhoubare hulpbron is.”

Prusa sê pleks daarvan om papier te maak van bome wat honderde jare neem om te groei en bewaar moet word, kan hennep – wat slegs drie maande neem om te groei – gebruik word om papier en toiletpapier te maak.

“Ons kan hennep in ons landbou- en lewendehawesektor gebruik deur byvoorbeeld veevoer te skep.”

Hennepkalk (‘n mengsel van stukkies hennep wat oorbly ná die stam verwerk is, kalk, sand, of pozzolane wat as ‘n konstruksie- en isolasiemateriaal gebruik word) kan gebruik word om bakstene te maak en uiteindelik geboue op te rig wat gesond is om in te woon, waarin temperature gereguleer word, en meer brandweerstandig en plaag- en skimmelbestand is. Dié bouproses sal ook minder water en chemikalieë verg as dié met sement wat tans gebruik word, sê sy.

Hennep het ook net soos sy “neef” dagga, ‘n lang geskiedenis van daaglikse gebruike oraloor die wêreld gehad voordat beide as taboe bestempel is.

Welvarende hennepbedrywe is vervang deur dié van katoentekstiele, papier wat uit bome gemaak word en plastiek uit fossielbrandstowwe, wat almal nadele vir die omgewing inhou.

“Dit is nou die tyd om hierdie bedryf te laat herleef en die potensiaal wat dit het, te benut op ‘n wyse wat die welstand van die planeet, die natuur, diere en ons as mense prioritiseer,” meen Prusa.

Sy sê verder hennep kan Namibië help om sy eie ontwikkelingsdoelwitte asook om die Verenigde Nasies (VN) se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDG's) te bereik.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!