Karasberge: Ergste brand in 80 jaar

Elvira Hattingh,Monique Adams
Elvira Hattingh - “Ek moet vir jou die heilige waarheid sê; daar was nie meer moed nie. Ek het om die huis geloop en bid en in die naam van die Here die wind beveel om te loop lê.

“Ek het gesê: ‘Here, U het dan die storm op die see stilgemaak’.

“Die wind het geluister, almal het geluister vir die Grootste Naam ooit: Jesus Christus. Ek het in Sy naam gevra en toe gebeur dit. Drieuur die oggend kon ons weer in die huis terugkom.”

Só vertel mnr. Dirk Booysen van die plaas Stormlaagte oor die angsure Donderdagaand toe die vuur in die Karasberge so naby aan hul huis gebrand het dat hulle dit moes ontruim.

“Die wind het Wes gedraai en dit was geweldig sterk. Boonop het ons oor die afgelope twee jaar baie reën gehad en die gras was hoog en sterk,” het Booysen vertel.

“Ons moes ontruim, want toe kom die vuur reg op ons huis af. Ons moes ons voertuie en alles wegvat en net probeer wegkom.

“Ek wou nog goed uithaal, maar die manne het vir my geskree ek moet net uitkom, die assuransie kan betaal. Ek het teruggeloop en om die huis geloop en bid. Toe, op die nippertjie, deur Godsgenade, het die vuur gesplit en links verbygegaan.”

Booysen is een van talle boere in die Karasberge wat sedert die afgelope Woensdag angs-ure ervaar het toe die vlamme baie naby aan hul huise gekom het. Al die huise is egter eindelik gespaar.

ENORME BRAND

Booysen sê na raming het die vuur, waarvan die laaste vlamme die afgelope Sondagoggend gesmoor is, sowat 200 000 hektaar verswelg.

“Die mense sê dit is die ergste brand in die Karasberge in 75 tot 80 jaar. Dit was beslis die een met die grootste omvang,” het Booysen gesê. Hy sê drie persone het matige beserings opgedoen.

Booysen sê hy het self tussen 7 000 en 8 000 hektaar verloor – sowat 90% van sy weiding. Die getal vee wat hy verloor het, is nog onbekend.

Hy sê boere in die omgewing het nou die grootste behoefte aan voer, veemedisyne vir beseerde diere, asook surrogaatmelk vir weeslammers. “Daar is ook plase wat weer opgebou moet word – heinings en pyplyne is verwoes, terwyl motors en hul bande ook beskadig is,” sê hy.

KRISISBESTUUR

Monique Adams, Namibia Media Holdings (NMH) se streekkorrespondent in die Suide, het uit Karasburg laat weet boere is terug na hul plase om kampe te gaan herstel en talle was baie getraumatiseerd oor die aangeleentheid – baie het nie kans gesien om met haar te gesels nie.

“Boere is nou besig om vas te stel wat die omvang van hul skade is. Hulle het nog nie tyd gehad om orals uit te kom nie en is nou eers besig om te kyk waar hul vee is. Dit is nou tyd vir krisisbestuur – om te kyk of daar nog water orals is,” het Lourens van Staden gistermiddag aan Republikein gesê.

Van Staden vertel hulle het Sondagoggend vyfuur nog van die laaste brande in die Karasberge geblus. Hy sê boere sal waarskynlik eers oor ‘n week weet hoe groot hul skade is, soos verlies aan vee, wild en weiding, maar ook in terme van skade aan infrastruktuur, soos gesmelte waterpype en heinings wat verbrand het.

SKENKINGS

Droogtehulp Namibië se me. Henriette Le Gange het gister aan Republikein gesê dit het oor die naweek in die Karasberge, by Stampriet, Koës asook in Witvlei gebrand, maar dat al die vure intussen geblus is.

“Die vure aan Suid-Afrika se kant in die Kalahari het nog nie die grens na Namibië oorgesteek nie,” het sy gesê.

Le Grange sê na raming het minstens 14 plase in die omgewing van die Karasberge afgebrand.

“Die nood daar is ongelooflik groot. Daar is van die plase waar die heinings heeltemal oorgespan sal moet word en pyplyne weer gelê sal moet word. Daar is ook ‘n behoefte aan veemedisyne, voer en gras,” het sy gesê.

Le Grange sê enigiemand kan skenkings deur Droogtehulp Namibië maak wat daarna by die regte menses al uitkom. Die fonds het ook toegang tot gratis vervoer vanaf bykans enige plek in die land.

Intussen het verskeie plaaslike instansies asook individue groot skenkings gemaak, met Suid-Afrika se mnr. Burre Burger wat boonop beloof het om R250 000 aan Droogtehulp Namibië te skenk.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!