Herlewingslandbou vir beter wins
Optimale produksie, droogtebestandheid ‘n bonus
Drie boere uit drie uiteenlopende gebiede in die land, het by die Landbouvooruitskouingskonferensie verduidelik hoe hulle herlewingslandbou op hul plase toepas.
Elvira Hattingh
Tydens die Landbouvooruitskouingskonferensie op 5 Oktober in Windhoek was herlewingslandbou hoog op die agenda, met talle boere wat vertel het hoe verskeie metodes benut kan word om meer winsgewend te boer.
Tydens die geleentheid het die weidingskundige, Colin Knott, gesê herlewingslandbou kan boere ook help om beter bestand te wees teen droogte en hul produksie per hektaar te verbeter.
Koos Briedenhann van Otjiwarongo, Klaas Malan van Grootfontein en Jörg Gaugler van Helmeringhausen het aan landbouers verduidelik hoe hulle dit op hul plase doen.
BEES- EN SKAAPPLAAS
Op die plaas Buffelhoek, sowat 23 km wes van Otjiwarongo, is die skuif gemaak van om net met gras te boer, eerder as met gras én bosse.
Die Briedenhanns het besef as hulle nie iets aan die bos doen wat op die plaas gegroei het nie, sou hulle bankrotskap die hoof moes bied.
Hulle het aanvanklik die chemiese toediening van bosdoders beproef, maar dit het ’n nadelige uitwerking op beide die gras asook spesies bosse gehad wat wel deur vee benut kan word.
Die broers, Koos en Timo Briedenhann, het oor ’n tydperk ’n bosrol-tegniek ontwikkel as ’n innoverende manier om biodiversiteit op hul 5 011 ha plaas te herwin, terwyl dit ook ’n goeie hupstoot vir produksie en winsgewendheid beteken het.
“Eerder as om teen die bosse te probeer baklei, maak ons dit korter met behulp van bosrollers,” het Koos tydens die geleentheid vertel.
Die tegniek het daartoe gelei dat hulle hul veegetalle kon opstoot vanaf 344 beeste en 285 skape in 2016 na 491 beeste en 1 423 skape in 2021. Die plaas se bestokking het ook verhoog vanaf 33 kg/ha na 60 kg/ha.
Die Briedenhanns sê die bosrollers help dat die bosse net tot op ’n hoogte groei waar dit deur die vee as ’n hoë gehalte bron van voer – vir beide beeste en skape – benut kan word.
Hulle maak voorsiening daarvoor om die bosse elke drie tot vyf jaar weer om te rol – afhangende van hoe vinnig en erg die bosse teruggroei.
Dit het ook gehelp dat hul vee se vrugbaarheid verbeter het. Sedert 2016 is die beeste se gemiddelde speengewig 71%, terwyl hul skape sedert 2019 ’n speenpersentasie van 163% handhaaf.
“Diere hou hul kondisie dwarsdeur die jaar, teen ’n lae koste, terwyl die vee ook uitstekende veerkragtigheid tydens die 2019-’20-droogte getoon het en alle diere oorleef het,” vertel Koos.
Die Briedenhanns kombineer bees- en skaapkuddes deur die jaar en hou ook die bulle deurentyd by die koeie.
“Bestok jou plaas met goed aangepaste skape en beeste – dwarsdeur die jaar – en pas digte, maar tog selektiewe weiding toe. Dit beteken die vee vreet die bosse wat weer groei. Dit verhoog biodiversiteit en bou ekologiese en finansiële veerkragtigheid,” het Koos gesê.
Hy sê die bosroltegniek het ook gehelp dat hulle beter biodiversiteit op hul plaas het, terwyl hul insetkoste vir lek verminder het en hulle minder geld aan arbeiders hoef te bestee om diere van kamp tot kamp te laat trek.
Die Briedenhanns sê hulle beplan om die skaapgetalle tot 2 500 te lig, om die hoë gehalte bos te benut wat groei nadat die bosrollers hul werk gedoen het.
Die beesgetalle sal dan afgebring word omdat die skaapbedryf blyk ’n gesonde, lewensvatbare onderneming te wees.
