Jong boer plant 50 000 mielieplante per hektaar

Tegnologie moet toekoms inlei
'n Jong akkerbouer meen méér jonges sal dalk die bedryf betree as koöperasies produksielenings toestaan, terwyl Namibiese landbou daarna moet streef om te moderniseer.
Elvira Hattingh
“Ek is baie lief vir boer. Maar moenie dink boerdery gaan jou gou ryk maak en dit ’n sakebesluit maak nie. Jy moet ’n liefde daarvoor hê.”

Só gesels die 25-jarige akkerbouer Paul Potgieter, wat vanjaar mielieplante op 330 hektaar (ha) droëland op die plaas Fairview geplant het.

Hy, sy broer Jannie en hul pa Paul (sr.) doen dinge egter ietwat anders op dié Noordeplaas. Op hul lande staan daar 50 000 mielieplante per ha.

“In Namibië plant boere gemiddeld 20 000 tot 28 000 mielieplante per ha op droëland, terwyl spilpuntboere nie graag hoër as ’n plantestand van 50 000 gaan nie. Hulle plant gewoonlik tussen 42 000 en 52 000 mielieplante per ha,” verduidelik Paul.

Fairview se Potgieters het egter ’n “berekende kans” geneem deur so ’n hoë mieliestand op droëland te beproef.

Hoë leem- en turfgrond, wat vog baie goed behoue laat bly, kom op die plaas voor.

“Ons het die vogtigheid van die grond getoets deur kort ná strooptyd – in die wintermaande of in Augustus of Oktober – proefgate te grawe. Die vogvlakke was nog baie hoog vanweë verlede jaar se baie reën.

“Dis grotendeels die rede hoekom ons besluit het om 50 000 plante per ha te plant,” sê Paul.

Hulle beplan om weer vanjaar ná strooptyd die grondvog te toets en hul besluit oor die komende seisoen daarop te baseer.

“Ek dink elke jaar sal my plantestand dus verskil,” sê hy.

Fairview het verlede jaar 1 100 mm reën gehad, wat daartoe gelei het dat baie van hul mielieplante versuip het – juis omdat die grond die water goed behou laat bly.

“Ons het besluit om ons plantestand baie hoër te maak sodat ons die water kan benut. Anders is daar te veel water wat net wegloop.”

Paul sê met verlede jaar se baie reën, het die kolle op hul lande wat sanderige grond bevat, baie beter gedoen. Daarteenoor het die dele met turf- en leemgrond té veel water gehou en het dit “soos damme” gestaan.

“Daar was 40 ha wat ons nie eers gestroop het nie, want dit het heeltemal versuip,” vertel hy.

GEENBEWERKING

Die Potgieters pas ook geenbewerkingsmetodes op hul mielielande toe.

“Daar is baie teorieë daaroor – of dit werk of nie. Volgens my werk dit baie goed, want so beskerm jy jou grond en bogrond.”

Hy meen ‘n gewone eg-implement (disc) die grond eindelik kompakteer, terwyl dit ook lewendige organismes soos erdwurms doodmaak.

Hy is ook van mening dat die meer omgewingsvriendelike geenbewerkingsmetode hand-aan-hand met die gebruik van GMO-mielies gaan – iets wat ingevolge die wet egter nie in Namibië geplant kan word nie.

“Dit gaan oor kostebesparing. Met jou gewone mielie is jou gifrekening baie hoër. As die regering vir ons die groen lig vir GMO’s kon gee, dink ek sal baie meer boere die moed hê om te begin plant. Jou kostebesparing is soveel meer omdat jy dan nie vir onder meer wurms hoef te spuit nie.”

OESVERWAGTING

Paul sê hulle het reeds op 29 November saad begin plant, want toe het hulle al tussen 80 mm en 100 mm reën ontvang.

“Ons grondvog was toe al reg,” het hy vertel.

Hy sê hulle was gelukkig dat hulle opvolgreën ontvang het en toestande vir die mielieplante vanjaar eintlik “perfek” was.

“Ons staan tans op 483 mm,” sê hy.

Hy sê dit is moeilik om voor die tyd oor oesverwagtinge te praat.

“My pa het altyd ’n sêding: ‘Ons sal weet as die stroper loop’.”

“Sover lyk dit egter baie goed. Ons het bemes vir 5 ton per ha. Ek verwag ’n minimum van 5 ton, maar sover lyk dit beter. Ek skat ons gaan minimum 6 tot 6 en ’n halwe ton per ha afhaal,” het hy gesê.

Paul sê op sy plantestand en insetkoste, breek hy gelyk op 2,1 ton per ha.

“Alles bo dit is dus jou wins,” het hy gesê.

Hy sê as die regering akkerbouers egter die groen lig kan gee om GMO’s te plant, kan hulle hul gelykbreekpunt verlaag en hul winste verhoog.

DIE REGTE PLAAS

Die Potgieters se wortels lê in Namibië. Hulle het in 2010 van die Vrystaat terug na Namibië getrek en Paul het in 2016 sy matriekjaar voltooi. Daarna het hy vir ’n jaar op ’n plaas in Amerika gaan werk.

Met sy terugkoms, het hulle vir twee jaar na die geskikte plaas gesoek.

Hulle het saam besluit dat Fairview, wat sowat 120 km noordoos van Tsumeb en 100 km noord van Grootfontein geleë is, die regte plaas is.

“Die water hier lê op 3 meter. Hier is sterk water. Ons het gepraat en ek en my pa en broer het besluit dit is die beste plaas vir ons. Ons het gedink ons kan diversifisering hier toepas – wild, bees en akkerbou.”

Paul sê hulle het aanvanklik op die plaas met beesboerdery begin en is besig om die plaas se drakrag optimaal te benut deur ontbossing toe te pas.

Tans is hul drakrag sowat 1 bees per 8 ha. Hulle het ook wild, maar fokus meestal op die plaaslike mark, of sogenaamde biltongjagters. Dis nou hul vierde jaar op Fairview.

TEGNOLOGIE

Paul het in Amerika op ’n plaas gewerk waar hulle katoen, mielies, sojabone en rys geplant het en daar gesien hoe tegnologie in landbou optimaal benut kan word.

“Ek het baie dinge daar geleer. Ons het dus ook van die begin af besluit ons gaan dit reg doen en die gepaste toerusting en tegnologie aankoop.”

Hy meen dit is onafwendbaar dat die landboubedryf tegnologie optimaal gaan moet benut, omdat dit aan die einde van die dag talle kostes uitskakel.

Paul se toekomsplan is om heeltemal na presisieboerdery oor te skakel.

“Op dié manier spaar jy so baie op klein goedjies. As jy die klein uitgawes kan verlaag, is dít wat op die ou einde jou gaan maak of breek.”

Hy sê egter dit is duur om die tegnologie aan te koop wat vir presisieboerdery benodig word.

Hy beplan ook om binne die volgende vyf jaar spilpunte op te sit.

“Ons wil twee soorte gewasse plant - mielies in die mielietyd en koring in die winter – sodat jy twee oeste kan hê.”

Hulle oorweeg ook om gewasse soos onder meer suikerbone saam met die mielies te plant.

“Dis goeie diversifisering, omdat jou suikerbone baie minder water benodig. So 350 mm of 400 mm reën is genoeg.

Paul sê dit kan help in die droër jare, wanneer daar nie genoeg reën vir die mielieplante is nie en die suikerbone jou dan deur die seisoen kan help.

BOEREHART

“Ek het altyd geweet ek wou boer. Dit was ‘n liefde vir my van kleins af. Ek en my broer het van kleins af saam met my pa geboer.

Ons het naweke en vakansies op die plaas gewerk; daar was nie tyd vir rondspeel nie.

“Ek dink dit is waar die verskil tussen ‘n sakeman en ‘n boer inkom. Vir ‘n sakeman gaan dit net oor die syfers. Boerdery is definitief nie net dít nie; dit is ‘n liefde. As jy nie ‘n liefde vir boerdery het nie, dink ek nie jy gaan dit maak nie,” sê hy.

Paul sê jong boere wat wil begin boer, behoort ‘n goeie mentor te kry – iemand wat positief is oor landbou se toekoms in die land.

Hy meen ook landboukorporasies kan baie meer jong boere help om ‘n voet in die deur te kry deur produksielenings toe te staan.

“In Suid-Afrika reik produksielenings korporasies uit. Daar word eers ‘n inspeksie op jou plaas gedoen om te sien of jy die kapasiteit gaan hê om die gegewe gewas te produseer.

“As jy die lening kry, gaan die korporasie ‘n ooreenkoms met die silo aan dat die betaling vir die eerste deel van jou oes gaan om jou produksielening terug te betaal,” verduidelik Paul.

“So iets sal jong boere ‘n kans gee en motiveer om te begin plant, al is dit net eers 30 of 50 ha. Ek glo as ons korporasies dit kan doen, dan sal Namibië eindelik die 130 000 ton mielies wat ons plaaslik verbruik, alles self kan produseer.”

Sy raad aan jong boere is om hard te werk en om elke dag 110% te gee.

“As jy jou beste gee en dis ‘n mislukking, dan kan jy nog steeds vanaand vir jouself in die spieël kyk en sê: ‘Ek het my bes gedoen’.”

“As jy in jou hart weet jy het jou beste gegee, dan is dit goed genoeg.”

Paul se raad aan ouer boere is om landboutegnologie te begin benut en te moderniseer. Hy vra ook dat hulle jong boere moet ophef.

“Wees positief. Sê vir hulle dit is moeilik, dit is harde werk en jy moet jou kant bring, maar ek het dit gemaak en dus kan jy ook.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!