AKKERBOU
Die akkerbouer Klaas Malan wat op die plaas Venus naby Grootfontein boer, sê grond is nie net grond nie – dit huisves miljoene mikro-organismes wat vir jou werk en jou ’n meer suksesvolle boer kan maak.
Dit is egter nodig dat akkerbouers omskakel na geenbewerkingsmetodes, wisselbou beoefen en van dekgewasse gebruik maak.
Klaas het in 2009 na geenbewerkingmetodes oorgeskakel. In 2019 het hy agt verskillende soorte dekgewasse geplant, terwyl hy die afgelope twee jaar hoofsaaklik net baster-babala en sorghum geplant het. Dit is in dié tyd wat hy die werklike waarde van dekgewasse ontdek het, sê hy.
Hy sê ná die eerste vyf jaar waarin hy nie sy lande bewerk het nie, het die tekstuur van die grond en sy vermoë om water te behou, soveel verbeter dat dit droogtes heelwat beter hanteer.
“Ná 13 jaar waarin ek geenbewerking toegepas het en vier jaar van grondbedekking, het die koolstof in die grond met 35% toegeneem in vergelyking met naburige plase, wat nie van die metodes gebruik maak nie,” het hy by die konferensie gesê.
Klaas het ook vertel hy het 60 ha dekgewasse in 2020 geplant, waar hy 212 speenkalwers aangehou het met ’n gemiddelde gewig van 105 kg.
Die speenkalwers het vier maande lank op die dekgewasse geloop en twee maande op die lande met die mieliereste. Hulle het teen Julie 2020 gemiddeld 187 kg geweeg, wat beteken hulle gewig het met 70% in ses maande toegeneem.
“In droë jare kan die potensiële groot geldelike verliese weens swak mielie-oeste gedeeltelik herwin word met behulp van geenbewerkingsmetodes en dekgewasse, wat deur vee benut word. In die nat jare oes ek dieselfde as my buurplase wat konvensioneel boer, maar die veekomponent beteken beter winste,” sê hy.
Hy sê al het sy graanproduksie eintlik dieselfde gebly, kom die verskil in wanneer daar droër jare is – want dan haal hy steeds beter oeste af terwyl sy veegetalle verdriedubbel.
Nog ’n voordeel is dat, omdat die grond die heel jaar bedek is en nie kaal lê nie, bly die groen plante langer in die veld en verhoog sy plaas se biodiversiteit ook.
DROËR DELE
Jörg en Michelle Gaugler wat op die plaas Dabis (suid), 10 km noord van Helmeringhausen en 130 km suid van Maltahöhe boer, kon deur herlewingslandboumetodes daarin slaag om hul bestokkingsyfer tussen 2013 en 2021 op meer as 7 kg per ha te hou.
Verlede jaar het dit tot 10 kg per ha gestyg.
Terselfdertyd kan hulle nou sowat 300 skape in hul kleiner kampe vir drie weke lank aanhou, terwyl die kampe aanvanklik net twee of drie dae se weiding vir 200 skape gebied het.
Die Gauglers sê hulle boer met hoogs aangepaste skape en pas intensiewe, selektiewe weiding vir drie weke lank toe, waarna hulle die weiding ’n hersteltydperk van twee jaar lank toelaat. Dit is sodat bosse en struike, wat van reën afhanklik is, genoeg tyd het om te herstel.
Jörg sê die plaas se plantegesondheid en biodiversiteit is tans in die beste toestand ooit sedert 1974, terwyl sy ooie wat sowat 45 kg weeg, 123% lammers per ooi per jaar produseer. Lammers word geslag as hulle 17 kg weeg, op sowat vier tot vier en ’n halwe maande.
Ten spyte van die afgelope droogte van tien jaar, hoef hy nooit van sy vee te verminder het nie, met net enkele ou skape wat gevrek het.
Sy meerjarige plante en bosse het tydens die droogte vermeerder, terwyl hy nog ’n bykomende bron van inkomste gehad het deur veldramme te kon verkoop.
Meer inligting oor herlewingslandbou en meer voorbeelde waar dit toegepas word, kan by www.nau.com.na gevind word. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie